Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groep Ivoorkus-studente volg US-kursus in Engels vir die sakewêreld Eerste niegraadmobiliteitsprogram vir Afrikastudente
Outeur: Marlo van Wyk
Gepubliseer: 01/06/2023

​'n Groep van 23 magisterstudente in Sakestudie van die Nasionale Politegniese Instituut Félix Houphouët Boigny (INP-HB) in Yamoussoukro, Ivoorkus, volg van 9 Mei tot 12 Junie 2023 'n kursus in Engels vir die sakewêreld by die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum.

 Dié samewerking tussen INP-HB en die US is die heel eerste niegraadmobiliteitsprogram vir Afrikastudente wat US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika aanbied.

 Engels word algemeen as die verkeerstaal van die moderne sakewêreld beskou. Die Taalsentrum se kursus beoog egter nie net om die studente se Engelsvaardigheid te verbeter nie, maar ook om hulle met kruiskulturele vaardighede toe te rus vir wanneer hulle die internasionale sakewêreld betree en met hulle eweknieë in ander wêrelddele sal moet kommunikeer.

 Dít volg nadat prof Leysseyni Bakayoko, direkteur van die ESCAE Bestuurskool by INP-HB, en die ambassade van Ivoorkus in Suid-Afrika onder leiding van Sy Eksellensie Sakaria Kone die US oor moontlike akademiese samewerking en uitruilprogramme genader het. Die doel is om die waarde van Engels as 'n professionele kommunikasiemiddel vir studente van die Ivoorkus te ontsluit.

 Die program pas goed in by die US se tema vir Afrikamaand, “Verbind aan Afrika". Die inisiatief toon hoe twee universiteite van Afrika kan saamwerk om die akademiese en beroepsvaardighede van studente op die vasteland te ontwikkel. Dit lê die grondslag vir verdere mobiliteitsgeleenthede tussen die US en ander hoëronderwysinstellings in Afrika. ​