Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Memorandum van verstandhouding sal tot goeie regering in Afrika bydra
Outeur: Stellenbosch University
Gepubliseer: 25/05/2023

​Die Afrika-unie (AU) se Teenkorrupsie-adviesraad (AUABAC), in samewerking met Duitsland se Internasionale Samewerkingsagentskap (GIZ) en die Universiteit Stellenbosch (US), het van 9-11 Mei 2023 ʼn werksessie in Arusha, Tanzanië oor die stigting van die Afrika-teenkorrupsienavorsingsnetwerk (AACRN) gehou.  

Die werksessie maak deel uit van ʼn memorandum van verstandhouding tussen die AUABAC en die US, wat teen die agtergrond van Agenda 2063, die AU se ontwikkelingsvisie vir die tydperk tot 2063, tot goeie regering in Afrika sal bydra.  

Die US is verteenwoordig deur prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, asook profs Pregala (Solosh) Pillay en Evangelos Mantzaris van die Teenkorrupsiesentrum vir Opvoeding en Navorsing. Prof Zwelinzima Ndevu, Direkteur van die Skool vir Openbare Leierskap, het die werksessie aanlyn bygewoon.

Deelnemers aan die werksessie het verteenwoordigers van navorsingsinstellings, konsortiums, nasionale teeenkorrupsie-agentskappe en teenkorrupsienetwerke ingesluit. Hulle het die totstandkoming en die modus operandi van die AACRN bespreek. Die gesprekke het gegaan oor die bestaande navorsing oor teenkorrupsie, identifikasie van die verband tussen navorsing en die stryd teen korrupsie en openbare beleidvorming, asook die identifikasie van kritiese programelemente vir die ontwikkeling van ʼn uitvoerbare navorsingsagenda.

Die totstandbrenging van die AACRN is formeel aan die einde van die werksessie aanvaar en dit sal gesetel wees in die Teenkorrupsiesentrum vir Opvoeding en Navorsing by die US, wat onder die vaandel van die Skool vir Openbare Leierskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe val.

Die Sentrum het ʼn geskiedenis van die opleiding van etlike doktorale kandidate regoor die vasteland, samewerking met nasionale en internasionale universiteite, asook die publikasie van meer as 50 artikels oor die onderwerp, met inbegrip van boeke waarvan sommige van Afrika se voorste akademici wat deel van die Netwerk uitmaak, mede-outeurs was.

In sy kommentaar op die stigting van die AACRN het Ndevu gesê: “Ons het netwerke soos die AACRN nodig sodat ons korrupsie in die samelewing kan beveg. Korrupsie kan ʼn verlammende uitwerking op die bestaan van individue hê en ons, as instellings wat tot leer, onderrig en navorsing toegewy is, kan positief tot vordering in die teenkorrupsiesektor bydra, asook tot die ontwikkeling van openbare beleide wat deursigtigheid en regverdigheid ten doel het."

Prof Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het gesê: “As ʼn Fakulteit wat tot die ontwikkeling van die ryk menslike potensiaal van die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse bevolking toegewy is, is dit belangrik om seker te maak dat ons openbare en private instellings deur integriteit en gelykheid gerig word. Ek glo ons wêreldklas-navorsingskundigheid in openbare beleid en die sakesektor sal die AACRN en die groter gemeenskap baat."