Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Beter lewe danksy deurbrake in biomediese wetenskappe
Outeur: Gerhard Walzl
Gepubliseer: 14/04/2023

ʼn Wêreldklas- biomediese navorsingsfasiliteit, die Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI), word vandeesweek deur die Universiteit Stellenbosch (US) bekend gestel. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick (13 April 2023), verduidelik Prof Gerhard Walzl, Hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, hoekom hierdie belegging van R1,2 miljard in biomediese wetenskappe belangrik is, asook wat dit vir Afrika sal beteken.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Belang van biomediese wetenskappe

Dokters, verpleegkundiges en ander gesondheidsorgwerkers word dikwels as die helde van gesondheidsorg beskou. En al speel hulle sonder enige twyfel ʼn deurslaggewende rol in die toepassing van behandeling op pasiënte (dikwels op ʼn onselfsugtige en dapper manier en onder moeilike omstandighede), gee hierdie paradigma nie rekenskap van die menigte wetenskaplikes wat duisende ure in laboratoriums deurbring om die navorsing te doen wat lei tot die ontwikkeling van elke pil, inspuiting of mediese toestel wat gebruik word om jou, die pasiënt, te behandel nie.

Om ʼn fietsry-metafoor te gebruik: As gesondheidsorgwerkers die fietsryers is, is biomediese wetenskap nie net die fietse waarop hulle ry nie, maar ook die pad, die padkaart, die konstruksiewerkers wat die pad gebou het en die stadsbeplanner wat dit ontwerp het.

Biomediese navorsing vorm al lankal die kern van ingrypende veranderings in die geneeskundepraktyk en lê ten grondslag van grondverskuiwende ontwikkelings.

Mens dink dadelik aan Sir Alex Fleming se amper vergete petribakkie wat tot die ontdekking van penisillien gelei het – die antibiotikum wat oor die afgelope agt dekades meer as 200 miljoen lewens gered het. Of die ontdekking van insulien en die daaropvolgende wetenskaplike ontwikkelings wat die massaproduksie van hierdie hormoon moontlik gemaak het en dit toeganklik gemaak het vir miljoene tipe 1-diabetespasiënte, wie se lewe andersins kortgeknip sou gewees het.

Meer onlangse ontwikkelings sluit in die ontwikkeling van 3D-gedrukte mediese toestelle wat ʼn omwenteling in sommige mediese velde teweeggebring het. Van die toepassings wat vandag gebruik word, sluit in 3D-gedrukte vel vir brandslagoffers; lugwegspalke vir longe; neuse en ore vir kankerpasiënte; hartkleppe; gewrigsinplantings; asook funksionele kunshande. Spontaan kloppende 3D-harte is ook eksperimenteel vir hase geproduseer. Sulke ontwikkelings kan in die toekoms spelbrekers vir die behandeling van lewensbedreigende toestande soos hartversaking wees.

Biomediese wetenskap het ten doel om antwoorde op mediese vrae te vind en verskaf stukke van die legkaart wat noodsaaklik was vir die vordering wat ons die afgelope eeu gesien het en wat drasties oor die afgelope paar dekades versnel het.

Daar is te veel toepassings van biomediese wetenskappe om almal op te noem. Alle voorkomende, diagnostiese, terapeutiese of behandelingmoniteringsintervensies is deur biomediese wetenskapprosesse gekanaliseer. Dit sluit in entstowwe, pynmedikasie, nuwe kankerbehandelings, voorbehoedmiddels, antibiotika, voedingsondersteuning, cholesterolverlagingsmiddels, hartversakingsmiddels, immuunonderdrukkingsmiddels, orgaanoorplantingsverwante middels en vele meer.

Biomediese wetenskap ín Afrika

Die internasionale kollig het gedurende die onlangse Covid-19-pandemie op biomediese wetenskap in Suid-Afrika geval toe genomiese oorsig – wat net hier op die Kaapse Vlakte gedoen is – Suid-Afrikaanse wetenskaplikes in staat gestel het om die Beta- en Omicron-variante van SARS-CoV-2 vinnig te identifiseer en die res van die wêreld oor dié bedreigings in te lig.

Covid-19 sal nie die laaste patogeen wees wat epidemies en pandemies veroorsaak nie. Soos duidelik gedurende die laaste epidemie geblyk het, belemmer aansienlike hindernisse die vinnige beskikbaarheid en deel van beskikbare genomiese data. Die Netwerk vir Genomiese Oorsig in Suid-Afrika (NGS-SA), wat tot stand gebring is deur prof Tulio de Oliveira, ʼn sleuttellid van die BMNI, maak die kombinasie van bykans intydse genomiese oorsigdata met ander epidemiologiese data moontlik om data vinnig te ontleed sodat openbare gesondheidsbeamptes en beleidmakers kan optree.

Duidelike kommunikasiekanale tussen wetenskaplikes en beleidmakers in Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld sal noodsaaklik wees vir vinnige reaksie, die formulering van openbare gesondheidsingrypings en die monitering van toekomstige pandemies om ʼn herhaling te voorkom van die verwoestende ekonomiese en openbare gesondheidsgevolge wat die Covid-19-pandemie gekenmerk het.  

Biomediese wetenskap vír Afrika

Afrika het sy eie gesondheidsuitdagings en moet sy eie oplossings vind wat die realiteite van Afrika in ag neem. Dit sluit in gebrekkige infrastruktuur soos vervoer- en koukettinguitdagings, bekostigbaarheid, siekteprofiele soos die groter voorkoms van aansteeklike siektes soos TB, malaria en MIV, asook die genetiese samestelling van die bevolking.

Die mees geskikte oplossings sal nie nagevors of toegepas word as bloot staatgemaak word op oplossings wat in ander gebiede op grond van húl realiteite ontwikkel word nie. Afrika moenie net ʼn ontvanger van biomediese tegnologie wees nie, maar moet ook oplossings bied. ʼn Belegging in biomediese navorsing wat ten doel het om die genetiese en biomolekulêre basis van siektes met ʼn spesifieke Afrika-fokus te verstaan, sal ʼn beduidende rol speel om hierdie doelwit te bereik.

Navorsers in Afrika het voorts veral op die gebied van aansteeklike siektes veel om aan die wêreld van biomediese wetenskappe te bied, omdat grondverskuiwende navorsing oor SARS-CoV-2, MIV en TB gedoen word. Die BMNI sal aansienlike menslike kapasiteitsontwikkeling moontlik maak deur die opleiding van die kontinent se beste studente en deur hulle aan omvattende nasionale en internasionale navorsingsnetwerke bloot te stel, wat 'n volgende generasie van suksesvolle wetenskaplikes sal voortbring.

Investering in biomediese wetenskap ín en vír Afrika

Teen die agtergrond van die talle mediese deurbrake wat ontelbare lewens gered het, is die US se belegging van R1,2 miljard in die BMNI van ontsaglike waarde vir Suid-Afrika en die res van Afrika.

Die meer as 500 wetenskaplikes van die BMNI doen navorsing wat tot ontdekkings lei wat die diagnose, voorkoming en behandeling verbeter van siektes wat die grootste bydrae tot morbiditeit en mortaliteit in Suid-Afrika en Afrika lewer.

Die BMNI bestaan uit etlike hipermoderne laboratoriums, met inbegrip van elektronmikroskopie-, proteomika-, mikrobiologie- en FACS-laboratoriums (vir fluoressensie-geaktiveerde selsortering); die grootste ten volle geoutomatiseerde biobewaarplek op die vasteland van Afrika; ʼn bio-informatikahub; asook ʼn eenheid vir kliniese navorsing. Dit huisves ook die SUNSkill-fasiliteit wat gevorderde chirurgiese opleiding aan plaaslike en internasionale spesialiste bied.

Die reusewaarde van die BMNI is selfs voor die voltooiing daarvan in 2023 erken en hoëprofiel-besoekers soos pres. Cyril Ramaphosa en die Direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, het die fasiliteit in 2022 besoek.

Die potensiaal van die fasiliteit is bevestig toe die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Seri), wat in die BMNI gesetel is, deur die WGO as ʼn vennoot van die eerste Tegnologie-oordraghub vir Covid bRNS-entstowwe gekies is.​

Die fiets en die fietsryer

Maar kom ons keer terug na die fietsry-metafoor: Net soos wat die fiets niks sonder ʼn gewillige en bekwame fietsryer sal beteken nie, sal die stewige grondslag wat biomediese wetenskappe bied niks beteken sonder die gesondheidsorgwerkers wat dit op pasiënte in nood toepas nie. ​