Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
n Rekordgetal van 650 internasionale studente het bymekaargekom om die semester as Matie-studente te begin
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 09/02/2023

​'n Rekordgetal internasionale studente het Maandag (6 Februarie 2023) 'n verwelkoming- en oriënteringsgeleentheid van Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) bygewoon voordat hulle semester as Matiestudente amptelik begin.

 Vanjaar se kohort van 650 studente kom onder meer van Frankryk, Duitsland, Switserland, België, Nederland, Swede, Noorweë, Slowenië en die Verenigde State. Die groep bestaan uit volgraadstudente én studente wat van korttermynmobiliteitsgeleenthede gebruik maak, waaronder Freemovers, uitruilstudente, studente van die Amerikaanse Instituut vir Buitelandse Studie sowel as van die SKEMA-bestuurskool in Frankryk.

 Robert Kotze, senior direkteur van US Internasionaal, sê dit is 'n fenomenale ervaring om 30 jaar van internasionalisering met die grootste groep tot nog toe te kan vier. “Dit maak my baie gelukkig om hierdie groot groep te sien. In my eerste groep in 1994 was daar maar 14 studente, hoofsaaklik van Nederland. Dit is goed om te sien hoeveel ons oor die jare gegroei het."

 Hy het die groep aangemoedig om tot US Internasionaal se internasionaliseringswerk by te dra deur moeite te doen om met plaaslike studente en die algemene gemeenskap te skakel. “My uitnodiging aan julle is om aktief aan die gemeenskapsprogramme deel te neem sodat julle ook die wyer Stellenbosse gemeenskap kan ervaar. Nóg belangriker is egter om moeite te doen om met die plaaslike studente te gesels sodat ook húlle in die klaskamer aan internasionalisering blootgestel kan word. So, leef in die oomblik en wees ontvanklik vir nuwe ervarings."

 Tim Walter, 'n student in Bedryfsadministrasie van die Universiteit van Münster in Duitsland, sê hy het gekies om by die US te kom studeer om 'n ander leefstyl te ervaar – die weer, die natuurskoon en die diverse mense van Kaapstad. Hy beplan ook om tyd in te ruim vir pret.

 Ook Maj Zemljic van die Universiteit van Ljubljana in Slowenië sien daarna uit om sy Bedryfsadministrasiestudie aan die US voort te sit. “Ek het gehoor Stellenbosch se onderrigmetode verskil van dié in Slowenië. Studente hier word uitgedaag om meer vrae te vra, self oor dinge na te dink en hulle eie navorsing te doen. Ek's opgewonde daaroor."

 Vir Stefan ten Voorde, 'n eerstejaarstudent in Voedselwetenskap aan Wageningen University & Research (WUR) in Nederland, was die Suid-Afrikaanse kultuur 'n groot trekpleister. “Stellenbosch is in alle opsigte 'n baie mooi en bevoorregte dorp, maar ek wil ook die kultuur in die res van die Kaap ervaar en dit dalk vergelyk met die tipe lewe wat ons in Europa lei. Ek merk reeds 'n verskil op in hoe hulpvaardig mense hier is en hoeveel hulle vir mekaar omgee vergeleke met waar ek vandaan kom."

Hy sê hy sal graag meer oor die Suid-Afrikaanse landboustelsel wil leer. “Net om te sien waar hulle trek in vergelyking met die Duitse landboustelsel, watter probleme hulle ondervind, en dalk ook hoe ek kan help."

Die US sal weer sy gebruiklike Matie Buddy-stelsel gebruik. Dié makkerstelsel wys plaaslike studente aan om hulle internasionale eweknieë by die Universiteit te help aanpas.

Vir Nare Ngwepe, 'n derdejaarstudent in Agri-ondernemingsbestuur, is dít sy tweede agtereenvolgende jaar as 'n Matie Buddy. Hy het sy hulp aangebied omdat dit hom 'n geleentheid gee om mense van ander kulture en lande te ontmoet, by hulle te leer, en sy interkulturele vaardighede te verbeter. “Deur met hulle om te gaan, hoop ek om myself vir die werksomgewing voor te berei waar ek met mense van verskillende rasse, omstandighede en kulture te doen sal kry. So, eintlik probeer ek myself teen 'n kultuurskok beskerm," sê hy.

 Hy sê sy pligte as 'n Maties Buddy sluit in om internasionale studente die kampus en ander besienswaardighede te wys.