Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-sentrum gedenk Wêreldvigsdag saam met gemeenskap
Outeur: Africa Centre for HIV/Aids Management
Gepubliseer: 23/11/2022

Die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur, wat onder die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) val, hou 'n gemeenskapsdag om Wêreldvigsdag op 1 Desember te gedenk. Die doel is om mense weer bewus te maak en hulle op te roep tot aksie teen MIV-stigma, geslagsgeweld en kindermishandeling.

Die tema is gekoppel aan die jaarlikse veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders in Suid-Afrika. Dit is ook in pas met vanjaar se wêreldwye Wêreldvigsdagtema, “Gelykmaking", wat die belangrikheid van die gelykmaking van ongelykhede uitlig, soos die voordurende oneweredige verspreiding van MIV-infeksies tussen vroue en mans – 64% van die mense met MIV in Suid-Afrika is vroue.

Hoewel aansienlike vordering gemaak is om die MIV/vigspandemie te bestuur, het vordering die afgelope paar jaar afgeneem. In 2021, byvoorbeeld, was daar 1,5 miljoen nuwe MIV-infeksies wêreldwyd – 'n miljoen infeksies meer as die 2020-doelwit van 500 000. Dit is 'n beduidende gaping wat duidelik illustreer waarom die bewusmaking van en bestuur van MIV en vigs steeds van kritiese belang is.

'n Gemeenskapsfokus

Soos enige globale uitdaging, is dit die beste om tuis te begin. Dit is waarom die Afrika-sentrum se span die Wêreldvigsdag-herdenking plaaslik gaan hou en onder meer die kunste gaan gebruik om bewustheid te verhoog. Personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) en hul gesinne, verteenwoordigers van gemeenskapsorganisasies, asook kinders en opvoeders van skole op Stellenbosch en omliggende gebiede word uitgenooi. Gaste sal die kans kry om te luister na die bekroonde prof. Azwihangwisi Mavhandu-Mudzusi van Unisa, wat haar insig sal deel oor “Zero MIV-infeksie: 'n Onmoontlike missie met huidige stigma en diskriminasie teen LGBTQI+-individue en mense met MIV".

Om die US-gemeenskap verder aan te moedig om hierdie Wêreldvigsdag oor familie en vriende te maak, sal dr. Munya Saruchera (senior lektor en waarnemende direkteur van die Afrika-sentrum), prof. Ingrid Woolard (EBW-dekaan), prof. Nico Koopman (viserektor vir Maatskaplike Impak, Transformasie & Personeel) en dr. Leslie van Rooi (senior direkteur vir Maatskaplike Impak en Transformasie) by die herdenking openbare MIV-toetse doen. MIV-toetsing sal ook beskikbaar wees vir ander gaste, sowel as toetse vir TB, diabetes en middelmisbruik.

Bestuur van MIV is meer as mediese behandeling

Die Afrika-sentrum dra daagliks by tot die geveg teen die pandemie deur middel van akademiese programme en navorsing oor die bestuur van MIV en vigs in die werksomgewing. Die sentrum bied drie nagraadse programme aan ('n nagraadse diploma, 'n MPhil en 'n PhD) wat 'n multidissiplinêre lens en waardevolle insigte in bestuurswetenskap verskaf. 

Saruchera verduidelik waarom hierdie programme noodsaaklik is om die pandemie teen te werk: “MIV en vigs behels nie net behandeling en fisiese gesondheid nie; dit gaan ook oor daaglikse menslikheid, waardigheid en gelykheid. Kwessies rondom stigma, geslagsongelykhede, seksualiteit en regverdigheid kom algemeen voor in die werksomgewing en in ons gemeenskappe."

Studente verwerf waardevolle vaardighede in kritiese ontleding en evaluering en kry dieper insig rondom kwessies soos die regsaspekte van die indiensneming van mense met MIV, die sosioekonomiese impak van MIV, migrasie en die skakel met armoede en MIV, MIV/vigsbeleidmaking, programontwerp en evaluering, asook maatskaplike verantwoordelikheid. Die programme is vir mense uit enige bedryf, nie net die mediese veld nie.

“Vorige studente sluit in menslikehulpbronbestuurders, predikers, onderwysers, administrateurs en direkteure," sê Saruchera. “Ongeag die rol en verantwoordelikhede in hul organisasie, kan studente die vaardighede wat hulle verwerf toepas om impak te hê. Hulle kry ook toegang tot 'n netwerk van mense uit verskillende professies, sektore en lande deur hulle klasmaats."

Die vaardighede is nie net relevant tot MIV/vigs nie – dit kan ook toegepas word in enige konteks wat strategiese menselikehulpbronbestuur en organisatoriese doeltreffendheid tydens 'n krisis vereis, soos Covid-19.

Net soos baie ander mediese behandelings, roetine-opvolgbesoeke en voorkomende inentings tot stilstand gekom het tydens Covid-19, is die bekendstelling van MIV- en vigsprogramme en toegang tot antiretrovirale terapie ook negatief beïnvloed. Die sosioekonomiese impak van die Covid-19-pandemie, soos die toename in werkloosheid en 'n tekort aan voedsel vir mense op behandeling, het dit selfs vererger.

Ons is wêreldwyd ver van MIV/vigsdoelwitte

Die afname van 31% in nuwe MIV-infeksies sedert 2010 lyk dalk indrukwekkend – en natuurlik is elke stappie vorentoe 'n stap in die regte rigting. Maar dit is nie naby die 75%-doelwit vir 2020 wat die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gestel het nie.

UNAIDS het in Desember 2020 nuwe ambisieuse doelwitte vir 2025 gestel, kortliks die 95-95-95-doelwitte. Die oogmerk is dat 95% van alle mense met MIV bewus sal wees van hul status, dat 95% van almal wat met die MIV-infeksie gediagnoseer is, antiretrovirale terapie (ART) sal ontvang en dat 95% van alle mense op ART virale onderdrukking sal hê. Virale onderdrukking beteken 'n viruslading wat laag genoeg is om te keer dat MIV-positiewe mense siek word of die virus oordra. Lidstate van die VN het die doelwitte in Junie 2021 aanvaar. Om dit te bereik gaan egter gefokusde optrede aan alle fronte vereis, van die vermindering van nuwe infeksies tot die oorbrugging van ongelyke behandelingdekking en uitkomste.

Aangesien baie van hierdie intervensies gekoppel is aan die werksomgewing, bly die werk van die Afrika-sentrum van kritiese belang. Saruchera sê: “Kwessies soos stigma en diskriminasie en die gevolglike uitdagings rondom geestesgesondheid word nie genees deur konvensionele mediese behandeling nie. Daarom is dit steeds nodig om aandag te gee aan MIV en vigs."

US se nuwe visuele identiteit is perfek in pas met die Afrika-sentrum se visie

Africa_Centre_2.jpgDie nuwe US-logo wat in 2021 bekendgestel is, merk die begin van 'n nuwe era van deurlopende wêreldklas akademici en die aspirasie om teen 2040 Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. Die logo-elemente verteenwoordig die warmte en dinamiek van die Afrika-kontinent en die verskeidenheid kulture en tale daarin saamgevat.

Die opdrag om die visuele identiteite van die interne fakulteite en departemente te rig op die nuwe US-logo, het die Afrika-sentrum gepas. Oor die jare het die sentrum al verskeie studente uit sub-Sahara-Afrika (en verder) verwelkom. Om navorsing oor die doeltreffende bestuur van MIV en vigs in die werksomgewing en gemeenskappe te doen en te deel, is een van die pilare van die sentrum se werk, met die doelwit om te ondersteun, te onderrig en voorspraak te doen. Die Afrika-sentrum is trots om die US se onmiskenbare wynrooi, wat die universiteit van mededingers onderskei, in hul naam te hê en om geassosieer te word met 'n verbintenis tot uitnemendheid in navorsing.