Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kan SA-universiteite broeikaste ‘tot voordeel van die samelewing’ wees?
Outeur: Aslam Fataar
Gepubliseer: 24/10/2022

Hoe kan universiteite in Suid-Afrika ʼn groter rol speel in die ontwikkeling van die samelewing? Dít is die kwessie wat prof Aslam Fataar (Departement Opvoedingsbeleidstudie / Transformasiekantoor) in ʼn onlangse meningsartikel vir University World News van naderby bekyk het.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Aslam Fataar*  

Die nalatenskap van universiteite se rol in die ontwikkeling van die samelewing is dubbelsinnig. Party redeneer universiteite het klaaglik misluk in die vervulling van hulle derde doelwit, of viervoudige helikstaak, om impak, ontwikkeling, innovasie en deelname in die samelewing te bevorder.

Die vraag is of universiteite se onderrig-, leer- en navorsingsinfrastruktuur 'n gewoner en direkter rol in die samelewing kan en moet speel. 

Ek hou die siening voor dat die Universiteit se kennisinfrastruktuur 'n uiters belangrike en vormende rol in die ontwikkeling van die plaaslike samelewing moet speel. Hierdie tipe rol is egter nie tans prominent in die Universiteit nie.

​Die Universiteit se rol in die ontwikkeling van die samelewing is kompleks, maar tog weerspieël dit 'n verarmde, of miskien 'n gekompromitteerde, opvoedkundige denkbeeld in die hart van sy identiteit.

Hoekom? Die afgelope 30 jaar het die Universiteit in 'n komplekse dier verander. Sommige lê dit voor die deur van sy kwalifikasiesgedrewe, burokratiese vorm wat skeppende, produktiewe vakkundigheid, geïnspireer deur akademiese outonomie en vakkundige integriteit, skade berokken het.

Ander wys die vinger na die opkoms van data, masjiene, kunsmatige intelligensie en digitale platforms wat die argitektoniese bestaansreg van die Universiteit vorm en daardeur 'n tegno-wetenskaplike logika op die kern van sy aktiwiteite en toesigkulture afdwing.

Kennis word op hierdie manier geïnstrumentaliseer in die diens van tegnologie; met ander woord, universiteitskennis is beperk tot die lewering van werkers vir die platform-ekonomie. Hierdie soort beperkte siening van kennis beïnvloed universiteite se vakkundige identiteit op so 'n manier dat dit hulle beslissende rol in die ontwikkeling van die samelewing versag.


Ten slotte …

Die Universiteit se verbintenis tot volhoubare planetêre toekomste in plaaslike gemeenskappe is steeds onderverken. Die vraag is hoe universiteite 'n planetêre volhoubare rol in die samelewing en hul plaaslike gemeenskappe sal kan speel.

​Hier sal die Universiteit uitgedaag word om deur diensleer, asook ander formele en informele kurrikulumprosesse, gespreksruimtes in die gemeenskap te skep en om gesamentlik die vereiste geletterdhede te skep om plaaslike volhoubare gemeenskapslewepraktyke te inspireer.

Die Universiteit sal dus sistematiese vennootskappe met plaaslike gemeenskappe moet sluit. Dit sal deur middel van gesprekprosesse en die insluiting van navorsingsgebaseerde kennis geskied ten einde gemeenskapsprobleme en aan te spreek en infrastrukture vir volhoubare ontwikkeling in die samelewing te ontwikkel.

Die talle huidige kleinskaalse en atomistiese universiteitsgebaseerde tipe groenlootprogramme in plaaslike gemeenskappe sal 'n konkrete grondslag bied om die Universiteit as 'n broeikas tot voordeel van die samelewing voor te stel. Sulke pogings moet sistemiese stukrag en fokus geniet en in die middel van die Universiteit se identiteit geplaas word. 

  • Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

Foto deur Stefan Els (Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking).

*Aslam Fataar is 'n professor in die Departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en tans 'n navorsing-en-ontwikkelingsprofessor verbonde aan die US se Transformasiekantoor. Hierdie meningsartikel is gegrond op 'n toespraak wat op 11 Oktober 2022 op 'n hoofsprekerpaneel by die derde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en die Wet by die US gelewer is.