Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dankie!
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 20/10/2022

"Ons Universiteit Stellenbosch-gemeenskap het weereens gewys dat ons 'n wêreldwye Matie-gemeenskap is wat omgee, en almal is bereid om daardie ekstra myl vir ons studente te loop. Baie dankie aan elke personeellid, aan ons alumni, die vriende van die Universiteit en aan ons studente wat geskenk het en aan die Universiteit se jaarlikse Skenkingsdag deelgeneem het. Saam maak ons 'n groot verskil."

Dit was die woorde van Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, na nog 'n suksesvolle Skenkingsdag wat onlangs op die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse plaasgevind het.

Skenkingsdag vorm deel van die Jaarfonds, Bridge the Gap, wat daarop gemik is om die struikelblokke wat Maties verhoed om 'n betekenisvolle studente-ervaring te geniet en daardie gesogte graad te behaal, uit die weg te ruim. Die Universiteit samel fondse vir verskeie inisiatiewe in onder die sambreel van Bridge the Gap. Dit sluit in #Move4Food, die Tygerberg Pantry-projek#Action4Inclusion#GradMe#Zim4ZimEnd Period Poverty#MatiesHaveDrive en Caught in the Middle.

Skenkingsdag-aktiwiteite het ingesluit 'n fliekmaraton by die pas-opgeknapte Neelsie-fliekkompleks, ʼn spin-a-ton, 'n tafeltennistoernooi, 'n boomversierkompetisie vir koshuise en PSO's, 'n kunsuitstalling en kunsverkoping en 'n Matie-wedloop. Ook deel van die aktiwiteite was die Fakulteitstrollie-uitdaging wat tydens verlede jaar se Skenkingsdag van stapel gestuur is toe die Dekane van AgriWetenskappe en Ingenieurswese, proffs Danie Brink en Wikus van Niekerk, fondse ingesamel het vir die Tygerberg Pantry-projek. Die doel van die Fakulteitstrollie-uitdaging is om nie-bederfbare kos, sanitêre produkte, toiletware en fondse vir studente in nood in te samel.

Vanjaar het agt fakulteite die uitdaging aangepak en daarin geslaag om meer as 15 000 nie-bederfbare voedselitems, sanitêre produkte en toiletware in te samel. "Daar was vanjaar strawwe mededinging tussen fakulteite, maar uiteindelik is ons Fakulteit AgriWetenskappe amptelik as ons 2022 Fakulteitstrollie-uitdaging wenner gekroon," het Viwe Benxa, BTG-ambassadeur, gesê.

"Dit was regtig 'n massiewe spanpoging binne ons Fakulteit. Almal – dosente, tegniese en ondersteuningspersoneel, assistente, studente en die dekaan van die fakulteit, het saamgespan en dinge laat gebeur," het AgriWetenskappe se Bongiwe Mhlongo bygevoeg.

Benxa het gesê meer as 100 skenkings is ook via die verskillende skenkingsplatforms ontvang. “Intussen is al die nie-bederfbare voedselitems, sanitêre produkte en toiletware reeds by die maatskaplike werkers se kantore in Stellenbosch en by Tygerberg afgelaai.

“Danksy al die Skenkingsdag-ondersteuners het ons kospakkies en toiletware om ons studente gedurende spitstye van nood – die laaste kwartaal van 2022 en die eerste kwartaal van 2023 – by te staan," het Benxa gesê.

Hy het bygevoeg: “Skenkingsdag 2022 is nou wel klaar maar daar is nog baie geleenthede om betrokke te raak. Oorweeg dit dalk om die koste van jou weeklikse koffie of wegneemetes aan enige van die BTG-prioriteite te skenk. Verjaar jy? Vra jou vriende om aan BTG te skenk in plaas van om 'n verjaardaggeskenk te koop. Wil jy fiks word? Trek aan daardie hardloopskoene, registreer 'n fondsinsamelingsblad op GivenGain en vra jou netwerk om 'n kilometer of twee te borg. Dit hang alles van jou af!"