Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele steungemeenskap vir onderwysers gaan van krag tot krag
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 12/09/2022

​Al hoe meer onderwysers en onderwysstudente benut die aanlyn platform TeacherCalm om hulle welstand as opvoeders te ondersteun. Personeellede en studente van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het dié platform in Mei vanjaar van stapel gestuur.   

Die US-dosent dr Elzahn Rinquest van die Fakulteit se Departement Opvoedingsbeleidstudie sê hulle het die virtuele ruimte geskep in reaksie op “die oorweldigende behoefte daaraan om die holistiese welstand van onderwysers plaaslik, nasionaal en wêreldwyd te ondersteun". 

Benewens maklike toegang tot 'n virtuele gemeenskap, het deelnemers ook gratis toegang tot 'n uitgebreide versameling akademiese navorsing en ander kennis- en terapeutiese hulpbronne. “Ons sosialemediaruimtes bied onderwysers multimediahulpbronne om hulle holistiese welwees te ondersteun, op 'n manier wat by hulle unieke ervarings en behoeftes pas," voeg Elzahn by. “Baie onderwysers self het ook al wenke en tegnieke vir geestes- en fisiese gesondheid bygedra."

​Boonop is die aanbod nie tot die kuberruimte beperk nie. Dit sluit ook wegbreek- en werksessies in kontakvorm in wat onderwysers na liggaam, siel en gees verkwik. Hiervoor het TeacherCalm kragte saamgesnoer met twee eksterne vennote, Impilo Consulting en Allhub Allied Health, 'n organisasie sonder winsoogmerk. Gedurende die wegbreek- en werksessies voorsien praktisyns van dié instansies opleiding en kundigheid op die gebied van kliniese sielkunde, arbeidsterapie en fisioterapie. 

Vul 'n leemte

“TeacherCalm is ons antwoord op die oorweldigende welstandsbehoeftes van onderwysers, waaroor daar al wyd navorsing gedoen is, en die gebrekkige voorsiening in daardie behoeftes deur sowel openbare as privaat instellings in Suid-Afrika," sê Elzahn. 

Benewens die gewone stresfaktore van die onderwysberoep, het die ongekende uitdagings van die afgelope twee jaar nog méér druk op opvoeders geplaas. “Die Covid-19-pandemie het ons wêreld omgekeer, ons benadering tot skoolonderwys ingrypend verander, en onderwysers as eersteliniewerkers geposisioneer," verduidelik sy. “Ál hierdie faktore maak dit al hoe dringender om die onderwyser se ervaring meer holisties te verstaan en te ondersteun." 

Die proeffase van die inisiatief konsentreer vanjaar op BEd-studente en US-alumni. “Studente leer van etiek, konflikbestuur, spanwerk, risikobestuur, en die waarde van gestruktureerde werk, en ontwikkel terselfdertyd 'n passie vir vrywilligerwerk as aktiewe burgers," verduidelik Elzahn. “Maar omdat dit aanlyn is, kan die inisiatief ook verder groei en na die res van die land uitbrei, en al hoe meer skole raak reeds betrokke." TeacherCalm lok ook deelnemers van vakrigtings soos die sosiologie, sielkunde, fisioterapie en voeding. 

Die toenemende reikwydte en aanlyn gemeenskap van TeacherCalm bied natuurlik ook verskeie geleenthede vir navorsing oor onderwysleierskap en -bestuur, beleidskwessies, skool- en klaskamerkultuur, en onderwyseridentiteite, sê Elzahn. Trouens, navorsing sal noodsaaklik wees om die inisiatief volhoubaar en relevant te hou. “Ons wil graag in voeling bly met ons gemeenskap deur voortgesette navorsing deur US-personeel en -studente." Daarom moedig sy navorsers aan om die geleenthede van TeacherCalm te ondersoek.

Ons is dit aan onderwysers verskuldig

Deelnemerterugvoer sedert die bekendstelling van TeacherCalm is besonder positief. Volgens Emma Swart, ondervoorsitter van die US se Opvoedkunde-studentekomitee, is die aanlyn onderwysergemeenskap 'n veilige en toeganklike manier vir elke onderwyser om as mens te groei en hulle beste self te wees, wat hulle ook toelaat om die beste moontlike opvoeders te wees. 

Skylar Taylor, BEd-vierdejaarstudent en hoof van TeacherCalm se studentevrywilligerspan, beaam dít: “Onderwysers ontwikkel ons toekomstige ingenieurs, presidente, vryheidsvegters, dokters en meer. Buite die klas moet hulle boonop rolmodelle, deernisvolle ouers en agente vir verandering wees. Ons is dit aan hulle verskuldig om hulle welstand te beskerm en te ondersteun." 

Aktiwiteite sedert die proeffase van die projek begin het, sluit die volgende in:

•      Die Teacher Connect-groep is op die platform geskep, en voorsien terapeutiese steun aan meer as 40 onderwysers. 

•      Agtien Opvoedkunde-studenteleiers het onlangs 'n holistiese welstandswegbreek by die Grail-sentrum op die Overbergse dorp Kleinmond bygewoon. Die terapeutiese geleentheid in kontakvorm is aangebied in samewerking met Allhub Allied Health, wie se fisioterapeut, natuurgeneser en arbeidsterapeut die program gefasiliteer het. 

•      TeacherCalm se Instagram-platform het reeds 232 volgelinge en bied gereelde plasings en leersame hulpbronne. 

•      Altesaam 245 US-studente in die module Sosiologie van die Opvoeding doen vrywilligerwerk om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel en noodsaaklike professionele onderrigvaardighede aan te leer.

​Om meer oor TeacherCalm uit te vind, e-pos erinquest@sun.ac.za.​