Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kayamandi in 'n happie
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 09/09/2022

Hierdie storie is in Tendani Tshauambea se eie woorde vertel.

Op 25 Augustus 2022 het Tendani Tshauambea, lid van die Senior Living Spaces (SLS) kluster en uittredende kluster-sameroeper, 'n voedsel-ervaring in Kayamandi gereël vir 'n groep plaaslike en internasionale studente.

“Die idee agter die kos-kermis was om studente bloot te stel aan die voedsel-kultuur van Xhosa-mense in die Wes-Kaap,"" sê Tshauambea.

Die internasionale studente was van die Universiteit van Warwick in die buitewyke van Coventry, Engeland, wat die afgelope vier weke vrywillige werk gedoen het by die Sekondêre Skole Makapula en Kayamandi as student-onderwysers. 'n Groep studente van die SLS kluster by Amazink Live het by hulle aangesluit – dit is 'n instelling in Kayamandi, bekend vir sy kleurvolle dekor, digkuns-sessies en smaaklike geregte. 

Die studente het 'n kort toer gekry van die Amazink restaurant, asook 'n ete. Tydens die maaltyd het, Zintle Nomavuka – voorhuis-bestuurder van Amazink – 'n kort uiteensetting gegee van die verskillende geregte wat hulle sou geniet.

“Toe Zintle vertel het dat afval die maagvoering van 'n skaap of bees is, het een of twee gesigte duidelik van uitdrukking verander," sê Tshauambea en lag.

Die kos-kermis het bestaan uit 'n proe-spyskaart van geregte wat gewoonlik deur swart Suid-Afrikaners geëet word. Dit is as individuele porsies bedien.

Elke bord het drie verskillende soorte vleis bevat wat die studente kon proe: ulusu (afval), umleqwa (padloop-hoender) sowel as amaqina (hoenderpote). Vir die vegetariërs is die vleis vervang met vars koolslaai en nog bykosse. Dit is bedien met 'n styselkeuse van dombolo (gestoomde brood), pap (stywe mieliemeel-pap) of samp (stampmielies). Om af te rond kon 'n bykos gekies word uit pampoen, geroomde spinasie of chakalaka, a salsa-agtige bykos," verduidelik hy.

Die studente het ook interessante lesse geleer tydens 'n storie-sessie gefokus op die padloper-hoender genaamd umleqwa in isiXhosa. 

“Die woord umleqwa kom van die woord 'leqwa', wat beteken om iets te jaag, soos jy moet doen wanneer jy 'n hoender wil vang.

“Die terugvoer van die studente was oorweldigend positief. Hulle het almal genoem hoeveel hulle die geregte geniet het – die afval ingesluit, waarvan almal darem minstens 'n happie geproe het! Shohina Ahmadbekova was een van dié wat die afval geniet het en beskryf die maaltyd wat sy by Amazink gehad het as die beste maaltyd wat sy geniet het tydens haar tyd in Suid-Afrika," voeg Tshauambea by.

Die hoenderpote, wat moeilik is om te eet maar baie smaaklik is, was die gewildste, en twee studente het daarvan bestel om huis toe te neem om later te geniet.

“Die proe-sessie beklemtoon die krag van kos om mense bymekaar te bring in 'n ruimte waar hulle kan verken, eet en die kultuur van Kayamandi kan geniet. In die woorde van Guy Fieri, is voedsel “miskien die enigste universele ding wat regtig die mag het almal byeen te bring. Afgesien van watter kultuur, oral in die wêreld eet mense saam." 

Volgens Noel Bekkers, ResEd Groepkoördineerder van die ….. kluster en Inwonende Hoof van …., lê die waarde van 'n proe-sessie in sy inherente potensiaal om 'almal byeen te bring' en om betrokkenheid te bevorder, nie net deur die kos wat individue eet nie, maar ook deur die stories agter die geregte. 

“Dit is hierdie tweede deel wat die revolusionêre potensiaal het om sosiale samehorigheid te bevorder in die gemeenskap van Stellenbosch," sê hy.

Hoewel hierdie geleentheid net voorsiening gemaak het vir tien studente is daar met toepaslike beplanning en koördinering plek om die proe-sessies uit te brei om meer studente in te sluit. Met Erfenismaand wat in September gevier word sal 'n geleentheid soos die proe-sessie 'n geskikte geleentheid bied vir studente om te verken, te eet en ''n happie van Kayamandi te geniet'.

Vir bystand met die reël van 'n voedsel-proesessie, kontak vir Elouise Van Wyk op 21868921@sun.ac.za. Vir meer inligting oor die verskillende spyskaart-opsies beskikbaar by Amazink, stuur e-pos na info@amazinklive.co.za