Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Soeke na Kunsmatige Intelligensie in Leuven
Outeur: Dr Jan Petrus Bosman | Image under license via Freepik.com
Gepubliseer: 07/09/2022

“We need to dream up what comes next and let our imaginations run wild, so that we begin to anticipate the various potentials of postdigital educational futures, rather than backing into them and hoping that we get it right" - David Kupferman1

Hierdie kragtige sentiment van David Kupferman is onderliggend aan die akademiese ondersoek wat Kunsmatige Intelligensie (KI) vir hoër onderwys ten breë en meer spesifiek Universiteit Stellenbosch (SU) en die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT), beteken. Die ondersoek het aan die einde van 2021, in die vorm van ʼn gesamentlike PhD-studie, aan die KU Leuven en SU met die tema: Academic advising analytics dashboards: Towards artificial intelligence for student success, begin. Ek hoop om deur hierdie studie kennis te bou oor hoe KI in die konteks van hoër onderwys daarna uitsien sodat ons as SLT en SU inderdaad kan “droom oor wat volgende aanbreek" en nie onkant betrap te word deur ontwikkelings van 4IR (Vierde Industriële Revolusie) tegnologieë nie.

JP1.pngJP2.png 

Met dit in gedagte, het ek die voorreg gehad om gedurende Mei tot Junie van hierdie jaar navorsing, gefokus op KI in hoër onderwys, by KU Leuven, België se mees innoverende en oudste universiteit, te doen. KU Leuven plaas groot fokus op KI navorsing (byvoorbeeld, Leuven.AI) en innovasie (byvoorbeeld, Technovation Hub) en kon ek met van die vernaamste denkers in die veld, by wyse van seminare, konferensies en netwerkgeleenthede, skouers stuur. As deel van my vooraf doktorale werk het ek die fondasies van KI deur ʼn universiteitskursus genaamd AI for Everyone, ontdek. Die kursus het ʼn algehele inleiding tot KI gebied deurdat die gratis aanlyn kursus genaamd Elements of AI daarby inkorporeer is tesame met ʼn gefokusde verdieping van hoe KI in verskillende velde soos Lettere en Sosiale Wetenskappe (in byvoorbeeld die skep van poësie), Gesondheidswetenskappe, Ekonomiese Wetenskappe, kubersekuriteit en leeranalises (ook bekend as onderrig en leer data-ontginning) om maar ʼn paar te noem, aangewend word. Die konsep van masjienleer in leeranalises en hoe dit aangewend word om studente te adviseer in hul akademiese reis tot sukses, is wat my die meeste interesseer, veral omdat dit ook met my studies belyn.

 JP3.pngJP4.png

In oomblikke wanneer ek toelaat dat “my verbeelding op hol raak", poog ek om die toekoms van akademiese advisering te visualiseer. Tans vind akademiese advisering gewoonlik van aangesig-tot-aangesig tussen student en adviseur plaas. Tegnologie, soos die instrumentepaneel (dashboard) van akademiese advisering analise wat ʼn student se akademiese reis kan visualiseer deurdat daar na sy/haar vorige digitale akademiese spore gekyk word, verbeter die ervaring. In my ervaring is dit nie te ver van realiteit verwyderd om ʼn idee-eksperiment, waarin KI-aangedrewe EduBots (opvoedkundige kletsbotte) akademiese adviesdienste 24/7/365 aan studente lewer wanneer en waar hulle dit benodig, aan te pak nie. Dit in gedagte het ek en my studieleiers gesamentlik ʼn referaat met die titel EduBots as academic advisers: A speculative social science fiction thought experiment geskep wat ek tydens die IRC 2022 konferensie gedurende Julie in Dortmund, Duitsland, aangebied het. By navraag aan die gehoor wie dink dat so outonome KI-bot “adviseur" ʼn werkbare idee is, het byna die helfte van die gehoor saamgestem. Natuurlik is die idee dat KI sisteme mense se werk kan oorneem ʼn baie toepaslike onderwerp. My navorsing motiveer my ook om erns met die etiese, wetlike, privaat- en sekuriteitsaspekte van KI sisteme vir hoër onderwys, te maak.

 JP5.pngJP6.png

Afgesien van die tyd wat ek aan die ontwikkeling van my navorsingsprojek spandeer het, het ek ook daarin geslaag om kontak met ander aspekte en spesialiteitsareas van hoër onderwys (soos studente-ondersteuningsisteme en hulle projek oor nuwe tegnologie in opvoedkunde) te maak en nuwe vriendskappe te smee. Laastens moet ek bieg dat ek ook daarin kon slaag om van die stapelvoedselgroepe van Belgiese gasvryheid, soos bier, wafels, aspersies en frit, kon geniet. Natuurlik kon ek ook die mistieke skoonheid van die stad Leuven bewonder!

 

Verwysing

1.D. W. Kupferman, “Educational Futures and Postdigital Science," Postdigital Sci. Educ., vol. 4, no. 2, pp. 216–223, 2022.​