Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ook by skool oor wetenskapdiplomasie in Venesië
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/09/2022

​Die Venesiese Internasionale Universiteit (VIU) het van 18 tot 24 Julie 2022 'n somerprogram oor wetenskapdiplomasie aangebied. Deelnemers het van oor die hele wêreld gekom, onder meer twee van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal, Simohn Engelbrecht en Thami Mohlobo.

Wetenskapdiplomasie is 'n nuwe vorm van diplomasie wat handel oor die gebruik van internasionale wetenskaplike samewerking om gemeenskaplike wêreldwye probleme op te los en konstruktiewe vennootskappe te bou. Op die terrein van internasionale betrekkinge en beleidvorming dien dit as 'n sambreelterm vir 'n wye verskeidenheid formele of informele tegniese, navorsingsgebaseerde, akademiese en ingenieursamewerkingsprojekte.  

“Ons het onder meer die grondbeginsels van wetenskapdiplomasie, die uitdagings van openbare mening oor natuurlike tegniese oplossings, afvalbestuursoplossings, voedselsekerheid, wêreldwye openbare gesondheid en risikobestuur bespreek," sê Simohn, projekkoördineerder van die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, wat in US Internasionaal geleë is. “Boonop het ons nagedink oor hoe voorbereid ons as wêreld is op pandemies. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat om veerkragtige en volhoubare internasionale en nasionale stelsels te bou, regerings, wetenskaplikes, die burgerlike samelewing en die privaat sektor móét saamwerk."

Thami, koördineerder van Internasionale Ondersteuning, voeg by: “In ons gesprekke oor Covid-19 en hoe die benadering tot die pandemie in ons onderskeie lande gekommunikeer is, is daar klem gelê op wetenskaplikes se plig om die publiek van empiriese inligting te voorsien."

Ook op die program was 'n uitstappie na MOSE, 'n eksperimentele projek wat bedoel is om die stad Venesië en die Venesiese meer teen oorstroming te beskerm. Die geïntegreerde stelsel bestaan uit rye mobiele hekke wat die Venesiese meer met hoogwater tydelik van die Adriatiese See kan afsny. “Die besoek aan MOSE het ons opnuut bewus gemaak van hoe regerings dikwels op tegniese oplossings moet staatmaak om omgewingsprobleme die hoof te bied," sê Thami.

Buite die formele program kon afgevaardigdes die 'Drywende Stad' behoorlik verken en hulle in tipiese Venesiese kos verlustig. “Tussen die formele sessies deur kon ek die kultuurryke stad deurkruis en lewenslange vriendskappe smee, almal van ons verenig in die doel om mense se lewens te verbeter en na ons pragtige dog brose wêreld om te sien," sê Simohn. “Dit was wonderlik en inspirerend."

Die besoek het ook Thami se verwagtinge oortref: “Ek het dit baie verrykend gevind, nie net in my professionele hoedanigheid op die gebied van internasionalisering nie, maar ook as 'n PhD-student in Politieke Wetenskap met 'n besondere belangstelling in openbare diplomasie en internasionale uitruilprogramme. Ek's bly dat ek ooreenkomste tussen wetenskap- en openbare diplomasie kon identifiseer. Ek hoop die ervaring sal my PhD-navorsing versterk, sowel as my vermoë om mobiliteitsvennootskappe by US Internasionaal uit te brei."

Hulle het ironies genoeg een nag weens 'n kragonderbreking in die donker deurgebring. “Dít het my laat besin oor die huidige beurtkragsituasie in Suid-Afrika," voeg Thami glimlaggend by.

* VIU is 'n konsortium van 20 universiteite wêreldwyd met 'n outonome kampus op die Venesiese eiland van San Servolo. Die konsortium wil gesamentlike akademiese, navorsings- en vermoëbouprogramme oor verskillende dissiplines, vastelande, tale en kulture heen ontwikkel. Die US is sedert 2019 'n VIU-lid.