Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Haar storie, op háár terme
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 02/09/2022

Soos ons terugkyk op Vrouemaand in Suid-Afrika, het dr Beryl Botman pas 'n reeks Vrouemaand-verpligtinge in Augustus nagekom waarin sy inligting gedeel het oor haar eerste nie-fiksieboek, With (-Out) You. Dit vertel die diep persoonlike verhaal van hoe sy die skielike afsterwe van haar man, die voormalige visekanselier en rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Russel Botman, moes verwerk.

Die boek karteer die verlies van Russel, ook haar vriend, vertroueling en grootste ondersteuner, in die eerste jaar sedert sy sterfte op 28 Junie 2014.

“Dit was baie moeilik om Russel te verloor," sê Botman, “maar ek het daarin geslaag om dit te hanteer deur ondersteuning in te roep waar ek dit nodig gehad het, en ook deur vir my sielkundige welstand te sorg."

Enkele maande ná Russel se sterfte het dr Botman in 2014 haar PhD aan die US voltooi en by die Universiteit van die Vrystaat aangesluit as 'n post-doktorale navorsingsgenoot by die destydse Instituut vir Geregtigheid en Versoening. Sy het aan verskeie skryfprojekte begin werk, en toe reeds aan ander ook begin dink wat sy wou aanpak.

“Russel en ek het altyd gesê wanneer ons aftree sal ons begin skryf, so ek het altyd geweet ek sou eendag begin skryf," sê Botman.

Russel se afsterwe het haar genoop om te begin skryf toe sy gevra is om 'n epiloog te verskaf wat by 'n huldeboek aan Russel ingesluit sou word. Vandag dien sy ook as die voorsitter van die Russel Botman-beursfonds, en op die komitee wat die Russel Botman-gedenklesing organiseer.

Botman se eie reis in die opvoedkunde- en hoëronderwyssektor het laat in die 1970's begin toe sy ingeskryf het vir 'n BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) nadat sy aan die Crestway-hoërskool in Retreat gematrikuleer het. As 'n vrou van kleur is sy slegs toegelaat om dié universiteit by te woon nadat sy 'n studiepermit verkry het. Sy het ook haar onderwysdiploma en 'n BEd-graad aan die UK voltooi.

Sy het vir 13 jaar as Afrikaans eerstetaal- en Engels tweedetaalonderwyser vir grade 8 tot 12 gewerk by Lavender Hill Senior Sekondêre Skool, en haar meestersgraad in Opvoedkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland deeltyds voltooi. Nadat sy in 1995 afgestudeer het, het Botman 'n senior kurrikulumadviseur vir Afrikaans in die destydse Worcesterdistrik van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) geword. Sy is later bevorder tot adjunk-hoofonderwysspesialis in dieselfde department, maar in 2004 het Botman besef sy het “ontnugter geraak" met haar beroep, en van die WKOD bedank.

Teen hierdie tyd het Russel toe as Viserektor: Onderrig en Leer aan die US gedien, en moes Botman haar PhD-studies in Waardes-opvoeding aan die US balanseer met haar rol as ma – wat nóg meer pligte moes aanneem om Russel toe te laat om uit te blink in 'n posisie wat so baie van sy tyd en moeite in beslag geneem het. In 2007 het Russel die eerste swart visekanselier en rektor van die US geword, wat selfs méér veeleisend was.

“Russel en ek het saam besluit dat, vir hom om vir die visekanselierspos aansoek te doen, die invloedrykste manier sou wees vir ons om sáám 'n verskil te kon maak, met my wat die meer ondersteunende rol en meer van die gesinsgerigte- en huishoudelike verantwoordelikhede sou oorneem, wat ons voorheen gedeel het. Ek was ook sy klankbord en met my agtergrond in opvoedkunde en kennis van die opvoedkunde-omgewing, was ek ook in staat om vir hom insette te gee wanneer nodig."

Botman het ook aangehou om op haar eie loopbaan te fokus – sy het 'n Wayne Ellis Coaching Academy franchise bestuur en deeltyds doseer in die Opvoedkundedepartement aan die US.

Drie jaar nadat hy as rektor gedien het, het Russel se visie vir die US in die HOOP-projek uitgeloop, wat volgens hom daardie tyd, die Universiteit moes beweeg van “sukses na betekenisvolheid om sodoende relevant te wees tot die mense van ons land en die kontinent". Die projek was gefokus op hoe die US kon bydra tot “die uitwis van armoede en verwante toestande, en bevordering van menswaardigheid en gesondheid, demokrasie en menseregte, vrede en sekerheid, asook 'n volhoubare omgewing en 'n kompeterende industrie".

Russel is egter in sy tweede termyn as rektor oorlede en het vier kinders, Roxanne, Ilse, Lizelle en Hayman, agtergelaat.

Jare later was dit Roxanne wat Michelle Obama se boek, Becoming, met haar ma sou deel, en die raad van Botman se vriend, gestremdheid- en vroueregteaktivis en Artscape se uitvoerendehoof, Marlene le Roux, wat haar geïnspireer het om haar eie boek te skryf oor liefde en verlies. With (-Out) You is die eerste van twee boeke wat sy wil publiseer oor die eerste vyf jaar sedert Russel se sterfte.

“Ek wou my ervaring nadat ek Russel verloor het, deel, so ek het vir myself gesê ek moes ten minste 1 000 woorde per dag skryf. Sommige dae was daar baie skryfwerk en ander dae weer niks. Maar dit was belangrik om te dokumenteer wat gebeur het ná Russel se dood. Ná sy dood het ek alles verbind aan daardie tydperk bymekaargemaak in 'n doos – al die kaartjies, notas en koerantuitknipsels het my skryfbronne geword.

“Hierdie proses het vir my perspektief verskaf en ek sien sommige dinge nou anders as toe, maar ek wou hê dit moes my vertelling van daardie tyd wees, en ek wou hê dit moes eg wees."

By nabetragting oor waar Suid-Afrikaanse vroue hulself bevind tydens Vrouemaand van 2022, is Botman duidelik oor die uitdagings, maar sy bly hoopvol.

“My gevoelens oor Vrouemaand is nogal ambivalent, en terwyl ek weet ons het al vordering gemaak om vroue se posisie in vandag se samelewing te bevorder, is daar nog baie uitdagings wat ons in die gesig staar. Ons sukkel steeds met salarisongelykhede tussen mans en vroue, ongelyke aanstellings en bevorderingsprosesse vir vroue, en dan natuurlik ook die addisionele struikelblokke wat vroue van kleur moet oorkom," sê Botman.

“Dit kan om hierdie redes voel ons maak nie vordering nie, maar as ons eerlik is, en ons besin oor die statistiek rakende die gelykheid van vroue in alle sfere van die samelewing, dan sien jy ons het gevorder. Dit was tot nog toe net baie, baie stadig."

Dis is juis as gevolg van die ongelykhede wat vroue reeds in die gesig staar buite die tuiste, dat Botman glo dit is noodsaaklik om 'n lewe of ander tipes verhoudings met individue te bou wat jou waarde raaksien en jou wil sien floreer en groei.

“Ek was altyd Russel se gelyke en hy het hoë agting gehad vir die waarde wat ek tot die verhouding toegevoeg het. Hy het altyd gegrap en gesê as hy my moes betaal, sou hy my nie kon bekostig nie," lag sy.

Dit is hierdie waardes wat so sentraal tot hulle lewe saam was, wat Botman hoop hulle ook geslaagd aan hul kinders oorgedra het, aangesien hul dogters steeds van dieselfde uitdagings in die gesig staar as baie vroue vóór hulle – van verontagsaming by die werk en in hul daaglikse lewe, tot om soos 'n bedreiging hanteer te word wanneer hul kwalifikasies meer gewig dra as dié van hul portuurs, en dat daar van hulle verwag word om onderdanig te wees om aanvaar te word.

“Die uitdagings hou nooit op nie, maak nie saak watter ouderdom jy is nie, en deur die blote feit dat jy 'n vrou is, moet jy gereed wees om die heeltyd daardie hindernisse te stoot."

Terwyl sy erken die lewe sonder Russel kan 'n stryd wees op dae wat sy graag haar daaglikse nuus met hom wil deel – soos met die onlangse publikasie van haar boek – is sy dankbaar dat sy die een was “wat 25 jaar met hom kon spandeer".

“Ek kan nie nou ontevrede wees dat ek sonder hom moet leef nie, want om sonder hom te leef beteken ek kon ook 'n lewe met hom deel vir 25 jaar. Ons het so 'n hegte verhouding gehad, ons het saam gewerk, saam pret gehad en saam gereis. Met terugskouing is ek dankbaar dat ek in 2004 uit my werk bedank het, want as ek dit nié gedoen het nie, sou ek nie die volgende sewe jaar saam met hom oor die wêreld heen kon reis nie; ek het geen berou oor enigiets nie."

Dr Botman's se boek, With (-Out) You, kan aangeskaf word by Amazon en Smashwords by https://linktr.ee/berylbotman. Dit sal binnekort by ander boekwinkels en op Takealot beskikbaar wees.