Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW se Prof Novel Chegou ontvang gesogte Royal Society Afrika-prys
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 24/08/2022

Prof Novel Chegou van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Departement Biomediese Wetenskappe is vanjaar se wenner van die Royal Society Afrika-prys. Hierdie gesogte toekenning is ʼn jaarlikse prys wat deur die Verenigde Koninkryk se nasionale wetenskap-akademie toegeken word om erkenning te gee aan die vernuwende bydrae van ʼn navorsingswetenskaplike van Afrika.

Chegou maak deel uit van die Universiteit Stellenbosch se Immunologie Navorsingsgroep (SU-IRG) in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika. Hy word vereer vir sy werk in die veld van pulmonêre en ekstrapulmonêre tuberkulose (TB).

“Dit is ʼn groot eer," sê Chegou, wie aan die hoof staan van een van SU-IRG se vyf onafhanklike laboratoriums. “Ons is toegewyd aan die tipe navorsing wat ons doen. Al wat ons wil doen is om by te dra tot die ontwikkeling van gereedskap om TB mee te beheer, as ons kan, en ook om studente op te lei en data te publiseer."

Hy voeg by: “Toekennings is nie juis bo aan ʼn mens se prioriteitslys nie, maar sodra mens iets ontvang soos die Royal Society Afrika-prys voel dit so goed. Dit stuur ʼn boodskap uit dat iemand daar buite sien wat jy doen, en hulle het waardering vir dit wat jy doen."

Chegou se werk verdien beslis erkenning. Hy is al betrokke by navorsing oor die immunologie van tuberkulose sedert hy met sy MSc-graad by die Universiteit Stellenbosch in 2006 begin het. Sy meestersgraad is oorgeskakel tot ʼn PhD.

“So te sê al my werk is daarop gemik om ʼn prototipe toets van die een of ander soort vir TB te ontwikkel," sê hy. “Party projekte is daarop gemik om biomerkers te ontdek of om biomerkers te evalueer sodat dit in toetse gebruik kan word om TB mee te diagnoseer of om die response op TB-behandeling te monitor."

Chegou se navorsingsvoorstel vir die Royal Society is daarop gemik om hierdie navorsing verder te neem, en hy beplan om te fokus op biomerkers om TB-meningitis in kinders te diagnoseer. “Dit is een van die moeilikste soort TBs om te diagnoseer," verduidelik hy.

“Om dit te diagnoseer het jy baie gevorderde toetse en duur gereedskap nodig, en dit is waarom kinders meestal na ʼn tersiêre hospitaal verwys word. Maar teen die tyd wat ʼn diagnose gemaak word sal, die meeste van hulle nooit weer normaal wees nie.

“Die vraag is: Kan ons TB-meningitis makliker diagnoseer met behulp van die biomerkers waarmee ons werk? Met hierdie toekenning wil ons die toetse verbeter wat ons tans besig is om te ontwikkel om kinders vroeër mee te diagnoseer.

“Dan hoef die kinders nie soveel as ses keer hospitaal toe te gaan voordat ʼn diagnose gemaak word nie. Dan kan mens moontlik van die neurologiese probleme vermei wat kinders ontwikkel weens gevorderde siekte as gevolg van ʼn vertraging in hulle diagnose – nie omdat daar nie behandeling is nie."

Chegou is oorspronklik van Kameroen en is aanvanklik opgelei as ʼn mediese laboratoriumassistent by die Universiteit van Buea. Hy het vroeg in sy loopbaan al ʼn indruk gemaak. Hy het ʼn toekenning ontvang van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie as die beste honneurs student in Suid-Afrika in die 2005 akademiese jaar.

In 2015 hy die Universiteit Stellenbosch se Rekorstoekenning ontvang vir Algemene Prestasie. In dieselfde jaar het hy ook die Jong Navorserstoekenning by die UNESCO-Merck Afrika Navorsingsbyeenkoms ontvang, en in 2019 het hy die Silwer Wetenskaplike Prestasietoekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ontvang.

Maar daar is geen twyfel dat die Royal Society Afrika-prys ʼn besondere eer is nie. Dit is gestig in 1660 en die Royal Society is die oudste wetenskaplike akademie wat voortdurend bestaan het en spog met genote soos Isaac Newton, Charles Darwin, Albert Einstein en Stephen Hawking.

“Ek is baie dankbaar vir die erkenning van ons werk deur die Royal Society," sê Chegou. Hy hoop dat hierdie toekenning meer bewustheid van hulle werk sal skep, en moontlik lei tot nuwe navorsingsamewerking en toegang tot ander geleenthede vir befondsing.

Sir Adrian Smith, President van die Royal Society, prys die werk van almal wat vanjaar erken word deur die toekenning: “Namens die Royal Society wens ek al die uitstekende navorsers, individue en spanne geluk wat bygedra het tot ons gesamentlike wetenskaplike poging en gehelp het om ons begrip van die wêreld rondom ons te verbreed.

“Die wetenskap was nog altyd ʼn spanspel, en ek is trots om so ʼn wye reeks vaardighede en spesialiteite te sien in vanjaar se medaljes en toekennings. Ek is trots daarop dat ons uitstekende wetenskaplike bydrae in al hulle vorms kan vier."