Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Merkwaardige nuwe kernmagnetiese resonans-instru-mente maak die US 'n leier in wetenskap-like navorsing
Outeur: E Els
Gepubliseer: 16/08/2022

​​Die Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF) se Kernmagnetiese Resonans (KMR)-fasiliteit by Universiteit Stellenbosch (US) is op 13 April heropen. Twee merkwaardige, unieke nuwe KMR-instrumente, vervaardig deur Bruker, ter waarde van byna R30 miljoen is by die fasiliteit gevoeg en is 'n rede vir groot opgewondenheid in chemie en wetenskap in die algemeen.


Links: Prof Wim de Villiers sny die lint by die heropening van die KMR-fasiliteit saam met dr Jaco Brand.


“Elkeen van hierdie instrumente het geen gelyke in die Wes-Kaap of nasionaal nie en plaas die US op die voorpunt van chemie en wetenskapnavorsing," het dr Jaco Brand (Bestuurder van die KMR-fasiliteit) gesê.

Verskeie aansoeke vir groot toerusting by die Nasionale Toerustingsfonds (NTF) was onsuksesvol. Gelukkig, met die ondersteuning van prof Gary Stevens (CAF Direkteur), prof Louise Warnich (Dekaan, Fakulteit Natuurwetenskappe), prof Eugene Cloete (US Adjunk Visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) en, aan die spits van die aansoeke sedert 2019 sowel as die aansoek by die Strategiese Fonds, prof Bert Klumperman saam met dr Brand, is die geld bymekaargemaak om die US die beste KMR-fasiliteit in die Wes-Kaap en Suid-Afrika te maak.

Prof Peter Mallon (US Hoof van die Departement Chemie) het gesê dat dit vanuit 'n chemie-perspektief wonderlik is om die nuwe KMR-instrumente te hê. "Die nuwe KMR-instrumente kan dinge doen waarvan ons tien jaar gelede nie eers kon droom nie," het prof Mallon gesê. “Daar is allerhande interessante eksperimentele benaderings wat nou moontlik is en dit sal bydra tot die Departement Chemie se navorsing en sal enigiemand bevoordeel wat navorsing in molekulêre wetenskappe doen."

Prof Stevens het saamgestem dat dit moeilik was om die befondsing vir hierdie toerusting te kry. Hy het gesê dit was 'n groot verligting om die befondsing te kry omdat die ou toerusting vir etlike jare nie meer ondersteun is nie. Hy het vir Prof Warnich bedank vir Fakulteit Natuurwetenskappe se bydrae tot die toerusting en vir die visie om navorsing by die fakulteit te ondersteun.

Prof Wim de Villiers (US Rektor en Visekanselier) het gesê dat die nuutbekendgestelde KMR-fasiliteit beslis sal bydra tot die US se visie om die voorste navorsingsuniversiteit in Afrika te wees. "Ons belê baie van ons hulpbronne om die beste mense te lok, maar die beste mense kan nie die werk doen as ons nie ook die hulpbronne en infrastruktuur het om hulle te ondersteun nie," het prof de Villiers gesê.

Gaste by die herbekendstellingseremonie het die geleentheid gehad om demonstrasies op die nuwe toerusting te sien. Onder leiding van dr Brand het prof de Villiers sy eerste 1H KMR-spektra op die 400MHz-instrument opgeneem.

Die nuwe Bruker 400MHz en die drie-kanaal 600MHz Avance NEO-instrumente sal nuwe nasionale KMR-vermoëns moontlik maak op die gebied van reaksiemonitering, proteïenstruktuur, gefluorineerde farmaseutiese middels en kommersiële voedselegtheid onder andere.

In 1968 is die eerste Suid-Afrikaanse 60 MHz KMR-spektrometer aangeskaf en in 1998 die eerste 600MHz. Mnr Hendrik Spies het die fasiliteit by die US in die vroeë 60MHz-dae bedryf om te wys wat KMR-spektroskopie kon doen. Die US het in 2002 die beste KMR-eenheid in Suid-Afrika gehad en prof Klaus Koch het vanweë hierdie fasiliteit by die US aangesluit. Onder hom en eenheidsbestuurders Spies, McKenzie en nou Brand het KMR-navorsing vir baie jare gefloreer, tot Koch se ontydige heengaan in Januarie 2022. Gedurende hierdie tydperk, in 2010, het Agilent egter die oorname van Varian aangekondig en kort daarna, in 2014, het hulle hul KMR-besigheid gesluit, en ondersteuning vir bestaande instrumente is vinnig uitfaseer. Op daardie stadium was die instrumente ongeveer 18-20 jaar oud en die nuus van Agilent/Varian was 'n groot bekommernis vir die fasiliteit in terme van operasionele ondersteuning. Vele aansoeke vir groot toerusting onder Koch en Klumperman saam met Brand by die Nasionale Toerustingsfonds was onsuksesvol. Wat gevolg het, was 'n spanpoging deur Stevens, Warnich, Cloete, Klumperman, Prof Willem van Otterlo (US Organiese Chemie​) en Brand wat befondsing direk van die US verkry het wat gelei het tot die aankoop van die twee moderne KMR-instrumente in 2022. Dit het die US weer aan die bopunt van nasionale KMR-navorsingsvermoëns geplaas.


Prof de Villiers, Prof Warnich en Prof Mallon by een van die nuwe instrumente, die Bruker Avance Neo 600 MHz.



Prof de Villiers plaas 'n monster in die nuwe 400MHz Avance Neo instrument.


Menthol 1H KMR-spektra aangeteken deur prof De Villiers.


Foto's deur Stefan Els