Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pasiënte en genomika-navorsing in Afrika baat by SAMNR se Vroeë Loopbaan-toekenning
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 05/08/2022

Professor Shahida Moosa, ʼn senior genetikus aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se Vroeë Loopbaan-toekenning ontvang.

Moosa is 'n internasionaal opgeleide klinikus-wetenskaplike en 'n senior mediese genetikus by Tygerberg-hospitaal. Sy kombineer haar kennis en vaardighede van kliniese genomika, bio-informatika, molekulêre biologie en molekulêre genomika, en lei die navorsingsgroep oor seldsame siektes in Suid-Afrika.

Nadat sy haar spesialisopleiding by Wits Universiteit voltooi het, het sy haar PhD van die Universiteit van Keulen, Duitsland (summa cum laude) verwerf, gevolg deur 'n na-doktorale genootskap by Harvard Mediese Skool en die Boston-kinderhospitaal. Sy is toegewy daaraan om genomika in Afrika te bevorder, en om hierdie tegnologieë te gebruik tot die voordeel van pasiënte met seldsame siektes in Afrika, veral diegene wat nog ongediagnoseerd is.

In 2021 het Moosa die eerste program wat met ongediagnoseerde siektes (UDP) te make het, in Afrika suid van die Sahara gestig. Die UDP is besig om pasiënte se lewens te verander, en bied unieke geleenthede vir kapasiteitsbou en opleiding vir die volgende generasie genomika-kundiges in Suider-Afrika.

Sy is tans 'n medeprofessor in mediese genetika, in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die FGGW, en 'n senior spesialis en mediese genetikus by Tygerberg-hospitaal.

Navorsing sal baat by toekenning

Haar navorsingsgroep (Groep vir Seldsame Siekte Genomika in Suid-Afrika) gebruik die nuutste in genomiese tegnologie om diagnoses vir individue en gesinne met ongediagnoseerde seldsame siektes te vind. Die toekenning sal hierdie navorsing ondersteun, spesifiek deur befondsing te verskaf vir die volgordebepaling, wat deur mense van Afrika, vir mense van Afrika, op eie bodem gedoen sal word.

Die toekenning is vir die bedrag van R500 000 per jaar vir drie jaar. Dit is die eerste groot nasionale toekenning wat sy ontvang het sedert sy die navorsingsgroep gestig het. Die navorsingsgroep het al voorheen aansoek gedoen vir talle toekennings en befondsing, net om meegedeel te word dat "genomika nie 'n prioriteit vir Afrika is nie". Hierdie befondsing sal die groep in staat stel om te demonstreer presies watter positiewe en transformerende impak genomika vir mense in Afrika met seldsame siektes kan hê.

"Ek is baie dankbaar en verheug dat die SAMNR my vir hierdie program gekies het. Die befondsing sal tot die voordeel wees van mense met seldsame siektes, en sal die bou van kritiese kapasiteit moontlik maak vir die wonderlike groep jong vroue wat deel is van hierdie navorsingsgroep," sê Moosa.

"Die toekenning maak ook voorsiening vir die verbetering van vaardighede en vir netwerkvorming buite die afdeling en buite die universiteit, wat deurslaggewend sal wees vir die bekendstelling van kliniese genomika aan Suider-Afrika."

 

Caption: Professor Shahida Moosa

Photo credit: Damien Schumann