Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Guy Midgley as president van die JRS Biodiversity Foundation verkies
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 27/06/2022

​Prof Guy Midgley is verkies as president van die JRS Biodiversity Foundation – 'n Amerikaanse stigting wat navorsing in biodiversiteitsinformatika in Suider-Afrika ondersteun.

Die stigting het tot stand gekom as gevolg van die werk van Jacob Richard Schramm, 'n Amerikaanse plantkundige en stigtersredakteur van Biological Abstracts, 'n wetenskapsinligtingsdiens wat aanvanklik in 1925 gestig is met 'n finansiële toekenning van die Rockefeller Foundation, en wat later  BIOSIS, 'n uitgewer sonder winsbejag geword het. Die opbrengs uit die verkoop van BIOSIS aan Thomson Reuters (toe Thompson Scientific), is aangewend om in 2007 die JRS Biodiversity Foundation te vestig, met finansiële bates wat tans op ongeveer US$50 miljoen staan.

Midgley, tussentydse direkteur van die Skool vir Klimaatstudies en professor in globale veranderingsbiologie in die Departement Plant- en Dierkunde, is in 2018 genooi om in die JRS se raad van trustees te dien. Hy het in die stigting se toekenningskomitee  gedien in die keuring en befondsing van bykans US$2 tot 3 miljoen per jaar in ses finansiële toekennings van verskillende bedrae. (sien https://jrsbiodiversity.org/our-grants/). Toe die Covid-pandemie se potensiële impak op bewaring en die wetenskaplike ondersteuningsbasis daarvan duidelik geword het, het Midgley gepleit vir 'n vinnige “reddingsboot"- toelaesiklus om bewaringsinstellings te help om kapasiteit te behou in kritieke biodiversiteitsinformatika-aktiwiteite  in beskermde gebiede in verskeie lande in Suider-Afrika. Met die steun van die raad vir hierdie voorstel, het die JRS vinnig beweeg  en gehelp om gapings te vul wat veroorsaak is deur die katastrofiese afname in toerisme-inkomste in die streek, wat gedreig het om navorsingsbefondsing vir beskermde gebiede te ondermyn.

Voor sy verkiesing as president, was Midgley die voorsitter van 'n komitee getaak met die hersiening van die stigting se mediumtermynstrategie, terwyl die raadlidmaatskap terselfdertyd getransformeer is ten einde Afrika-belange en -perspektiewe selfs beter te reflekteer: “Die raad is goed toegerus met visionêre en baie betrokke mense wat invloedryke instellings verteenwoordig, en hulle kundigheid  was deurslaggewend in die ontwikkeling van 'n bygewerkte strategie wat die volgende vyf of meer jare se toelaebeleggings sal rig," sê Midgley. 

Midgley sê die visie van die JRS Biodiversity Foundation is 'n wêreld waarin biodiversiteitskennis daadwerklik bydra tot die bewaring van die aarde se biodiversiteit tot voordeel van die samelewing: “Die stragtegiehersieningswerk het gefokus op hoe ons meer doelbewus hierdie visie kan nastreef deur die siklus van biodiversiteitsdata te verstaan:  vandat dit geskep is, tot die impak daarvan op beleid en aksies, en terug − om  meer gerigte pogings te rugsteun."

Die strategiehernuwingsproses het alreeds aanleiding gegee tot 'n nuwe  oproep vir voorstelle vir 2022 – sien https://jrsbiodiversity.org/how-to-apply/apply-for-a-grant/2022rfp/.

Foto: Stefan Els