Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Unesco-leerstoel aan US-navorsers toegeken
Outeur: Centre for Sustainability Transitions
Gepubliseer: 23/05/2022

​Die Unesco-leerstoel in Komplekse Sisteme en ʼn Transformerende Afrika-toekoms is toegeken aan twee navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) – mede-professor Rika Preiser en Tanja Hichert – wat altwee aan die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange​ (CST) verbonde is.  

Die Leerstoel, wat vir ʼn tydperk van vier jaar (Maart 2022 tot 2026) toegeken is, maak deel uit van die globale Unitwin/Unesco-leerstoelprogram. Hierdie program behels ʼn netwerk van meer as 850 instellings in 117 lande en bevorder internasionale samewerking en netwerkvorming tussen universiteite om institusionele vermoëns deur kennisdeling en samewerking te verbeter.

Die Unesco-leerstoel in Komplekse Sisteme en ʼn Transformerende Afrika-toekoms sal put uit die kundigheid van die twee mede-leerstoelhouers om in-diepte kennis van komplekse sisteme te integreer, gekombineer met die konseptuele en praktiese toepassings van toekomsstudie. Preiser spesialiseer in teorieë van komplekse sisteme en Hichert, ʼn navorsingsgenoot by die CTS, in die toepassing van toekomsstudie en toekomsinsig.

Die Leerstoel sal die kapasiteit ontwikkel om die aard van komplekse interafhanklike sosiaal-ekologiese sisteme, hoe verandering in sulke sisteme plaasvind en hoe om die toestande te skep vir ʼn ekologies volhoubare en sosiaal regverdige toekoms, te bestudeer en te ondersoek.

“As deel van Unesco se Global Futures Literacy Network sal die Leerstoel die teorieë en praktyke van 'gebruik-die-toekoms' ontwikkel en toepas deur navorsing te doen en interaksie met veelvuldige belanghebbers te fasiliteer wat die dringende behoefte sal aanpak om meer inklusiewe, kritiese en deelnemende prosesse te ontwikkel om studente, navorsers en besluitnemers byeen te bring en op te lei om die toekoms te oorweeg, daaroor te dink en daarvoor om te gee," het Hichert verduidelik.

Preiser het bygevoeg dat die Leerstoel ʼn streeksnaaf sal ontwikkel waar Afrika-kundiges met mekaar kan skakel en insigte met mekaar kan deel oor hoe om beter te reageer op die globale volhoubaarheidsuitdagings waarvoor ons vandag in die wêreld te staan kom.

“As ons meer standhoudende en regverdige veranderingsprosesse probeer skep, moet ons verstaan hoe die wêreld regtig werk.

“Ons wetenskaplike modelle en filosofie van komplekse sisteme kan ons help om nuwe maniere te visualiseer om te dink en verandering teweeg te bring wat die sistemiese aard van realiteit en hoe ons in die wêreld geplaas is, herken," het Preiser gesê.

“Interdissiplinêre interaksie met die prosesse van 'gebruik-die-toekoms' behels meer as bloot die doelwit om te verstaan hoe om vir potensiële krisisse voor te berei of te beplan hoe om groot uitdagings te bowe te kom. Dit verg vermoëns wat ons in staat stel om verby ʼn afhanklikheid op die illusie van sekerheid en die broosheid wat dit skep, te beweeg," het sy bygevoeg.

ʼn Unieke eienskap van hierdie Leerstoel is dat dit ʼn transdissiplinêre benadering bevorder deur teorie en praktyk te integreer dansky die aanwysing van mede-leerstoelhouers: een wat spesialiseer in teorieë van komplekse sisteme, die ander in die praktyk van toekomsstudie en toekomsinsig.  

Meer oor die mede-leerstoelhouers:

Preiser het haar PhD in Filosofie verwerf deur te ondersoek hoe die konseptuele ontwikkeling van kompleksiteit en ʼn dieper begrip van die eienskappe en dinamika van komplekse aanpassingstelsels kan lei tot ʼn meer geïntegreerde denkwyse om te verstaan wat dit beteken om ʼn mens in ʼn komplekse wêreld te wees. Sy was in 2009 saam met profs Paul Cilliers en Jannie Hofmeyr ʼn stigterslid van die Sentrum vir Komplekse Sisteme by die US. Hierdie Sentrum het met etlike ander navorsingsnawe saamgesmelt om die CST te vorm, waar sy permanent in diens is.

Tanja Hichert, ʼn CST-genoot, is ʼn akademies gekwalifiseerde, hoogs ervare toekoms- en toekomsinsigpraktisyn wat spesialiseer in scenariobeplanning, horisonskandering, strategiese toekomsinsig, risikobestuur en die fasilitering van strategiese gesprekke wat duidelikheid en rigting bied aan organisasies en instellings wat deur kompleksiteit en onsekerheid in die gesig gestaar word.  Sy het dwarsdeur haar loopbaan haar band met akademiese toekomsstudie behou en saam met CST-kollegas die ontwikkeling van innoverende metodologie gelei om visies van ʼn transformerende toekoms deur deelnemende scenariobeplanning te genereer. Sy is al langer as ʼn dekade deel van die ontwikkelende Toekomsgeletterdheid- en Antisipasiegemeenskap en het ʼn passie vir die uitbreiding en uitbou van die praktiese toepassing van toekomsstudie op die Afrika-kontinent.