Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-gegradueerde dra tot ontwikkeling van kleinhoewe-boere by
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 04/04/2022
Dr Obvious Mapiye is oortuig sy ervaring met diere- en gewasboerdery gedurende sy kinderjare op ʼn kleinhoewe het die grondslag vir sy huidige prestasies gelê, wat die voltooiing van sy doktorale studies en die konseptualisering van ʼn sagteware-oplossing om kleinhoewe-boerderystelsels te verbeter insluit.

Mapiye het ʼn PhD in AgriWetenskappe, met spesialisasie in Volhoubare Landbou, by die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtigheid ontvang. Sy PhD-studies het gelei tot die ontwikkeling van digitale adviserende sagteware bekend as die Lewende Hawe-bestuursdatabasisstelsel (LMDS). Hierdie stelsel is ontwerp om boere te help om ooreenkomstig hul spesifieke boerdery-aktiwiteite toegang tot datagedrewe landbou-inligting en -voorligting te bekom.  

Toegang tot dié stelsel kan van enige slimtoestel bekom word. Dit het aan Mayipe ʼn toepassingsgenootskap vir 2022 besorg van Innovus, ʼn afdeling van die US wat verantwoordelik is vir tegnologie-oordrag, ondernemersteun en -ontwikkeling, asook innovasie.

Hierdie genootskappe bied aan meesters- of PhD-studente wat onlangs gegradueer het of amper hul studies voltooi het, die geleentheid om die innovasie wat uit hul navorsing voortspruit te ontwikkel en te kommersialiseer. Die doelwitte van die program is tweeledig – om die wêreldklas-navorsing wat by die US gedoen word, toe te pas op innoverende produkte en dienste wat ʼn positiewe impak op die gemeenskap het; asook om onlangse graduandi te bemagtig om ʼn ondernemersloopbaan ná graduering te volg terwyl hulle ondernemer-, tegnologie-oordrag- en kommersialiseringsvaardighede ontwikkel.

Benewens dié genootskap het Mapiye se projek ook saaikapitaal van R690 000 losgeslaan van die Tegnologie-innovasie-agentskap (TIA), ʼn entiteit van die Departement Wetenskap en Innovasie (DWI), vir die kommersialisering van die LMDS. 

“Ek is baie opgewonde. Om met ʼn PhD by die US te gradueer beteken vir my so baie. Ek het ekstra moeite gedoen om die studie te voltooi en het baie uitdagings trotseer, waaronder ʼn gebrek aan finansiële steun aan die begin van die kursus en die Covid-19-beperkings, wat die veldaktiwiteite ontwrig het. Ek moes die vaardighede van tydsbestuur, selfdissipline en multitaakverrigting versigtig in die hele navorsingsproses ontwikkel," het Mapiye gesê.

ʼn Leerreis

Mapiye, wat van die Mhondoro Ngezi-boerderydistrik in Zimbabwe afkomstig is, sê sy grootwordjare het sy akademiese loopbaan geïnspireer.

“Ek was betrokke by die grootmaak van vee, hoenders en bokke en het gehelp om groente en graangewasse by die huis te kweek. Hierdie agtergrond het my passie vir die groei en ontwikkeling van kleinhoewe-boerderystelsels deur navorsing en innovasie gevoed. Ek het my loopbaan dienooreenkomstig beplan."

In 2005 het Mapiye ʼn Nasionale Diploma in Landbou van die Gwebi-kollege aan die Universiteit van Zimbabwe (UZ) verwerf. Ná twee jaar se werkervaring as ʼn kweekhuis-tamatieproduksiebestuurder het hy vir ʼn BSc in Landbou-ekonomie by UZ ingeskryf, wat hy in 2012 voltooi het. Daarna het hy by Fintrac Inc se Zimbabwe Agricultural Income and Employment Development-program (ZimAIED) aangesluit, waar sy kommer oor die volhoubaarheid van kleinhoewe-boerdery toegeneem het.

Volgens Mapiye het hy meer begin fokus op die ontwikkeling van oplossings wat boere kon help om hul produksie te verhoog en het hy in 2015 vir ʼn MSc in Volhoubare Landbou aan die US ingeskryf. Sy belangstelling in die ondersteuning van boere deur tegnologiese innovasie het meegebring dat hy by ʼn multidissiplinêre span van die Fakulteit AgriWetenskappe aangesluit het, bestaande uit prof Kennedy Dzama (Departement Dierewetenskappe, US), dr Annelin Molotsi (Departement Dierewetenskappe, US) en prof Godswill Makombe van die Universiteit van Pretoria se Gordon-instituut vir Sakewetenskap. Joubert de Wet, Innovus se tegnologie-oordragbestuurder wat die kommersialisering van die LMDS koördineer, voltooi die span. Die span fokus deur sy ontwikkelingswerk op die verbetering van die volhoubaarheid van kommersieel-georiënteerde kleinhoewe-veetelers in Suid-Afrika.

“Ek het besef dat die ontwikkeling en bekendstelling van innovasies soos die LMDS moontlik is. Die gebruik van sulke inligting-en-kommunikasietegnologieë (ITK's) sal ons in staat stel om ʼn omwenteling in bestaande voorligtingstelsels teweeg te bring deur hulle te help om tydige en geskikte adviesdienste te bied met die minimum onkoste wat aangegaan word," het hy gesê.

ʼn Gedeelte van die projek, wat daarop gefokus het om beesboere in Noordwes se persepsie van die nuttigheid van die LMDS te verstaan, het ook finansiering van die US se Afdeling Maatskaplike Impak en die Nasionale Navorsingsfonds se Thuthuka-program ontvang. Dit het Mapiye in staat gestel om sy veldwerk te voltooi.

Die toekoms

Mapiye bly op Stellenbosch aan om sy projek verder saam met Innovus te ontwikkel. Daar moet eers ʼn minimum lewensvatbare projek (MLP) van die LMDS ontwerp en in ʼn werklike lewensituasie getoets word voordat die stelsel gekommersialiseer kan word. ʼn Digitale tegnologie-ontwikkelingsmaatskappy is reeds geïdentifiseer om die sagteware van die LMDS te skep, het hy gesê.

Mapiye voorsien dat die LMDS boere se kennis oor hul spesifieke boerdery-aktiwiteite sal help verbreed en op hul vaardighede sal voortbou om hul produktiwiteit, mededingendheid en volhoubaarheid te verhoog. Die stelsel kan help om kleinhoewe-eienaars se lewende hawe-produksie te verhoog deur die meer geredelike beskikbaarheid van boerderydata en derhalwe toegang tot tydige en pasgemaakte inligting.

“Die ontplooiing van die LMDS sal ʼn geleentheid bied om die Suid-Afrikaanse landbou-voorligtingsmodel te transformeer van ʼn grootliks aanbod-gesentreerde stelsel tot ʼn aanvraag-gesentreerde en deelnemende stelsel. Boere se produktiwiteit en volhoubaarheid sal toeneem, en gevolglik ook werkskepping en voedselsekerheid vir die land en die streek," het Mapiye verduidelik.



Fotograaf: Stefan Els