Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe studie bespeur infeksies met Omicron ondanks derde dosis
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 19/01/2022

​ʼn Belangwekkende nuwe studie deur Suid-Afrikaanse en Duitse wetenskaplikes het die eerste bewyse wêreldwyd verskaf dat selfs drie entstofdosisse dalk nie voldoende is om infeksie met die Omicron-variant van die Sars-CoV-2-virus te verhoed nie.

Die studie getiteld “Deurbraak-infeksies met Omicron-variant van Sars-CoV-2 ondanks versterkingsdosis met mRNA-entstof" is vandag (Woensdag, 19 Januarie 2022) deur die gesaghebbende mediese joernaal The Lancet gepubliseer.

Omicron is die mees onlangse kommerwekkende Sars-CoV-2-variant. Die vermoë van dié variant om immuniteit te ontwyk (om infeksie selfs ondanks ʼn sekere mate van immuniteit te veroorsaak) is op grond van sy mutasiepatroon voorspel en is deur waarnemings van ʼn toenemende voorkoms van herinfeksies en deurbraakinfeksies bevestig.

Dit was die sneller vir beroepe om inentingsprogramme te verskerp, wat die verskaffing van versterkingsdosisse insluit.

Duitse besoekers

In hierdie studie deur ʼn groep wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US), die Ludwig Maximilians-Universiteit van München (Duitsland), die Universiteite van Wes-Kaapland en van Kaapstad, asook die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens, is sewe Duitse besoekers aan Kaapstad bestudeer wat drie dosisse entstof ontvang het, maar nog steeds einde November 2021 met die Omicron-variant besmet is.

Die groep het bestaan uit vyf vroue en twee mans, van wie vier by verskillende hospitale in Kaapstad gewerk het en die res met vakansie was. Hulle was lede van nie-verwante sosiale groepe en het ooreenkomstig toepaslike Covid-19-protokolle aan die gewone sosiale lewe in Kaapstad deelgeneem.

Al sewe van hulle was ten volle ingeënt. Vyf van hulle het twee Pfizer-dosisse ontvang en later ʼn Pfizer-versterkingsdosis, terwyl een twee Pfizer-dosisse en ʼn Moderna Spikevax-vesterkingsdosis ontvang het. Die sewende individu het ʼn AstraZeneca-dosis ontvang, opgevolg deur ʼn Pfizer-inenting en ʼn Pfizer-versterkingsdosis. Al sewe het hoë vlakke van spesifieke teenliggaampies gehad.

In ʼn tyd toe daar ʼn merkbare toename in infeksies in die Wes-Kaap was, het hierdie besoekers tussen 30 November en 2 Desember 2021 respiratoriese simptome begin ervaar en is hulle met Covid-19 gediagnoseer. Hulle was almal met die Omicron-variant besmet.

Volgens die outeurs van die studie is hulle in huisisolasie geplaas en het ʼn daaglikse simptoomdagboek gebruik om die verloop van die siekte oor 21 dae aan te teken. Al sewe van hulle het ligte of matige simptome (kortasem) ervaar. Hul bloedsuurstofvlakke was normaal en nie een van hulle moes in ʼn hospitaal opgeneem word nie.

Belang

Hierdie studie is die eerste ter wêreld wat deurbraakinfeksies met die Omicron-variant in ten volle ingeënte individue ná die ontvangs van versterkingsdosisse rapporteer en karakteriseer.

Versterkingsdosisse is tussen 21 en 37 weke ná die tweede inentingsdosisse toegedien en die deurbraak-infeksies het 22 tot 59 dae daarna plaasgevind.

Hierdie data bevestig onvoldoende beskerming teen Omicron-infeksie selfs nadat ʼn versterkingsdosis toegedien is. Maar ongeag die enkele gevalle in relatief jong en andersins gesonde individue wat bestudeer is, dui die ligte tot matige simptome wat ervaar is volgens die outeurs daarop dat volle inenting en ʼn versterkingsdosis steeds goeie beskerming bied teen ernstige siekte wat deur Omicron veroorsaak word.

Unieke geleentheid

Toeval het ʼn groot rol gespeel in hierdie belangwekkende studie, waarvan die voorafgedrukte weergawe binne sowat vyf weke 15 000 keer afgelaai is: Die mede-hoofouteur, een van die sewe Duitse besoekers (Constanze Kuhlmann van die Afdeling Hand-, Plastiese en Estetiese Chirurgie aan die Ludwig Maximilians-Universiteit van München), het die eindouteur (prof Wolfgang Preiser, Hoof van die Afdeling Mediese Virologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US) gekontak. Hulle het mekaar nie voorheen geken nie, maar Kuhlmann het ʼn onderhoud met Preiser oor die Omicron-variant gesien.

Preiser sê Suid-Afrika het ten tyde van die studie nog nie versterkingsinentings aangebied nie. “Derhalwe het die teenwoordigheid van hierdie groep besoekers uit Duitsland toe Suid-Afrika die eerste land geword het wat ʼn pandemiegolf beleef wat deur die Omicron-variant aangedryf is, ʼn unieke geleentheid gebied om hoogs relevante en broodnodige data te genereer oor die implikasies van die nuwe variant vir inenting.   

“Kliniese studies neem gewoonlik weke of langer om voor te berei. Om ʼn studie van een oomblik na die volgende te onderneem het vindingrykheid, innoverende denke en blitsvinnige handeling geverg om die pasiënte te werf, te reël vir die logistiek wat monsters betref en om laboratoriumtoetse te doen," voeg hy by.

“Louis Pasteur se slagspreuk dat geluk aan die kant van die voorbereides is, is opnuut korrek bewys: Net ʼn gevestigde, getoetste netwerk van samewerkende wetenskaplikes aan drie Kaapstadse universiteite, wat elkeen in ʼn verskillende aspek spesialiseer, het hierdie studie moontlik gemaak."

Die studie se bevindings ondersteun die behoefte aan die verdere ontwikkeling van entstowwe om beter beskerming teen infeksie met die Omicron-variant te bied en beklemtoon dat nie-farmaseutiese maatreëls voorlopig volgehou moet word. Dit is wel bemoedigend dat vroeë data uit Suid-Afrika daarna daarop gedui het dat die doeltreffendheid van die Pfizer-entstof teen hospitalisering stand hou, al verminder dit met tyd.

 

  • ​Hierdie studie is deur die Gesondheidnavorsingsetiekkomitees van die US en die Universiteit van Kaapstad goedgekeur en alle deelnemers het ingeligte toestemming verskaf.


Onderskrif: Prof Wolfgang Preiser

Foto-erkenning: Damien Schumann​