Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sewe FGGW-navorsers onder top 20 nadoktorale genote by US
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 13/01/2022

Sedert 2017 gee die Universiteit Stellenbosch (US) elke jaar toekennings aan die top 20 nadoktorale navorsingsgenote by die universiteit. Dit is ʼn enorme prestasie om deel van dié groep uit te maak, en in 2021 was sewe van die universiteit se top 20 nadoktorale genote van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die FGGW se sewe top genote is dr Caroline Beltran (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika), dr Haiko Schurz (Departement Biomediese Wetenskappe), dr Josu Gomez-Ezeiza (Departement Sportwetenskappe), dr Leigh Kotze (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika), dr Eyitayo Owolabi (Departement Globale Gesondheid), dr Teun Van Erp (Afdeling Ortopediese Chirurgie) en Dr Lovemore Kunorozva (Departement Sportwetenskappe).

Dr Palesa Mothapo, hoof van die US se Nadoktorale Navorsing-ondersteuningskantoor het gesê dat die FGGW navorsers uitgeblink het in ʼn hoogs kompeterende proses. Sy het gesê dat die konsep van die top 20 toekennings in 2017 ingestel is as ʼn inisiatief van professor Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie. Kriteria vir die seleksie van die top 20 sluit die uitsette van publikasies in tydens hulle nadoktorale tydperk by die US, asook gemeenskapsdiens, skakeling met die wetenskaplike gemeenskap, deelname in onderrig, toewyding tot hulle eie voortdurende opleiding asook die toekennings wat hulle ontvang het.

“Ons het baie nadoktorale genote van die FGGW en dit is dus hoogs kompeterend. Die ses wat dit tot in die top 20 gemaak het, was regtigwaar besonders en uitstaande," het Mothapo gesê.

Dr Caroline Beltran, ʼn molekulêre bioloog met ʼn belangstelling in sisteemgebaseerde benaderings vir immuun-profielsamestelling, se navorsing het sedert haar PhD gefokus op die veld van infeksiesiektes, en in besonder tuberkulose (TB), aangesien dit so ʼn hoë voorkoms in Suid-Afrika het. Haar nadoktorale navorsing het gefokus op die ontwikkeling van instrumente vir die opsporing van ʼn rare subpopulasie van Mycobacterium tuberculosis (die bakterieë wat TB veroorsaak). Dit is in ʼn kliniese proef (PREDICT TB) ondersoek en in die joernaal Frontiers in Cellular and Infection Microbiology gepubliseer.

Tans fokus haar navorsing op die ontwikkeling van gevorderde beeldingstegnieke om die driedimensionele modellering van TB-siekte te bewerkstellig.

Beltran het omvattende plaaslike en internasionale samewerkings en is ʼn prominente mede-outeur in ses hoë-impak- publikasies, insluitende Nature Medicine. In 2020 het sy die prestigeryke en hoogskompeterende Crick African Network Accelerator-toekenning ontvang wat deur die Francis Crick-instituut befonds word. Hierdie toekenning ondersteun 17 vroeë loopbaan navorsers van Afrika wat sterk wetenskaplike- en leierskappotensiaal getoon het.

Sy is ook toegewy aan onderrig, studente ontwikkeling en wetenskaplike skakeling, en is ook betrokke by die toesighouding van nagraadse studente, die opleiding van molekulêre biologie- tegnieke, die koördinering en onderrig van die honneurs nagraadse kursus, en sy dien ook op verskeie komitees binne die afdeling.

Die hooffokus van dr Haiko Schurz se navorsing was om die rol wat genetika speel in TB-vatbaarheid te ondersoek. Hy vergelyk die genetika van individue met TB met dié van individue sonder TB om te bepaal of genetiese variasies of patrone gekoppel kan word aan ʼn vatbaarheid vir TB of moontlik beskerming teen TB bied. Bo en behalwe dit, fokus hy ook spesifiek op die manlike partydigheid wat in TB voorkoms opgemerk word. Wêreldwyd ontwikkel mans sowat tweemaal meer TB as vroue, en hierdie manlike partydigheid kan nie suiwer toegeskryf word aan sosioëkonomiese-, gedrag- en kulturele omstandighede nie, dit spruit uit die effek wat geslagshormone (estrogeen vir vroue en testosteroon vir mans) op die immuunstelsel het. Manlike geslagshormone onderreguleer die immuunstelsel terwyl vroulike hormone dit oorreguleer, wat ʼn voordelig kan wees in die stryd teen TB-infeksie – alhoewel dit steeds bewys moet word.

Sodra Schurz befondsing ontvang vir sy werk, wil hy ondersoek instel om te bepaal hoe geslagshormone TB-vatbaarheid beïnvloed.

Huidiglik, en vir die volgende jaar, sal hy die genetiese komponente ondersoek wat bydra tot die manlike partydigheid, en om vas te stel of daar genetiese verskille is tussen mans en vroue wat verder kan bydra tot die partydigheid wat opgemerk is.

Dr Josu Gomez-Ezeiza se navorsing het gefokus op die ontwikkeling van die MaRooN Gesondheidspaspoort, wat daarop gemik is om na die gesondheid en welstand van personeel en studente op kampus om te sien. Personeel en studente word genooi om ʼn gesondheidspaspoort te voltooi deur ʼn primêre aanlyn siftingsvraelys in te vul wat vir die US ontwikkel is. Dit word gebruik as ʼn versamelingspunt vir self-gerapporteerde data van ʼn kombinasie digitale gesondheidsifting instrumente.

Die antwoorde van die aanlyn siftingsvraelys word geanaliseer om geoutomatiseerde individuele verslae saam te stel en aan te stuur, wat dan die Maties Risk of Non-Communicable Diseases (MaRooN) Gesondheidspaspoort skep. Mediese 'gevaarligte' wat verband hou met personeel of studente met huidige mediese toestande word aan Kampus Gesondheidsienste uitgewys sodat dit aangespreek kan word.

Gomez-Ezeiza, wie vir die Spaanse Olimpiese span gewerk voordat hy aan die einde van 2019 Suid-Afrika toe gekom het, het gesê dat die MaRoon Gesondheidspaspoort tussen April en Augustus 2021 by die universiteit uit gerol is, en dat daar meer as 3 000 mense deelgeneem het en 400 'gevaarligte' deur Kampus Gesondheidsdienste aangespreek is.

Hy en sy span het alreeds een artikel oor hierdie onderwerp gepubliseer en hulle werk tans aan nog ses artikels wat op die data gebaseer is wat onvang is deur middel van hierdie navorsingsplatform.

Gomez-Ezeiza het gesê dat gesondheidsbeleide vir die universiteit in die tweede been van hierdie projek ontwikkel sal word.

“Byvoorbeeld as ons sekere gesondheidsgevaarligte sien, kan ons ingrypings ontwikkel om dit aan te spreek," het hy gesê.

Gomez-Ezeiza het intussen oorgeskuif na die US se Skool vir Datawetenskap en werk tans in die veld van sportsontleeding.

As ʼn nadoktorale genoot vir die Immunologie Navorsingsgroep was dr Leigh Kotze se hoofdoelwit om ʼn driedimensionele in vitro-model te ontwikkel van menslike TB-granulomas (klein letsels wat in die longe voorkom nadat ʼn mens Mycobacterium tuberculosis opgedoen het). Die granuloom is belangrik aangesien dit help om TB in toom te hou en te verhoed dat dit na die res van die longe en liggaam versprei. Aangesien granulomas klein is en nie van ʼn lewende persoon se long verwyder kan word nie, is die beste manier om die funksie daarvan te ondersoek deur ʼn model te skep wat in die laboratorium bestudeer kan word. Kotze en haar toesighouer, mede-professor Nelita du Plessis, het granulomas bestudeer deur immuunselle van die longe (alveolêre makrofage) te besmet met Mycobacterium tuberculosis of met sy nie-infektiewe eweknie BCG, wat ʼn driedimensionele struktuur vorm deur middel van magnetiese kraletjies en ʼn magnetiese swewingsveld, voordat hulle ander immuunselle byvoeg wat belangrik is vir die formasie van die granuloom.

In hulle publikasie het hulle getoon dat hierdie driedimensionele modelle ʼn meer realistiese verteenwoording is van wat in die long gebeur in vergeleke met die tradisionele metode van sellulêre ondersoek. Kotze sal in 2022 oorsese geleenthede ondersoek in die veld van immunologie, maar hoop om steeds by te dra tot die veld van TB-navorsing, en om haar samewerking met Du Plessis en die Immunologie Navorsingsgroep voort te sit.

Dr Eyitayo Owolabi se navorsing strek oor verskeie openbare- en globale- gesondheidsonderwerpe, insluitende nie-oordraagbare siektes, MIV/vigs, reproduktiewe gesondheid, en ook globale chirurgie.

Haar onafhanklike en samewerkende navorsingsprojekte van die afgelope twee jaar het hoofsaaklik ondersoek ingestel na die hindernisse tot tydige toegang tot die sorg van chirurgiese toestande, insluitende beserings en borskanker, in omgewings met lae-hulpbronne in Suid-Afrika. Hierdie hindernisse is bekyk vanuit die perspektief van die individu, die gemeenskap, en die gesondheidsorgstelstel. Die studies het die beduidende rol uitgelig wat sosiale bepalers het op die individu se besluit om sorg uit te soek en betyds uit te reik na ʼn gesondheidsorgfasiliteit. Dit sluit faktore soos buurtmisdaad, bendegeweld, ʼn tekort aan vervoer, opvoeding, en persepsies oor gesondheid en die gehalte van gesondheidsorg in.

Aangesien diabetes die tweede grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika is, het Owolabi kwantitatiewe- sowel as kwalitatiewe-navorsingsprojekte onderneem wat gekyk het na die gehalte van diabetes sorg in omgewings met lae-hulpbronne in die Oos-Kaap, asook die kennis wat individue met diabetes het oor die komplikasies van diabetes, soos amputasie en die voorkoming daarvan.

Haar ander navorsingsaktiwiteite het ondersoek ingestel tot geslagsgebaseerde geweld en reproduktiewe gesondheid, en oorsigte van die potensiaal van tele-geneeskunde om die hindernisse tot chirurgiese sorg in ontwikkelende lande aan te spreek, asook die voorkoms van hipertensie en vetsug in Nigerië.

In 2022 sal sy gemeenskapsgebaseerde intervensies en opleidingsprogramme organiseer om ʼn paar van die kennisgapings aan te spreek wat sy in haar vorige navorsingsprojekte geïdentifiseer het. Sy sal ook meer navorsingsprojekte implementeer, aansoek doen vir vroeë-loopbaan toekennings, en meer geleenthede ondersoek vir samewerking.

In sy PhD met die titel “Lading, intensiteit en prestasie in professionele padfietsry" het dr Teun van Erp die vereistes van verskillende wedlope ondersoek op die prestasie van professionele fietsryers, en gekyk wat dit vereis om die professionele fietswedlope te wen. Van Erp het ʼn agtergrond in Fisioterapie en Menslike Bewegingskunde, en het as ʼn sportwetenskaplike gewerk vir die professionele fietsryspan Sunweb en sy voorganger in Nederland tussen 2011 en 2019, waartydens die span baie sukses behaal het met wedlope.

Gedurende sy tyd saam met die span, het hy baie oefeningsdata ingesamel van beide manlike en vroulike professionele fietsryers wat hy as deel van sy PhD geanaliseer het. Hy het ʼn liefde vir navorsing ontdek en by die US aangesluit om sy nadoktorale navorsing te doen.

Tydens die jaar en ʼn half wat hy aan die US verbonde was, het Van Erp hierdie groot datastel gebruik om navorsingsartikels te publiseer oor professionele fietsry, insluitend die vereistes van verskillende wedlope, en wat dit verg om ʼn professionele fietswedloop te wen.

Van Erp het ʼn paar maande gelede die universiteit verlaat en werk tans as ʼn sportwetenskaplike vir die wêreld se grootste fietsryspan, Ineos-Grenadiers.