Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aartsbiskop Desmond Tutu: 'n Klein man met 'n groot nalatenskap
Outeur: Nulda Beyers, Anneke Hesseling & Mariana Kruger
Gepubliseer: 26/12/2021

Vandag betreur ons die dood van ʼn reus. Ons vier ook ʼn lewe wat goed geleef is en wat toegewy was aan die diens van ander, insluitend om die skrille gelykheidsgapings in gesondheidsorg in Suid-Afrika, en die res van die wêreld, aan te spreek.

Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu was ʼn diep gelowige man wat sy lewe aan God, sy kerk, en arm gemeenskappe toegewy het. Sy uitgesproke opinies oor die skril ongelykhede in gesondheidsorg was gegrond op sy diepgaande geloof dat alle mense gelyk is en dat almal die reg het tot goeie en gelyke gesondheidsorg.

Toe ʼn span van die Desmond Tutu TB-sentrum hom ʼn ruk gelede in die hospitaal besoek het en hom oor sy gesondheid uitgevra het, het hy gesê dat dit goed gaan met hom en dat die dokters en verpleegsters mooi na hom omsien, maar dat hy diepbedroef was deur die gedagte dat hy sulke uitstekende sorg ontvang terwyl so baie ander Suid-Afrikaners steeds van sulke goeie sorg ontneem word. Hy was baie uitgesproke, en toepaslik so, oor die voortdurende ongelykhede in gesondheidsorg in Suid-Afrika, veral vir die kwesbaarstes, en veral kinders en families wat deur tuberkulose (TB) geraak word.

As ʼn jong kind het Aartsbiskop Tutu aan polio gely en brandwonde opgedoen. Sy naam, Mpilo, beteken inderwaarheid “gesondheid", omdat sy ouma gesê het dat die dood nie hierdie jong kind sal kom haal nie, en dat hy gesond sal wees. Hy het later as ʼn tiener self TB opgedoen, en hy het ʼn roerende artikel in The International Journal of Tuberculosis and Lung Disease (1) geskryf oor die uitstekende sorg wat hy in daardie moeilike tyd ontvang het. Hy het grapsgewys vertel hoe hy op een van die verpleegsters verlief geraak het. Terselfdertyd het hy ook besef dat al die mense in sy saal wat bloed opgehoes het, besig was om te sterf. Hy was vreesbevange toe hy ook eendag begin bloed ophoes het, en het vir God gesê: “God, as ek nou moet sterf is dit oukei, maar as jy my sal laat lewe sal dit ook oukei wees." In hierdie artikel het hy die belangrike vraag afgevra oor hoe ons met jong mense oor die dood praat.

Hierdie vroeë ervarings het waarskynlik sy besluit beïnvloed om onvoorwaardelike ondersteuning te bied aan die Desmond Tutu TB-sentrum van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, asook die Tygerberg Kinderhospitaal, met homself en sy vrou Leah Tutu as die gesamentlike beskermhere.

By verskeie gemeenskap- en voorspraakbyeenkomste het hy mense wat deur TB geraak is aangespoor om hulle behandeling te voltooi. Hy was ʼn toegewyde aktivis en het bewustheid geskep van die TB-epidemie in Suid-Afrika. Hy het gereeld gevra hoe dit moontlik is dat Suid-Afrika een van die lande is met die hoogste voorkoms van TB ter wêreld.

Aartsbiskop Tutu was ook in die voorhoede van bewusmakingsveldtogte oor kinder-TB, wat tot onlangs toe nog grootliks afgeskeep is, ten spyte van die dramatiese TB-verwante morbiditeit en sterftes onder kinders. Hy het persoonlik die toekenning aangekondig van die prestigeryke Stop TB Partnership Kochon-prys wat in 2012 aan die Desmond Tutu TB-sentrum toegeken is vir die sentrum se uitnemendheid in navorsing wat fokus op kinders wat deur TB geraak is. (2)

Aartsbiskop en Leah Tutu was aktief betrokke by fondswerwing vir kinders wat sorg ontvang by die Tygerberg-kinderhospitaal. Hulle het verskeie kere besoek afgelê by kinders in die hospitaal waar hulle met die kinders en hul ouers gesels het, stories voorgelees het, en liefde en vreugde aan almal gebring het. Tydens een so ʼn besoek het ʼn jong blinde seun gevra of hy die Vader kon “sien" deur die Aartsbiskop se gesig te voel. Die Aartsbiskop het gesê: “Ja my seun". Die seun het die Vader se gesig gevoel en gesê: “Vader jy het ʼn groot neus!". En natuurlik het die Aartsbiskop gelag in sy kenmerklike giggel.

Aartsbiskop Tutu wou ʼn mediese dokter geword het, en ten spyte daarvan dat hy as tiener met TB gehospitaliseer is, het hy steeds matriek geslaag en was aanvaar vir mediese studies, maar hy het nie die nodige fondse gehad nie. Wie weet waar hierdie rigting hom sou geneem het? Die rigting wat hy wel ingeslaan het, het ʼn dramatiese impak gehad op ons geliefde, maar onrustige land, Suid-Afrika, asook die res van die wêreld.

Die pers orgidee is in sy eer gekweek (Cattlianthe Archbishop Desmond and Leah Tutu, Plantae Orchids). Hierdie hibriede herinner ons daaraan dat pers die kleur is van Advent en die Vastyd. Pers is ook die eerste kleur in die reënboog en herinner ons daaraan om aan te hou werk aan ons droom vir ʼn Reënboognasie te realiseer. Laastens herinner die pers orgidee ons aan September 1989 toe vreedsame protesaksie in Kaapstad opgebreek is deur ʼn waterkanon met pers kleursel, wat die slagspreuk begin inspireer het “die pers sal regeer". Die persreën-optog was opgevolg deur ʼn enorme Vreedsame optog op 13 September 1989, wat deur die Aartsbiskop en ander geloofsfigure gelei is.

Vandag, terwyl die vierde Covid-golf in Suid-Afrika woed, het ons baie om voor dankbaar te wees.

Ongelukkig is TB steeds een van die voorste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, en word aangevuur deur MIV en armoede. Gesondheidsongelykhede duur steeds voort. As trotse Suid-Afrikaners bring ons nederig hulde aan ons geliefde beskermheer.

Die Aartsbiskop se liefde, sy baie boodskappe van hoop en aansporing, en sy opregte ootmoedigheid sal ons altyd bybly.

 

Meer oor die outeurs

Nulda Beyers – Stigtersdirekteur, Desmond Tutu TB-sentrum

Anneke Hesseling - Direkteur, Desmond Tutu TB-sentrum

Mariana Kruger – Uitvoerende Hoof, Departement Pediatrie en Kindergesondheid, Universiteit Stellenbosch en Tygerberg-kinderhospitaal

Foto-erkenning: Stefan Els


Verwysings

Is there life after TB? Reflections of one who knows. Tutu D. Int J Tuberc Lung Dis. 2003 Mar;7(3):204

Kochon Prize award: https://www.tbonline.info/posts/2012/11/14/desmond-tutu-tb-centre-receives-stop-tb-partnershi/ ​