Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Globale ‘dialooggeleentheid’ gaan wêreldleiers byeenbring om anti-korrupsie- en integriteitspogings in Afrika te koördineer
Outeur: Faculty of Law / Fakulteit Regsgeleerdheid
Gepubliseer: 21/12/2021

Die vestiging van ʼn streeksentum van uitnemendheid in integriteit, menseregte en die reg op konflik gaan die stukrag wees vir ʼn voorgenome globale dialooggeleentheid wat ten doel sal hê om wêreldleiers by anti-korrupsie, integriteit en die oppergesag van die reg in Afrika te betrek.    

Die Stellenbosch-Dialoog, wat geïnspireer is deur die formaat en reikwydte van die Manama Dialogue in Bahrein wat elke jaar deur wêreldleiers bygewoon word, gaan Afrika se voorste jaarlikse globale beraad wees.  

Die Pavocat Stellenbosch Academy (PSA), ʼn samewerkende alliansie tussen die Fakulteit Regsgeleerdheid van die Universiteit Stellenbosch (US) op Stellenbosch en die Pavocat-groep, ʼn internasionale onderneming met kundigheid in alle aspekte van anti-korrupsie en internasionale humanitêre reg, gaan aan die spits van die Stellenbosch-Dialoog staan. Dit gaan in 2024 van stapel gestuur word en sal deel uitmaak van ʼn reeks intervensies wat oor die kontinent heen onder beskerming van Pavocat se Suid-Afrikaanse Streeksentrum van Uitnemendheid in werking gestel gaan word. Die US sal die Dialoog aktief deur die PSA ondersteun.  

Prof Geo Quinot, professor in publiekreg aan die US en ʼn raadslid van die PSA, sê hierdie inisiatief sal ten doel hê om minstens vier van die tien kritieke aksies van die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 aan te pak, naamlik anti-korrupsie, ekonomiese groei, onderwys en die vermindering van misdaad.

“Die Stellenbosch-Dialoog sal die vlagskip-geleentheid van die PSA wees en sal Suid-Afrika aan die voorpunt plaas van pogings om anti-korrupsie, menseregte en die reg op konflik te verbeter, waardeur die land se internasionale reputasie versterk sal word. Met die tema “Verbetering van Integriteit, Goeie Regering en die Oppergesag van die Reg in Afrika", sal die Stellenbosch-Dialoog daarna streef om die kontinent se toonaangewende beraad in die stryd teen korrupsie in Afrika te wees."

Quinot voeg by dat ofskoon daar baie gesprekke en inisiatiewe is om korrupsie aan te pak en integriteit in Suid-Afrika en elders op ons kontinent te verhoog, is daar baie min koördinasie tussen hierdie pogings en gevolglik min sukses.

“Die Dialoog het derhalwe eerstens ten doel om ʼn platform te skep vir koördinasie op die hoogste vlak en tweedens om voortspruitende inisiatiewe op ʼn gekoördineerde manier te ondersteun. Op ʼn praktiese vlak beteken dit byvoorbeeld om kapasiteit te bou deur toegewyde opleidingsgeleenthede vir ondersoekers, vervolgers, interne ouditeurs, voldoeningsbeamptes en ander rolspelers wat ʼn deurslaggewende rol in die suksesvolle inwerkingstelling van anti-korrupsie- en integriteitsprogramme speel. As deel van hierdie breë inisiatief van die Sentrum, sal veral die PSA relevante, gefokusde en hoogs praktiese kortkursusse ontwikkel vir beroepslui wat op die gebied van anti-korrupsie, konflikwette en verwante regsvelde praktiseer. Die kursusse sal ten doel hê om korrupsie te help bestry en voldoening aan die reg op konflik wêreldwyd te bevorder. Die PSA sal ook die moontlikhede, gepaste benaderings en metodologieë ontleed om navorsing en tegniese bystand op daardie gebiede te verskaf."

Die Streeksentrum van Uitnemendheid put uit die kundigheid van ʼn toenemende aantal kenners op hul vakgebiede, insluitende vooraanstaande regsgeleerdes, voorste akademici en ervare opleiers. Dit sluit in proff Thuli Madonsela, Geo Quinot, Sope Williams-Elegbe en Sam Tshehla van die US; Lee Marler, James Stuart en James Johnstone van Pavocat, asook hoëprofiel-kenners soos lord George Robertson, voormalige Sekretaris-generaal van Nato; Akere T Muna, voormalige Adjunk-president van Transparency International en dr Edward Hoseah, voormalige voorsitter van die AU se Raad oor Korrupsie.  

Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-kanselier van die US, sê: “Die Stellenbosch-Dialoog gee gestalte aan die US se visie om aan die voorpunt te wees van pogings om ons gemeenskap se grootste uitdagings op navorsingsintensiewe, samewerkende en inklusiewe wyses aan te pak. Ons glo ons kan op hierdie manier ʼn betekenisvolle bydrae lewer om die vlak van integriteit op ons kontinent te verhoog en só ontwikkeling versnel."

Regter Edwin Cameron, Kanselier van die US, het ook sy steun vir die inisiatief uitgespreek: “Daar is tans min groter hindernisse vir ontwikkeling in ons land as korrupsie en swak bestuur. Ons het almal ʼn dringende behoefte aan sterk leierskap en vernuwing om hierdie uitdagings aan te pak en die US hoop om sodanige pogings deur die Stellenbosch-Dialoog te beklemtoon en te koördineer," sê hy.