Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale navorsingsprojek hou ligte by skole aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 16/12/2021


Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn PhD aan Jason Avron Samuels toegeken vir sy fenomenale navorsing, wat groot elektrisiteitsbesparings by skole in Stellenbosch en die Paarl, en die vestiging van ʼn afwentelmaatskappy, GreenX Engineering (GE), bewerkstellig het.

Samuels kom van Cloetesville in Stellenbosch en het vandeesweek (Woensdag 15 Desember) sy doktorsgraad in elektriese ingenieurswese by ʼn fisiese gradeplegtigheid in die US Konservatorium in Stellenbosch ontvang.

Samuels, wat ook die besturende direkteur van GreenX Engineering is, het vroeër vanjaar heelwat media-aandag ontvang nadat GreenX die Laerskool Cloetesville in Stellenbosch met energiebesparende tegnologie toegerus het, wat daartoe gelei het dat dit die eerste skool in Suid-Afrika was om ʼn Elektriese Prestasiesertifikaat (EPC) te ontvang. Die skool het ʼn A-gradering vir elektriese verbruik van 17 kWh per m² gekry.

Om ʼn entrepreneur en ʼn PhD-graduandus te wees, is vir Samuels ʼn besondere prestasie. Hy het die afgelope drie jaar onvermoeid gewerk aan sy navorsingsprojek getiteld “Electrical energy in schools with a focus on behavioural and efficiency interventions" (Elektriese energie in skole met ʼn fokus op gedrags- en rendement-intervensies).

 “Met hierdie PhD het ek my reis van tien jaar by Stellenbosch afgesluit, wat begin het met my voorgraadse studies in 2011. Dit voel wonderlik om te gradueer! Dit is ook ʼn goeie tyd om diegene wat my langs die pad gehelp het, te vier," sê hy.

Die idee vir die navorsingsonderwerp het gekom van die US se prof Thinus Booysen, ʼn professor in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, wat Samuels aangemoedig het om navorsing oor energieverbruik by skole te doen. Samuels se promotors was prof​ Booysen en prof Saartjie Grobbelaar, ʼn medeprofessor in die Departement Bedryfsingenieurswese.

Samuels, Booysen en Grobbelaar het GreenX Engineering gevestig met die hulp van Innovus, ʼn afdeling van die US wat vir tegnologie-oordrag, entrepreneursteun en -ontwikkeling, en innovasie verantwoordelik is. Booysen en Grobbelaar is albei nie-uitvoerende direkteure van GreenX Engineering.

Samuels se navorsingsonderwerp stem ooreen met sy doel om mense te help en om ʼn impak op gemeenskappe te hê; veral skole met beperkte finansiële hulpbronne.

In die loop van sy navorsing het hy besef dat baie skole te doen het met infrastruktuur- en hulpbronbeperkings en begrotingsdruk, wat die behoefte skep vir skole om hulle elektrisiteitsverbruik te verminder, geld te spaar en terselfdertyd meer in lyn met doeltreffende groen tegnologie te kom.

Sy navorsing het daarin geslaag om juis dit te bewerkstellig. Deur sy navorsingsvermoedens te loods, het hy bewys dat gedrags- en rendement-intervensie ʼn energievermindering van 11 tot 14% en ʼn toename in beligtingsrendement van 21 tot 39% by skole kan meebring. Hierdie doeltreffende vermindering het gevolglik gelei tot verlaagde elektrisiteitskoste by skole en ook die koolstofvoetspoor verklein, wat meer omgewingsvriendelik is. 

Implementering van die projek

Om hierdie resultate te behaal, het hulle eers slim-energiemeters by skole geïnstalleer. Die eerste fase was nodig om die energieverbruik te kon verstaan.

“Ons ontleed die data uit die slimmeters en sien waar, wanneer en hoeveel elektrisiteit op die skoolperseel gebruik is," sê Samuels.

“Dan, ná die data-oudit, stel ons intervensies bekend om energieverbruik te verlaag. Hierdie intervensies behels die vervanging van hoëarbeid-fluoresseerligte met ligdiodes (LD), wat laer kragverbruik, ʼn hoë arbeidsfaktor en beter liggehalte bied."

Uitbreiding en groei

Die sukses van die projek, wat deur die US se Sosiale Impak-finansieringskomitee gefinansier is, het verskeie belanghebbendes en ander finansierders gelok, waaronder die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).

Ander belanghebbendes is studente, skoolhoofde en skoolpersoneel, LD-verskaffers en -installeerders, en ander finansierders soos MTN, ESKOM en Shoprite. Toe die projek begin uitbrei, het Samuels en sy vennote GreenX gestig.

“Die doel van die vestiging van GreenX is om die kapasiteit te bou om die projek by meer skole te ontplooi," sê Samuels.

Op die oomblik wil die WKOD hê dat GreenX die projek by nog 100 skole in die Wes-Kaap moet implementeer. Samuels gaan vroeg in 2022 hiermee te begin.

Ten opsigte van die suksesse en groei van die projek, sê Samuels: “Ek het beslis nie enige van hierdie prestasies of die groei van my navorsing beplan nie, maar dit was ʼn spanpoging en ek is dankbaar teenoor al die mense wat betrokke was."

“Terugskouend dink ek dat ek by ingenieurswese betrokke geraak het om mense te help deur my vaardighede te gebruik. Nou kan ek mense help om hulle energieverbruik te verlaag, wat hulle beursies en die omgewing op ʼn goeie manier raak."

Die toekoms lyk rooskleurig vir Samuels. Hy oorweeg dit om volgende jaar voort te gaan met nadoktorale studies en om GreenX te ontwikkel sodat die res van die land ook bereik kan word.