Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontluikende vrouewetenskaplikes ontvang L'Oréal-UNESCO-beurstoekennings
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 01/12/2021

Twee ontluikende vrouewetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch het onlangs navorsingbeurse ontvang as deel van die L'Oréal-UNESCO For Women in Science se Suid-Afrikaanse nasionale jongtalentprogram.

Dr Rouxjeane Venter en PhD-student Emogine Mamabolo het die beurstoekennings in onderskeidelik die postdoktorale en doktorale kategorie ontvang vir hul baanbrekersnavorsing. Hulle was deel van 'n groep van ses vrouewetenskaplikes van regoor Suid-Afrika wat verlede maand in Johannesburg by 'n toekenningsgeleentheid vir die 2020- en 2021-wenners vereer is. Hierdie toekennings word toegeken binne die raamwerk van die L'Oréal-UNESCO For Women in Science‑vennootskap wat in 1998 bekendgestel is.

As 'n lid van die Kliniese Mikobakteriologiese en Epidemiologiese Groep in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, is Venter by 'n studie betrokke wat ten doel het om 'n vinnige en akkurate diagnose vir pasiënte met middelweerstandige tuberkulose (DR-TB) te vind sodat hulle gouer doeltreffende behandeling kan ontvang. Pasiënte met DR-TB ontvang dikwels nie van die begin af die regte behandeling nie of word eers heelwat later behandel weens vertragings in diagnose. Venter en haar span kyk na maniere om materiaal van gebruikte diagnostiese toetse wat gewoonlik weggegooi word, te gebruik om vas te stel of dit vir verdere toetsing gebruik kan word. Hulle toets tans 'n ontwerp-prototipe wat hulle in staat sal stel om dit te doen. Hierdie navorsing sal daartoe lei dat pasiënte baie vroeër op doeltreffende behandeling geplaas kan word en sal ook besparings op die koste en hulpmiddels vir die insameling en verwerking van bykomende monsters meebring.

Venter het in reaksie op haar prestasie gesê dit is 'n groot eer om die beurstoekenning te ontvang.

“Hierdie toekenning sal my nie net toelaat om ons navorsing uit te brei en ons bevindinge op 'n internasionale vlak aan te bied nie, maar dit open ook baie deure vir ander geleenthede wat my loopbaanvordering sal versnel. Een van die voordele van die toekenning is dat ons 'n opleidingskursus bywoon wat jou in staat stel om vaardighede en instrumente te ontwikkel om 'n leier op jou gebied te word.

“Ek dink ons kan as 'n vasteland so baie tot die STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde)-vakgebied bydra en dit is so inspirerend en 'n voorreg om onder hierdie ongelooflike individue gereken te word," het Venter bygevoeg.

Mamabolo, wat aan die departement Bewaringsekologie en Entomologie verbonde is, gebruik die biologiese, chemiese en fisiese eienskappe van grond om 'n geïntegreerde assesseringsinstrument vir grondgesondheid te ontwikkel. Die instrument sal ook nuttig wees vir doeltreffende besluitneming oor grondbestuur en nie-kundiges, boere en beleidsmakers sal daarby baat vind. Mamabolo se navorsing word gemotiveer deur die feit dat Suid-Afrikaanse boere op soek is na betroubare en maklik-meetbare aanwysers van grondgesondheid om die volhoubaarheid van hul boerdery te monitor. Sy wil ook deur haar werk die gebrek aan 'n duidelike, breë begrip van grondgesondheid in die land aanspreek.

Mamabolo sê die feit dat sy 'n beurstoekenning ontvang het, dui daarop dat haar werk 'n verskil maak en dit kan moontlik sommige van die wêreldwye uitdagings waarmee ons te kampe het, aanspreek.

Sy voeg by dat die toekenning haar loopbaan en haar ontwikkeling as akademiese navorsers 'n hupstoot sal gee.

“Dit sal ook die breër samelewing, moontlike samewerkers en beleidsmakers aan die toepaslikheid en impak van my navorsingswerk blootstel om begrip, samewerking en innovasie mee te bring. Dit sal ook my bekwaamheid as 'n beurshouer/skrywer versterk ten einde verdere befondsings in die toekoms te bekom."