Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hipermoderne biobank ʼn eerste in Afrika
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 25/11/2021
 


Die splinternuwe, hipermoderne Biobankeenheid wat onlangs by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe opgerig is, maak die bewaring van kosbare biologiese monsters veiliger, eenvoudiger en meer bekostigbaar op lang termyn.  

Die Eenheid, wat in die Biomediese Navorsinginstituut gehuisves word, is in 2020 in werking gestel. Dit het ten doel om as ʼn eenstop-biobewaarplek (insluitende -80˚C-berging, -190˚C-dampfaseberging en verskeping) vir alle biologiese navorsingsmonsters van die Fakulteit en daarbuite te dien om navorsers te help om mediese deurbrake te bewerkstellig.

Wat die eenheid uniek maak, is die installasie van die Hamilton BiOS-bewaarstelsel – ʼn ten volle geoutomatiseerde bewarings- en herwinningstelsel wat die heel eerste keer in Afrika en die suidelike halfrond gebruik word.

“Die idee is dat wetenskaplikes hulle nie oor die bewaring van monsters hoef te bekommer nie," sê Rubeshan Nayager, bedryfsbestuurder van die Biobankeenheid. “Ons sorg vir die tegniese bewaringsbehoeftes, sodat hulle kan fokus op wat hulle die beste doen – die wetenskap.

Die eenheid is ʼn doelgemaakte fasiliteit wat ʼn reeks biobankdienste aan kliënte reg oor die akademiese omgewing en die bedryf bied.

“Biologiese monsters is waardevol – menslike hulpbronne, geld en tyd word gebruik om dit te versamel en dit kan jare neem om te vervang," voeg Nayager by. “Ons het ʼn morele en etiese verantwoordelikheid jeens die kliënte om hul monsters professioneel te bewaar."

Einde van kisvrieskaste

Die nuwe stelsel vervang die gebruik van kisvrieskaste. “Die gebruik van konvensionele kisvrieskaste het talle nadele – ys bou daarin op, hulle neem plek op, is duur om te koop en herstel en het ʼn groot energie-voetspoor," sê Nayager.

“Voorts word hierdie vrieskaste dikwels gedeel en die gebruiksetiket is moontlik nie konsekwent nie. Dit kan meebring dat monsters misplaas word of nie op die voorkeurmanier hanteer word nie. Stel jou net voor wat gebeur as ʼn navorser se monsters wegraak – hulle sal moontlik al daardie monsters opnuut moet versamel."

Die kisvrieskaste het elkeen sy eie rugsteun, moniteringstelsels en toegewyde personeel geverg. “Net in ons departement het sowat 100 van hierdie -80˚C-vrieskaste die hele plek volgestaan," sê prof Gerhard Walzl, Hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe. “Hulle het ʼn groot energie- en ruimtevoetspoor en ʼn lewensduur van sowat vyf jaar, waarna hulle onbetroubaar raak. Dit was ʼn omslagtige, outydse bewaringstelsel wat op veelvuldige databasisse en hande-arbeid staatgemaak het om monsters op te spoor."

Menslike foute uitgeskakel

In teenstelling is die Hamilton BiOS-stelsel hoogs akkuraat, verseker monster-integriteit en skakel die moontlikheid van menslike foute uit.  

“Kliënte gee hul monsters in, ons pas gehaltebeheer daarop toe en dan word dit via ʼn deur in die BiOS-stelsel opgeneem. Daar word dit deur die robot geskandeer en aan ʼn spesifieke bewaarplek toegewys, vanwaar dit betroubaar deur ʼn robotarm herwin kan word," verduidelik Nayager. “Ons gaan nooit die BiOS binne nie – dis ten volle geoutomatiseer. 

“Die akkuraatheid is verstommend," voeg hy by. “Die kans vir menslike foute is veel kleiner. Die monitering en opdraggewing word van ʼn afstand gedoen, wat groot buigsaamheid toelaat. Die laboratoriumbestuurder kan van die huis af opdragte aan die stelsel gee en teen die tyd dat sy by die werk kom, is die monsters gereed vir die kliënt om af te haal.

Met sy MBA-agtergrond is Nayager in beheer van die sakekant van die Eenheid, terwyl die daaglikse werking deur Ilze Louw, die laboratoriumbestuurder, en Ane Kruger, haar tegniese assistent, bestuur word. Verdere uitbreiding word beoog.

Die Eenheid volg die biobank-riglyne van die International Society for Biological and Environmental Repositories en werk aan akkreditasie van die International Organisation for Standardisation – ISO 20387:2018. Die laboratoriumpersoneel voldoen aan die riglyne van Goeie Kliniese Praktyk en die Internasionale Lugvragvereniging en ondergaan opleiding oor plaaslike en internasionale regulasies om biologiese stowwe te ontvang en te verskeep.

Groot hupstoot vir navorsing

“Met die ou stelsel kon jy dae of weke daaraan bestee om monsters van die korrekte tydpunte van die regte deelnemers met spesifieke uitkomste van verskillende vrieskaste, verskillende rakke en verskillende bokse te herwin. Dit het dikwels tot ʼn ineenstorting van die monster se integriteit gelei omdat die koueketting onderbreek is," sê Walzl. “Die nuwe stelsel is kompak, het veelvuldige rugsteunstelsels en is aan hipermoderne databasisse gekoppel, wat die bewaring- en herwinningsproses geweldig vereenvoudig.

“Die monsterprosesseringskomponent sal dit ook vir navorsers sonder hul eie laboratoriums moontlik maak om monsters te bewaar," voeg hy by. “Dit brei dus die potensiaal vir monster-verwante navorsing reg oor die Fakulteit uit. 

“Dit maak bewaring veiliger, eenvoudiger en meer bekostigbaar op lang termyn. Dit is ʼn stelsel wat gepas is vir ʼn moderne instelling soos die Biomediese Navorsingsinstituut." 

Oor die Hamilton BiOS-stelsel:

  • Bied veilige, kostedoeltreffende -80˚C-bewaring vir biomonsters deur van die heel jongste tegnologie gebruik te maak.
  • Is ʼn grootskaalse, geoutomatiseerde biologiese bewaarstelsel wat dwarsdeur die monster se lewensduur veiligheid en volle naspeurbaarheid bied.
  • Sluit veelvuldige rugsteun-kragstelsels in, insluitende opwekkers en nie-onderbreekbare kragtoevoer (UPS), asook oortollige meganiese verkoelingstelsels met vloeibarestikstof-rugsteun.
  • Kan die meeste biologiese monsters berg, behalwe BSL 3 wat deur kultuur gekweek is en BSL 4-kategorie- aansteeklike agense. 
  • Die BiOS L5 het die kapasiteit om 10 miljoen monsters te bewaar, maar is tans vir 3,5 miljoen monsters gekonfigureer – met planne vir uitbreiding soos nodig.


Foto-onderskrif: Rubeshan Nayager, bedryfsbestuurder van die Biobankeenheid.

Foto-erkenning: Damien Schumann