Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US chemikus is eerste president van Afrika Vereniging vir Kristallografie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 24/11/2021

Prof Delia Haynes, 'n chemikus in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch, is as die eerste president van die nuutgestigte Afrika Vereniging vir Kristallografie (AfCA) verkies.

AfCA is amptelik gekonstitueer by die onlangse Pan-Afrika Konferensie oor Kristallografie (ePCCr) wat aanlyn plaasgevind het, tydens 'n sessie wat deur verteenwoordigers van die Internasionale Unie vir Kristallografie (IUCr), UNESCO, die Internasionale Wetenskapsraad en die Afrika Akademie vir Wetenskap bygewoon is.

Prof Haynes sê die totstandkoming van AfCA is die resultaat van pogings van 'n groep toegewyde wetenskaplikes en verskeie internasionale en Afrika-wetenskapsliggame ten einde kristallografie as vakgebied in Afrika te ontwikkel. Sedert 1999, het hierdie pogings uitgeloop op studenteondersteuning, unieke opleidingsgeleenthede bekend as OpenLabs, en samewerking met verskaffers vir die installering van toerusting.

Sy sê AfCA se missie is om by te dra tot die bevordering van wetenskap in Africa via kristallografie in al sy aspekte, en samewerking onder kristallograwe in Afrika te bevorder.   AfCA sal onder andere 'n databasis van Afrika-kristallograwe skep en verseker dat hulle geregistreer is in die International Union of Crystallography (IUCr) World Directory of Crystallographers (WDC).

Ander doelwitte sluit die totstandkoming van nasionale verenigings vir kristallografie in Afrika-lande, die organisering van die PCCr konferensie elke twee jaar, opleidingsaktiwiteite en 'n openbare bewusmakings- en betrokkenheidsprogram in.

AfCA sal ook eerstens werk aan die installering van toerusting in minstens een land in elk van die vyf streke van die kontinent: Sentraal-Afrika, Wes-Afrika, Noord-Afrika, Suider-Afrika en Oos-Afrika. Dit sal navorsingsamewerking aanmoedig en vereis dat navorsers oor grense heen moet reis. 

Sy sê die feit dat dit moeilik is om tussen Afrika-lande te reis, het navorsingsamewerking op die kontinent belemmer.  In hierdie verband sal AfCA voorspraak maak vir 'n wetenskapsvisum om die mobiliteit van navorsers tussen Afrika-lande te verseker.

“Kristallografie onderlê baie wetenskappe en dryf vooruitgang in ekonomiese en gesondheidstelsels, opvoeding en infrastruktuur. Kristallografie is inderdaad noodsaaklik vir die ontwikkeling en verbetering van byna alle materiale en medisyne en vorm die ruggraat van 'n wye verskeidenheid industrieë. Ons wil graag sien dat kristallografie 'n voertuig moet wees vir die volhoubare ontwikkeling van Afrika se ekonomie en samelewing," sluit sy af.

Wat is kristallografie?

Kristallografie is die wetenskap of tegniek om die rangskikking van die atome in byna enige vaste stof uit te werk ten einde die gedrag daarvan te vestaan – van diamante en soutkristalle tot die dubbelheliksstruktuur van DNS. Deesdae verskaf kristallografie belangrike waarnemings- en meganistiese insigte vir 'n reeks wetenskaplike dissiplines, soos  biomediese navorsing, energie, voedsel- en watervoorsiening, aardwetenskappe, geofisika en forensiese wetenskap. Trouens, kristallografie was en is steeds 'n belangrike hulpmiddel in die ontwikkeling van effektiewe entstowwe teen SARS-CoV-2.

Weens die gebrek aan analitiese fasiliteite in die meeste Afrika-lande is kristallografie egter nie goed ontwikkel op die kontinent nie. Baie lande het selfs nie eers een diffraktometer -  die instrument wat gebruik word om kristallografie-studies mee uit te voer nie. Afrika is ook die enigste kontinent ter wêreld, Antarktika uitgesluit, sonder 'n sinkrotron-ligbron, 'n kragtige hulpmiddel in kristallografie-navorsing.

AfCA EC circle)small.png

Op die foto bo: AfCA se eerste uitvoerende komitee bestaan uit Prof Haynes as president; Dr Patrice Kenfack Tsobnang van die Universiteit van Dschang in Kameroen as visepresident; Dr Rim Benali-Cherif van die Abbes Laghrour-Khenchela Universiteit in Algerië as tesourier, Dr Gift Mehlana van Midlands Staatsuniversiteit in Zimbabwe as sekretaris. Die ander lede is Dr Marielle Agbahoungbata van X-Tech lab, Sèmè Stadsontwikkelingsagentskap in Benin, Dr Seham Abdel-Aal van die Kaïro Universiteit in Egipte, Dr Adam Bouraima van die Masuku Universiteit van Wetenskap en Tegniek in Gaboen, Dr Dickson Andala van die Multimedia Universiteit van Kenia, en Dr Mamoudou Diallo van die , 'n PhD-student van Assane Seck Ziguinchor Universiteit in Senegal.

Media onderhoude

Prof Delia Haynes

E-pos: dhaynes@sun.ac.za

Landlyn: 021 808-3358