Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kimara gee Maties Sport 'n nuwe stem
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 16/11/2021

​Ontmoet Kimara Singh, die nuwe kommunikasiebestuurder by Maties Sport en 'n vrou wat beslis weet waarheen sy met haar lewe en loopbaan op pad is. Die sterk Maties handelsmerk was die trekpleister na Stellenbosch.

Kimara berei tans voor om met haar PhD in mediastudies te begin, en wil fokus op hoe Suid-Afrikaanse vroue-atlete op digitale en sosiale media-platforms uitgebeeld word. “Ek dink ons besef dikwels nie hoe digitale media geestesgesondheid en die prestasie van vroue-atlete op die veld beïnvloed nie. Hulle word reeds met soveel druk gekonfronteer. In my navorsing kyk ek na maniere om ons atlete op hierdie platforms te beskerm."

Haar gunsteling sport is sokker, en sy is 'n ywerige Liverpool-ondersteuner. Sy sê sy is ook trots daarop om voormalige universiteitsvroue-atlete dop te hou wat baie suksesvol was: Thembi Kgatlana, Refiloe Jane en Tatjana Schoenmaker, om 'n paar te noem.

Kimara se gunsteling sport om aan deel te neem, is swem. "Ek hou daarvan om in die water te wees en is lief vir die strand," sê sy. “Ek geniet staptogte en stap in die natuur om dit as bewustheids- en ontspanningsaktiwiteit te beoefen."

Sy is nie net 'n sportskrywer nie, maar meer 'n “allrounder" sê Kimara. Sy sê skryf was nog altyd vir haar 'n ontsnapping. “Ek hou daarvan om my kunsvlyt in verskillende genres te vervolmaak."

Kimara sê een van haar trotste oomblikke was om Suid-Afrika by die Wêreldstudentespele in Taipei in 2017 en die CUCSA-spele in Botswana in 2018 te verteenwoordig. “Niks kom naby aan om vir jou land te doen waarvoor jy lief is nie. In my persoonlike lewe het ek baie struikelblokke oorkom. Voordat ek by die US aangesluit het, was ek vir 'n rukkie werkloos, en ek is die trotsste op myself dat ek nooit opgegee het nie. Ek het vir my perfekte geleentheid gewag. Ek glo ek is nou in die perfekte omgewing vir my persoonlike groei."

"Sport is betekenisvol by ons universiteit; dit is iets wat studente bymekaar bring, maak nie saak of hulle deelneem of kyk nie. Maar die belangrikste is dat ons die katalisator vir soveel van hierdie studente-atlete se professionele loopbane is, en soos hulle sê, een keer 'n Matie, altyd 'n Matie," sê Kimara.

Sy glo dat teruggee aan die gemeenskap van uiterste belang is en hou daarvan om by verskeie inisiatiewe betrokke te raak. "Ek hoop my klein bydrae help om mense se lewens op een of ander manier te verander."

Kimara se motivering is haar ouers. “Hulle wys my elke dag dat dit moontlik is om jou drome te bewaarheid as jy hard werk daarvoor. “Hulle sê altyd vir my dat diens aan die mens diens aan God is, en dit is waarvolgens ek leef."​