Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA jong wetenskaplikes wen medaljes by Indonesië wetenskap-ekspo
Outeur: Erika Hoffman
Gepubliseer: 15/11/2021

​Twee plaaslike jong wetenskaplikes het medaljes gewen nadat hulle beoordelaars beïndruk het by die 2021 “International Science and Invention Fair" wat in Indonesië gehou is. Hul projekte is geïnspireer deur kwessies waarmee hul gemeenskappe te kampe het.

Vera van der Merwe, van Calvinia in die Noord-Kaap wat tans in graad 8 by Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch is, het 'n bronsmedalje verower by die wetenskap-ekspo, wat op 1 November 2021 ten einde geloop het. Van der Merwe het vuurbrikette ontwikkel deur verskillende kombinasies van gemaalde Prosopis boom takkies en papier afval te gebruik. Sy het oorspronklik haar werk by die Stellenbosch Streeksekspo vir Jong Wetenskaplikes, aangebied deur die Stellenbosch Universiteit Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde, uitgestal.

“Ek was baie verras om 'n bronsmedalje te wen, want ek het nie durf waag om te veel te verwag nie. Ek weet dat ek 'n goeie projek het wat baie mense sal help as dit uitgerol kan word. Om internasionaal deel te neem was regtig ongelooflik en was beslis 'n wonderlike ervaring waaruit ek baie geleer het. Dit was senutergend en opwindend om te weet dat ek aan 'n wêreldklas wetenskap-ekspo deelneem, en ek hoop dat ek deur my projek aan mense oorsee voor te stel die idee in hul koppe kon plant sodat dit wêreldwyd gemeenskappe kan help, " het Van der Merwe gesê.

Danielle Pienaar, graad 7 aan die C&N Primêre Meisieskool Oranje in die Vrystaat, het ook 'n bronsmedalje op die wetenskap-ekspo verower, nadat sy die projek, 'Watter aas vind vlieë onweerstaanbaar?' aangebied het. Die projek het ten doel gehad om 'n veilige en kostedoeltreffende vliegval te ontwikkel met items wat geredelik beskikbaar was, en om die doeltreffendheid van winkel-gekoopte lok-aas teenoor bekostigbare lok-aas te vergelyk.

“Ek is baie opgewonde en trots dat my projek 'n medalje gewen het. Ek is 'n bietjie verbaas dat die internasionale beoordelaars my projek interessant gevind het, maar ek is baie bly dat hulle dit gedoen het! Weens die COVID-19-reisbeperkings is die beoordelingsessies aanlyn gehou. Ek het net sewe minute gehad om my projek aan te bied en die beoordelaars te beïndruk, gevolg deur 'n paar minute van vrae. Ek het uit die internasionale beoordelaars se vrae geleer, en dit het my geïnspireer om my projek te verbeter en hopelik in die toekoms die bevindinge by ander wetenskap-ekspo's aan te bied," het Pienaar gesê.

Eskom Groep Uitvoerende Bestuur: Regering en Regulerende Sake, Nthato Minyuku, het die jong wetenskaplikes gelukgewens met hul prestasie en gesê: “Dit is belangrik vir Suid-Afrikaanse leerders om aan internasionale wetenskap-ekspo's blootgestel te word, aangesien dit hul kennisbasis verbreed. In 2021 het die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes geleenthede gebied vir 16 leerders om hul navorsingsprojekte by internasionale wetenskap-ekspo's aan te bied, met nog twee internasionale skoue wat in November sal plaasvind. Dit is een van die redes waarom die Eskom Expo 'n vlagskipprojek binne Eskom is. Die doel is om te belê in die ontwikkeling van jong wetenskaplikes en ingenieurs, terwyl meer leerders aangemoedig word om wetenskap-georiënteerde vakke en loopbane aan te pak".