Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sooliman ontvang Kampvegter vir Maatskaplike Geregtigheid-toekenning
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 11/11/2021

​Dr Imtiaz Sooliman, stigter van die Gift of the Givers-stigting, is as die Kampvegter vir Maatskaplike Geregtigheid van die jaar vir 2021 aangewys vir die noodlenigingswerk wat dié nieregeringsorganisasie (NRO) gedurende die COVID-19-inperkingstydperk gedoen het. Die Gift of the Givers-stigting is die grootste rampreaksie-NRO op die vasteland wat sy oorsprong in Afrika het.

Die toekenning, 'n inisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid se leerstoel in sosiale geregtigheid, is in 2020 bekendgestel en gee erkenning aan individue wat gelykwaardigheid bevorder en armoede verminder en hulself tot geregtigheid vir almal verbind het terwyl hulle ook ander aangespoor het om sosiaal kohesief saam te werk.

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid, het die toekenning aan hom oorhandig by 'n seremonie wat op 5 November by die Coopmanhuijs-boutiekhotel op Stellenbosch gehou is. Onder die gaste was prof Nicola Smit, Dekaan van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die US, en mnr Eon Hendrikse, stigter van die Clay-stigting wat verlede jaar die toekenning saam met Kabelo Mahlobogwane ontvang het. Die Clay-stigting spits hom toe op jeugbemagtiging en -leierskapsontwikkeling.

Sooliman is al wêreldwyd erken vir die noodlenigingswerk wat sy organisasie doen.

Hy het in Maart 2018 'n eredoktorsgraad van die US ontvang ter erkenning van sy uitnemende werk wat hy deur die stigting doen. Tussen 2007 en 2019 is hy met nege ander eredoktorsgrade vereer vir die stigting se reddingsaksies hier in Suid-Afrika en in die res van die wêreld.

“Ek het deur die jare al baie toekennings ontvang, maar hierdie een [Kampvegter vir Maatskaplike Geregtigheid] is baie spesiaal en belangrik vir my weens die tydsberekening en onder die omstandighede waarin dit toegeken is. Ek is baie dankbaar.

“Die tydsberekening van die toekenning (in 'n tyd waarin daar noodleniging verskaf is aan gemeenskappe wat deur die pandemie geraak is) en die bewoording op die sertifikaat vind aanklank by ons werk," het Sooliman gesê nadat hy die toekenningsertifikaat van Madonsela ontvang het.

Hy het by die geleentheid uitgebrei oor die stigting se noodlenigingspogings gedurende die staat van inperking, wat die verskaffing van water, mediese toerusting en voedsel ingesluit het. Die inisiatiewe het ook die verskaffing van 2 500 suurstofmasjiene aan COVID-19-pasiënte in meer as 200 hospitale in ses provinsies oor tien dae ten tye van die uitbreking van die pandemie in Maart verlede jaar behels.

“Mense was besig om te sterf en ons het gejaag om die masjiene by die hospitale te kry. Hierdie masjiene het baie lewens gered," het Sooliman gesê.

Die stigting het ook die Freesia-saal by die Mitchell's Plain-hospitaal opgeknap om slegs vir COVID-19 gedurende spitstye gebruik te word, terwyl dit ander tye as 'n veeldoelige fasiliteit gebruik kan word. 

Madonsela het gesê Sooliman is ongetwyfeld die kampvegter vir maatskaplike geregtigheid van die jaar danksy die uitstekende werk wat sy stigting gedurende die pandemie gedoen het om lewens te red.

“Die werk wat hy doen gaan alles oor die bevordering van maatskaplike geregtigheid. Dit gaan daaroor om as maatskaplike leiers na vore te tree en gelykheid te skep. As maatskaplike leiers verstaan ons dat ongelykheid samelewings verdeel en dat armoede nie 'n natuurlike menslike toestand is nie, maar wel mensgemaak is en dat dit uitgeroei kan word. Hierdie toekenning gee ook erkenning aan leiers wat tot aksie oorgaan om die menslike toestand te verbeter," het Madonsela gesê.

Sooliman het 'n beeldjie en 'n sertifikaat met die volgende bewoording daarop ontvang:

“'n Kampvegter vir maatskaplike geregtigheid is iemand wat voortdurend die toon aangee om gelykheid te bevorder en armoede te verminder, iemand wat hulself tot geregtigheid vir almal verbind het terwyl hulle ook ander saambring om op 'n sosiaal kohesiewe manier saam te werk.

“Maatskaplike geregtigheid gaan oor die regverdige, regmatige en billike verspreiding van alle geleenthede, hulpmiddels, voordele, voorregte en laste in die samelewing. Dit vind uitdrukking in die gelyke genieting van alle regte en vryhede deur almal. Die omarming van die menslikheid van elke persoon is die kern van maatskaplike geregtigheid sodat niemand dit moeiliker as ander vind om in die samelewing te bestaan nie, en niemand groter laste as ander hoef te dra nie." 

Fotograaf: Anton Jordaan