Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nasionale Kinderdag: Kinders verdien opvoeding in veilige, gesonde omgewing
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 08/11/2021

Nasionale Kinderdag word jaarliks op die eerste Saterdag in November gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) dat puttoilette en ʼn gebrek aan skoon water in skole daartoe bydra dat baie kinders in Suid-Afrika nie hul opvoeding in ʼn veilige en gesonde omgewing ontvang nie.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Chris Jones*

Die Suid-Afrikaanse regering het die eerste Sondag in November tot Nasionale Kinderdag verklaar. Dit is belangrik om die aandag te vestig op die uitdagings wat ons kinder moet trotseer, veral as ons Artikel 28 van die Handves van Regte in ons Grondwet in ag neem wat verklaar dat “elke kind die reg het op basiese voeding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maatskaplike dienste; asook om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word". 'n Mens kan ook hierby die reg op basiese onderwys voeg, soos in Artikel 29 gestipuleer word.

Hoewel die regering sedert 1994 reeds ver gevorder het om toepaslike, doeltreffende, responsiewe, inklusiewe en volhoubare onderrig en leer te verskaf, is daar steeds sekere ernstige tekortkominge, veral ten opsigte van die infrastruktuur van baie openbare skole.

In my refleksie oor kinders ter herdenking van bogenoemde dag, wil ek fokus op die meer as een miljoen leerders in ons skole wat steeds puttoilette moet gebruik, en die sowat 150 000 kinders wat in skole sonder enige water onderrig word.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in die tweede kwartaal van 2021 verslae van elkeen van die nege provinsiale onderwysdepartemente aangevra oor water en sanitasie by skole

Die SAMRK het spesifiek inligting oor die tipes en bronne van sanitasie by hierdie skole aangevra. Volgens die SAMRK het hulle reaksie van 16 921 skole regoor die nege provinsies ontvang. Dit maak 74% van alle skole in Suid-Afrika uit.

Terwyl ek hierdie verslag van Julie 2021 gelees het, was dit vir my skokkend om te sien hoeveel skole nie sanitasiegeriewe het nie en hoeveel skole, personeel en leerders steeds puttoilette as hul vernaamste vorm van ablusiegeriewe gebruik. 

Hierdie skokkende situasie sal baie dringender aangespreek moet word om die menswaardigheid van hierdie onderwysers en leerders te herstel en te respekteer, en ook om die Verenigde Nasies se Volhoubare Doelwitte 4 en 6 te bereik wat onderrig, asook water en sanitasie vir almal ten doel het.

Dit behoort sentraal te staan in die departement van basiese onderwys (DBO) se beleid en moet een van die DBO se vernaamste prioriteite wees.

Op 'n dag soos Nasionale Kinderdag moet die regering se pogings in hierdie verband waardeer word. Maart 2022 is egter net om die draai. Indien die DBO saam met provinsiale onderwysdepartemente en ander toepaslike staatsdepartemente nie die minister se belofte hieroor gestand doen sonder geldige redes nie, behoort daar 'n nasionale verontwaardiging te wees om hulle verantwoordbaar te hou, selfs al beteken dit om die verantwoordelike mense hof toe te vat. Ons is ons kinders onderrig in 'n veilige omgewing wat leer bevorder, verskuldig.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Dr Chris Jones staan aan die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.