Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe om arm jongmans aan te moedig om oor kwesbaarhede te praat
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/11/2021

Hoe moedig 'n mens arm, gemarginaliseerde jongmans in informele nedersettings aan om openhartig oor hul onsekerhede en uitdagings te praat?

Dit is een van die sleutelvrae wat Patricia Zweig, 'n dosent in die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR) by die Universiteit Stellenbosch probeer beantwoord het in 'n navorsingstudie*  wat onlangs in die akademiese vaktydskrif AREA verskyn het. Sy het ondersoek ingestel na hoe jongmans in informele nedersettings in Kaapstad ontvanklik vir risiko gemaak word en hoe dit dan hul manlike identiteit vorm en hul gedrag beïnvloed.

Zweig sê navorsing het getoon dat jongmans in informele nedersettings statisties gesproke meer dikwels misdaadslagoffers is, wat op 'n behoefte dui om hul kwesbaarheid in hierdie gemeenskappe te ondersoek. Ongelukkig is daar nog baie min hieroor geskryf. 

Aangesien dit volgens Zweig metodologies moeilik is om kwesbare jongmans te kry om openhartig oor hul uitdagings te praat, het sy besluit om verskillende metodes soos storievertelling, onderhoude wat tekenmetodes gebruik wat aangepas is uit deelnemende navorsing, en dagboekhouding te gebruik om verskillende persoonlikhede te akkommodeer – van die skaam soort wat aanmoediging nodig het tot diegene met langasems wat baie te sê het.

“Om die sienings van arm jongmans oor die lewe op die stedelike kantlyn te verken ten einde te bepaal hoe hul kwesbaarheid gevorm is, het verskeie metodes vereis om hul deelname te fasiliteer – nie net om hul daaglikse lewe te verstaan nie, maar ook om dieper insig in hul gevoelens en emosies te kry.

“Omdat mondelinge storievertelling so 'n inherente deel is van die Xhosa-kultuur, was dit glad nie verbasend dat die jongmans se deelname sigbaar verbeter het toe gestruktureerde onderhoudsessies vervang is met 'n metode van uitdrukking waarmee hulle baie gemakliker en bekender was nie. Hierdie 'gespreksvertellings' het ook subtiel die magsbalans verskuif om hulle meer eienaarskap van die proses te gee.

“Deur die deelnemers te vra om te teken terwyl hulle hul stories vertel, het hul aandag op hul tekeninge gevestig wat ook nuttig was wanneer hulle ongemaklik, skaam of emosioneel gevoel het. Dit het hulle in staat gestel om hul oë afgewend te hou."

Zweig voeg by dat die navorsing versterk is deur aan die jongmans ruimte te gee om leiding te neem en rigting te gee, en om hulself deur tekeninge te verduidelik en uit te druk.

“Terwyl een jongman byvoorbeeld oor sy kinderdae in 'n landelike gebied gepraat het, het hy gevoel hy moet meer konteks verskaf en het sy nedersetting se uitleg geteken om die tradisionele hiërargie en die daaglikse lewensprosesse te verduidelik, terwyl 'n ander deelnemer 'n diagram geskets het om sy geloofsisteem en sy plek daarin te verduidelik."

Om dieper in die sleuteltemas te delf wat uit die onderhoude na vore gekom het, het Zweig haar tot die gebruik van dagboekinskrywings met 'n kleiner groep mans gewend.

Sy het hulle gevra om net iets te skryf wanneer hulle geïnspireerd gevoel het om 'n gedagte of 'n emosie te deel, eerder as om gereelde inskrywings te maak wat moontlik die openhartigheid en spontaniteit van hul skryfwerk kon beïnvloed. Enige lengte inskrywing was aanvaarbaar – van 'n eenvoudige stelling tot verskeie bladsye, afhangende van hoe hulle gevoel het.

“Dagboekinskrywings het die jongmans meer tyd vir introspeksie en refleksie gegee, wat weer eens meer mag aan hulle in die navorsingsproses gegee het, terwyl die gevoel van 'n persoonlike prestasie ook terselfdertyd hul selfvertroue verhoog het.

“Met die verloop van tyd het sommige jongmans, danksy hul toenemende vertroue in my, bemoedig genoeg gevoel om verder oop te maak en details wat hulle voorheen uitgelaat het, te verskaf of om emosies wat met hul ervarings verband hou, te beskryf."

Deur toegelaat te word om hulself op maniere uit te druk waarmee hulle die gemaklikste gevoel het, het aan die jongmans meer vryheid gegee, sê Zweig.

“Sommige het verskillende mediums gebruik, afhangende van hul bui – van digkuns tot vrye skryfwerk tot eenvoudige, dog emosionele beskrywings van hul daaglikse lewe. Die verskeidenheid vorms van uitdrukking het indringende insigte in hul lewenswêrelde gebied."

Volgens Zweig het die gebruik van metodes wat spesifiek aangepas is om onthulling aan te moedig en om die beperkings wat dikwels voorkom wanneer emosionele kwessies by mans verken word, te oorkom, asook die oorweging van kultureelgepaste metodes van selfuitdrukking, verseker dat alle deelnemers gemaklike maniere gevind het om hul stories te deel.

Sy voeg by dat dit intieme insigte verskaf het oor die talle en verskeidenheid uitdagings wat jong, gemarginaliseerde mans in informele nedersettings in die gesig staar, die ietwat ambivalente manlike identiteite waarin hulle gevestig is, en die aard van hul waargeneemde kwesbaarhede in hierdie gemeenskappe.

  • BRON: Zweig, P 2021. Exploring men's vulnerability in the global South: Methodological reflections. AREA 00, 1–9: doi.org/10.1111/area.12751

Hierdie studie is gedeeltelik gegrond op Patricia Zweig se PhD-tesis wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch ingedien is.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Patricia Zweig

Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR)

Universiteit Stellenbosch

E-pos: patriciazweig@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR            

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za