Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-mentorskapprogram fokus van TV-dokkie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 04/11/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se mentorskapprogram Rachel's Angels sal die fokus wees van 'n dokumentêre program wat in November op VIA TV uitgesaai word.

Dié uur lange dokumentêr, Rachel's Angels: Inspirasiestories, vier die inspirasiestories van 13 merkwaardige mense asook dié van die Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein, een van die skole wat die beste presteer het in die Rachel's Angels-mentorskapprogram.

Dié Stellenbosse mentorskapprogram wat van 2007 tot 2016 aktief was, het honderde leerders en studente ondersteun en voorberei vir die uitdagings wat vir hulle wag op tersiêre vlak. Senior US-studente het die gekose leerlinge gementor. Die mentorskapprogram het 'n groot verskil gemaak aan jongmense uit minderbevoorregte gemeenskappe en onderbediende skole wie se toekoms dikwels daardeur handomkeer verander het.

In die dokkie beskou prof Rachel Jafta, professor in Ekonomie aan die US en stigter van die mentorskapprogram, 13 mentors en gementordes se stories. Die suksesverhale strek van waar die mentorskapprogram 'n rol in hul lewens begin speel het tot vandag.

“Gegewe die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse ekonomie én die onderwysstelsel in die gesig staar, het die program leerlinge in skole met 'n tekort aan hulpbronne ondersteun. Die plan was om hul akademiese prestasie te verbeter en hulle die vaardighede aan te leer om suksesvol te wees in 'n tersiêre inrigting," verduidelik Jafta verder.

Jafta is passievol oor opvoeding en die ontwikkeling daarvan. Sy ken self swaarkry. Daar was 'n tyd wat sy vakansietye in 'n vrugtefabriek moes werk om haar universiteitsgeld te kon betaal. Haar pa het vierkantig agter haar gestaan – hy was ook een van die redes hoekom sy die mentorskapprogram begin het. Vandag is sy nie net 'n professor in Ekonomie nie, maar ook direksielid van Naspers, voorsitter van Media24 se direksie en hoof van die Kaapstad Karnavaltrust.

Van die 13 mentors en gementordes wat in die dokumentêr sal verskyn, is:

  • Dr Adriaan Engelbrecht, senior lektor in die Departement Biodiversiteit en Bewaringsbiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat sedert 2007 as mentor by die Rachel's Angels-mentorskapprogram betrokke is om leerlinge te lei wat met soortgelyke uitdagings as hy geworstel het.
  • Khanyiso Jonas, 'n dosent in die Departement Taalkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat deur haar rol as mentor kon aanklank vind by haar studente se reis. Sy het ook meer van haarself as leier geleer.
  • Anthony Huisamen, wat in 2020 sy BCom-graad verwerf het en tans die finansiële direkteur van Radio Weskus is, se vrees vir mislukking het hom oorweldig omdat hy die eerste een in sy familie was wat universiteit toe kon gaan. Maar deur die Rachel's Angels-mentorskapprogram het hy die nodige voorbereiding en blootstelling gekry wat sy aanpassing makliker gemaak het.
  • Anastasia Kim Gordon, tans 'n wiskundeonderwyser by die Hoërskool Bernadino Heights – dieselfde hoërskool waar sy 'n Rachel's Angels-mentor was. Haar werk as mentor het daartoe gelei dat sy 'n werwingsbeurs by die US ontvang het.
  • Calumet Links, wat tydens sy voorgraadse studie by die mentorskapprogram betrokke geraak het, het in 2021 sy PhD in Ekonomie voltooi en werk tans as dosent in Ekonomie aan die US.
  • Siziphiwe Dinwa, wat tans as 'n landboukundige tegniese adviseur werksaam is, was 'n mentor in die program terwyl sy vir haar MSc-graad in Grondkunde (2018) aan die US gestudeer het.
  • Jerobiam Julies het in 2018 sy MSc in AgriWetenskappe behaal nadat die mentorskapprogram gehelp het om sy karaktereienskappe te ontwikkel en gesorg het dat hy met selfvertroue universiteit toe kon gaan. Hy het in 2020 by 'n Duitse biotegnologiese maatskappy aangesluit waar hy as internasionale verkoopsbestuurder en as besigheidsontwikkelingsbestuurder van die Midde-Ooste en Noord-Afrika werk.

 Die uitsaaitye vir Rachel's Angels: Inspirasiestories is: Maandag, 8 Nov om 21:00; Woensdag, 10 Nov om 17:30; Saterdag, 13 Nov om 19:00; Sondag, 14 Nov om 20:30; Dinsdag, 16 Nov om 17:30; Vrydag, 19 Nov om 20:00; Maandag, 22 Nov om 17:30; Woensdag, 24 Nov om 21:00; Saterdag, 27 Nov om 22:00; Sondag, 28 Nov om 21:30; en Dinsdag, 30 Nov om 17:30.