Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Digters Schaffer en Pedro by fees gehuldig
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 29/10/2021

Twee digters met bande met die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands is onlangs by die 10de Tuin van Digters-fees by die Breytenbachsentrum op Wellington vereer – dosent dr Alfred Schaffer as feesdigter, en oud-Matie Ryan Pedro met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel.

Dr Alfred Schaffer

Dr Schaffer het ook vanjaar die Nederlandse PC Hooft-prys vir sy poësie-oeuvre ontvang. Hy is sedert 2014 'n dosent in Kreatiewe Skryfkuns aan die US. Hy het in 1996 van Nederland na Suid-Afrika verhuis en in 2002 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstad, het in 2000 verskyn. Daarna het bundels soos Dwaalgasten (2002), Geen hand voor ogen (2004), Schuim (2006), Kooi (2008), Mens dier ding (2014) en Postuum. Een lofzang (2016) die lig gesien.   

Die veelbekroonde Schaffer het al die Paul Snoek-prys, die Awater-poësieprys, die Charlotte Köhler-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys, die Jan Campert-prys, die Herman de Coninck-prys en die Hugues C Pernath-prys ontvang. Van sy werk is, benewens in Afrikaans, ook in Engels, Frans, Duits, Chinees, Spaans, Turks, Indonesies en Sweeds vertaal.

Hy deel 'n verjaardag met digter en skilder Breyten Breytenbach, wat op Wellington grootgeword het en om wie se verjaardag in September die Tuin van Digters-fees juis 'n dekade gelede begin is. Weens COVID-19 regulasies is dit vanjaar in Oktober aangebied.

“Dit was 'n besonder groot eer om as 'n buitestander by die Tuin van Digters gehuldig te word," sê Schaffer.

Volgens feesorganiseerder Francois Lötter van die Breytenbachsentrum is dit die eerste keer dat 'n nie-Afrikaanssprekende digter by die fees vereer word. “Dit is baie spesiaal om jaarliks iemand wat haar- of homself oor vele jare as Afrikaanse digter en vriend van aansien bewys het, te huldig," sê Lötter.

Ander digters wat al op dié wyse vereer is, sluit in TT Cloete, Wilma Stockenström, Adam Small, Olga Kirch, Daniel Hugo en Breyten Breytenbach.

In sy huldigingsrede het mededigter Danie Marais, wat ook by die US Woordfees betrokke is, uitgewys dat Schaffer “in sy persoonlike hoedanigheid én deur sy werk soveel stereotipes heel terloops bevraagteken". Marais het Schaffer ook geprys vir die uiters vindingryke manier waarop hy in sy poësie omgaan “met identiteit as 'n kwessie van noodwendige absurditeit, worsteling en fragmentasie".

“In 'n era van fel en brandende identiteitspolitiek weier Alfred enige oorvereenvoudiging rondom 'n 'ek' en 'n 'jy'; waag hy om 'n Monty Python-eske ridder te wees, ten volle bewus van die nodeloosheid van 'n soeke na self en waarheid, gepantser alleen deur die harnas van tweesnydende ironie, maar met 'n weerlose oor en 'n oop oog vir geheimsinnige, alledaagse skoonheid," het Marais gesê.

Ryan Pedro

Op sy beurt het US-alumnus Ryan Pedro die Ingrid Jonker-prys in ontvangs geneem, wat reeds sedert 1966 toegeken word. Sy debuutbundel, Pienk ceramic-hondjies, het in 2020 by Kwela verskyn.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks om die beurt toegeken aan 'n Afrikaanse of Engelse debuutdigbundel – die twee tale waarin digter Ingrid Jonker self geskryf het. Jonker se dogter, Simone Garcia Marques, het die prys aan Pedro oorhandig.

Pedro, wat deesdae as skrywer betrokke is by die kykNET-sepie Suidooster, het voorheen Kreatiewe Skryfkuns aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands studeer. Hy het in 2017 die graad BA Taal en Kultuur aan die US behaal, en in 2018 'n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands.

Die beoordelaars het Pedro se debuut as ʼn “kragtige" en “indrukwekkende" bundel deur 'n “vernuftige digter" met “sterk talent" bestempel, en gesê sy werk bied ʼn “skerp beligte blik op ʼn wêreld waar geweld binne en buite die huis alledaags is, en waar vertoon noodsaaklik is vir selfbeskerming".

“Hy bevind hom in ʼn wêreld waar onreg en rassisme histories en sistemies is, waar algemene wantroue geregverdig is, en waar armoede deel is van byna almal se realiteit," het die beoordelaars bygevoeg. “Pienk ceramic-hondjies hou rekening met die vergrype van die verlede, maar slaan terselfdertyd ʼn nuwe koers in. Hy skaar hom by ʼn geslag wat kreatief omgaan met protes teen ʼn gemeenskap waarin hulle hul ontheemd voel, kieskeurig meedoen aan die verbruikerskultuur, ʼn eie identiteit smee en agentskap opeis."

Volgens prof Ronel de Goede, voorsitter van die Ingrid Jonker Prys-komitee en 'n voormalige dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands, is die beoordelaars almal self digters, wat dit 'n prys “van digters aan digters" maak. Dit is reeds die vierde jaar wat die prys as deel van die Tuin van Digters oorhandig word. Die Dagbreek Trust borg die Afrikaanse prys ten bedrae van R10 000.​