Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oeroue plante help behandel hedendaagse siektes
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 25/10/2021

Terwyl prof Nokwanda (“Nox") Makunga, 'n plantkundige en wetenskapkommunikeerder, die biochemie van plantspesies soos Salvia, Sutherlandia, Sceletium en Pelargonium bestudeer om hulle waarde ter ondersteuning van hedendaagse kanker- en ander behandelings te bepaal, is sy deurentyd bewus van die verband tussen die verlede, die hede en die toekoms. Sy voel bevoorreg om ultramoderne tegnologie te kan inspan om die einste plante te ontleed wat etlike geslagte voor haar al vir genesingsdoeleindes gebruik het.

Stamper-en-vysel-wetenskaplike

“Ek's 'n 'stamper-en-vysel-tipe' plantkundige wat in 'n laboratorium opgelei is om die binnewerke en biochemie van plante te verstaan," verduidelik prof Makunga, 'n medeprofessor in die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Haar werk het onder meer al uitgeloop op 'n internasionale patent vir 'n veelbelowende plantekstrak wat borskankerbehandeling kan aanvul. Boonop het haar navorsing haar 'n plek besorg in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se program vir toekomstige professore, wat Suid-Afrikaanse akademici op alle vakgebiede vir professorskap toerus. Sy is die enigste US-akademikus wat by fase 2 van dié program ingesluit is.

Benewens waardetoevoeging tot die geneeskunde, doen sy ook haar deel om Suid-Afrika se bio-ekonomie te versterk en natuurbewaringspogings te ondersteun. “Deur die plante deur 'n ander lens en uit 'n ander hoek te beskou, leer 'n mens meer oor hoe hulle groei, hoe hulle uiteindelik op klimaatsverandering sal reageer, en hoe om hulle vir toekomstige geslagte te bewaar en in stand te hou," sê sy. “En dít dien hopelik as 'n inspuiting vir die ekonomie van die toekoms, terwyl ons terselfdertyd biotegnologie inspan om geneeskragtige plante te help bewaar. Hierdie filosofie maak my elke dag opnuut opgewonde oor my werk."

Granate, kougoed en sandolien

As 'n tweedegenerasie-wetenskaplike, volg sy in die voetspore van haar pa, prof Oswald Makunga van die Universiteit van Fort Hare, destyds een van die eerste swart plantkundiges in Suid-Afrika. Haar ma, Nosisa, wat onlangs oorlede is, was op haar beurt 'n kranige tuinier met 'n oog vir 'n spesiale plant. Kleintyd op Alice in die Oos-Kaap het Makunga haar dus reeds in die wonderwêreld van plante bevind.

Danksy hierdie “tuisgekweekte" liefde vir die natuur behaal sy uiteindelik in 2004 'n PhD aan die Universiteit van KwaZulu-Natal met die ontwikkeling van 'n biotegnologiese metode vir die volhoubare produksie van Thapsia garganica, 'n inheemse plant wat prostaatkankerbehandeling kan ondersteun. Sy het haar in 2008 by die US aangesluit, en is in 2015 tot medeprofessor bevorder.

Makunga bestudeer die afgelope aantal jaar die biochemie van spesies soos granate, Pelargonium, Stevia, Salvia en Sutherlandia, dikwels saam met medewerkers van oor die hele wêreld, waaronder in China, België, Mauritius, Kanada, Kenia, die Verenigde State en Frankryk.

Saam met haar studente ondersoek sy tans die fitochemiese en genetiese aspekte van Sceletium, oftewel kougoed. Die plant is bekend as 'n gemoedsopkikker en word reeds in verskeie nievoorskrifprodukte gebruik. Sy is onlangs terug van 'n besoek aan die Tankwa-Karoo, een van die dorste streke van Suid-Afrika, waar sy help soek het na populasies van een van die agt Sceletium-spesies wat in die westelike dele van die land aangetref word.

Van haar uitsette word deesdae gekommersialiseer deur Scientia, 'n nuwe fitofarmaseutiese afwentelmaatskappy wat deur die US se tegnologieoordragkantoor, Innovus, ondersteun word. Scientia is tans juis besig met die kommersialisering van 'n plantekstrak van die sandolien (Dodonaea viscosa of ysterbos) nadat Makunga en kollega prof Anna-Mart Engelbrecht van die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe bepaalde voordele vir borskankerbehandeling in dié plant geïdentifiseer het. Die twee navorsers het sedertdien 'n internasionale patent op die uitvinding bekom. Makunga het ook al 'n metode gepatenteer om die bekende geneeskragtige plante Pelargonium sidoides en Pelargonium reniforme te kweek.

“Ek hoop my bydraes brei die kennis van hierdie plante én van die mense wat dit gebruik het uit, en verhoog mense se aanvaarding van, en vertroue in, die gebruik van plante vir genesingsdoeleindes," sê hierdie voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Genootskap van Plantkundiges. “Die natuur is in soveel opsigte 'n seëning. Dit is wonderlik om buite in die veld te wees, en te ervaar hoe alles inmekaarsteek en werk. Dit maak 'n mens nuuskierig oor hoe plante wat byvoorbeeld in baie droë omgewings voorkom dit regkry om in sulke strawwe omstandighede te oorleef."

Bekroon en hooggeag

Makunga se vernuwende werk het haar oor die jare al heelwat konferensiepryse, toekennings en beurse besorg. Dít sluit in 'n besoek aan die Universiteit van Kalifornië en 'n internskap by die Instituut vir Landboubiotegnologie in Hongarye in haar studentedae, die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum se prys vir jong navorsers, en die US Rektorstoekenning vir onderrig en leer. Boonop was sy in 2017 en 2018 'n Fulbright-beurshouer aan die Universiteit van Minnesota.

'n Onlangse studie oor plaaslike wetenskapkommunikasie het Makunga ook as een van die 20 sigbaarste Suid-Afrikaanse wetenskaplikes aangewys. Hierdie geesdriftige dosent is gewis nie skugter vir 'n podium of mikrofoon nie, en is 'n gewilde spreker oor enigiets van die wonders van die natuur tot loopbaangeleenthede op wetenskaplike gebied. “Dit kom seker maar van my dae as 'n solis in die skoolkoor," lag sy.

Sy was in 2011 byvoorbeeld een van die heel eerste plaaslike wetenskaplikes wat Twitter (@noxthelion) begin inspan het om haar navorsing aan die algemene publiek oor te dra. Sedertdien het sy naam gemaak as 'n hoog aangeskrewe wetenskapkommunikasiekenner wat navorsing oor plante en hulle genesingskrag bevorder, en 'n kampvegter vir 'n sterker stem vir vroue en ander onderverteenwoordigde groepe op die vakgebied. Makunga is ook een van die stigterslede van die beweging #BlackBotanistsWeek, en 'n aktiewe deelnemer aan die jaarlikse Suid-Afrikaanse Tuindag.