Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties skaakmeester is trots op Rektorstoekenning
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 25/10/2021

​Daniel Barrish het al saam met sy oupa begin skaak speel nog lank voordat hy laerskool toe is. In graad 1 het in sy eerste nasionale junior kampioenskapstoernooi meegeding en gewen. Sedertdien is skaak 'n belangrike deel van sy lewe.

Hy het onlangs erkenning vir sy uitstekende prestasie in skaak gekry by die Universiteit Stellenbosch (US) se Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie. Die toekennings gee erkenning aan en vier studente se prestasies op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Hy was een van die 82 ontvangers van vanjaar se Rektorstoekennings en het die toekenning in die sportkategorie ontvang vir onder meer die volgende: sy oorwinning by die 2021 Wes-Kaap Ope-skaakkampioenskap en vir die feit dat hy Suid-Afrika vroeër vanjaar by die Afrika Individuele Skaakkampioenskap in Malawi asook by die 2021 FIDE (Internasionale Skaakfederasie) Wêreldbeker in Rusland verteenwoordig het.

Dit was vir hom 'n baie groot eer om die toekenning te ontvang, sê skaakmeester Barrish, 'n BCom-finalejaarstudent in Wiskundige Wetenskappe en Rekenaarwetenskap by die US. Hy is ook 'n lid van die Maties Skaakklub.

Mededinging kom natuurlik vir Barrish en hy geniet dit. “Ek is nogal 'n baie mededingende persoon, in voor- en teenspoed."

Hy het nou sy oog op die grootmeester-titel, 'n eer wat net die heel beste skaakspelers te beurt val, veral dié wat 'n internasionale toernooi gewen het. 

“My langtermyndoelwit is beslis om 'n grootmeester te word, maar COVID het ongelukkig 'n stok in die wiel gesteek. Om 'n grootmeester te word, moet jy aan oorsese toernooie, gewoonlik in Europa, deelneem. Dit is baie tydrowend, duur en moeilik om te organiseer met COVID-19," sê hy.

Oor sy toekomsplanne sê Barrish hy is besig om twee opsies teen mekaar op te weeg.

Een is om ses tot 12 maande af te vat, oor 'n afstand te werk en aan hoë-gehalte toernooie in Europa deel te neem. Die ander moontlikheid is om sy nagraadse studies voor te sit en voort te gaan om die “wonderlike studentelewe by die US" te ervaar. “Die gehalte van die studentelewe hier is een van die groot redes waarom ek die US aan vriende en eweknieë sal aanbeveel en dit is ook die hoofrede waarom ek so onwillig om weg te gaan – so onwillig dalk dat ek saal aanbly om my meestersgraad te doen."

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.