Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-alumnus onder top 6 van SAICA Trailblazer-toekennings
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 21/10/2021

Kamir Arjun, 'n HonsBRek-alumnus van die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Sellenbosch is een van die top ses van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) se Trailblazer-leerlingskaptoekennings van 2021.  Arjun, wat in sy tweede jaar van leerlingskap by Deloitte werk, is ook die wenner van een van die kategorieë.

By die 2018 Desember-gradeplegtigheid, waar Kamir sy BRek-graad ontvang het, was hy een van vyf Projek Zero-studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswese wat hul grade behaal het.

Projek Zero was 'n inisiatief om die werklike koste van studie aan die US vir talentvolle studente tot 'n nulbedrag af te bring. Dit het studente in staat gestel om hul studie sonder finansiële kommer of studieskuld te voltooi.

Volgens Kamir het die beurs hom gehelp om sy droom van 'n graad in die besigheidsveld te verwerklik. “Ek is lief vir die sakewêreld, dit fassineer my absoluut. Vandat ek 'n klein seuntjie was, het ek produkte gemaak en dit verkoop. Ek het toe al geweet dat ek 'n stel vaardighede benodig wat my kan bemagtig om gesonde finansiële besluite te neem sodat ek as 'n volwassene finansieel vry kan wees. Dit het die koers aangedui vir my om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word."

Toe (in 2018) het Kamir gesê hy hoop om eendag 'n mentor te word vir studente wat ook die weg van geoktrooieerde rekenmeester wil volg.​