Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Regstudent vereer vir verbreking van stigma rondom manlike leierskap
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 19/10/2021

​Toe Willem Sterrenberg Horn, 'n eerstejaar-nagraadse LLB-student, hom in 2019 die eerste keer beskikbaar gestel het vir verkiesing as huiskomiteelid, was hy die enigste nie-heteroseksuele kandidaat. Vanjaar was daar egter verskeie nie-heteroseksuele kandidate – iets wat Horn baie trots en bly maak.

“Ek glo 'n mens speel 'n rol deur gesien te word," sê Horn, en voeg by dat hy 'n groot kulturele verskuiwing in studenteleierskap sien gebeur het – veral in die tradisionele manlike ruimtes. Hy sê dit is ook sigbaar in die private studente-organisasies (PSO's) wat tradisioneel hetero-normatiewe ruimtes was waar slegs 'n sekere groep in die binnekring toegelaat is.

“Kampuslewe het die afgelope tien jaar baie verander … toe die kultuur (van studenteleierskap) hoofsaaklik wit, manlik en cisgender was. Daar was nie altyd plek vir mense soos ek in hierdie tipe leierskap nie. Dit het my baie bly gemaak om te sien dat hierdie plek in staat is om te kan verander."

Horn, wat lid van die Pieke-PSO se huiskomitee in 2019/2020 was (met kultuur as sy hoofportefeulje) en Pieke se onderprimarius in 2020/21, is een van die ontvangers van vanjaar se Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie. Die toekennings gee erkenning aan studente se prestasies op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Horn is in die afdeling vir kultuur vereer. Hy is geloof daarvoor dat hy as 'n openlike gay man stigmas rondom manlike leierskap verbreek het as onderprimarius van Pieke, een van die oudste manlike PSO's op kampus, en vir sy rol om 'n standaard te stel vir manlike gemeenskappe wat na inklusiwiteit en diversiteit strewe.

Horn was van 2020 tot 2021 die leier van die Pieke-acapellagroep. Hy was ook 'n KuKo Woordfees-kunstenaar in 2020 en die naaswenner in die KuKo-toneelfees in 2019.

Een van sy benoemers beskryf hom as 'n “entoesias, deelnemer en ondersteuner van verskeie kulturele geleenthede by die Universiteit Stellenbosch (US). Dit sluit die bekende acapellakompetisie van die US, Konnek Vensters en die bekroonde verhoogstuk, Kantlyn. ​​

“Sy dade en pogings het nie 'n voorbeeld gestel nie, maar ook 'n standaard wat nog lank na sy teenwoordigheid op kampus sal voortbestaan …"

Afgesien daarvan dat hy akademies baie goed presteer, is hy ook genomineer omdat hy op so baie vlakke presteer. “Hy is die verpersoonliking van uitnemendheid ondanks teëspoed, aangesien hy keer op keer onder aanslae deurgeloop het, maar aangehou het om deur te druk en om 'n hoë standaard van uitnemendheid te handhaaf."

Horn is 'n boorling van Newcastle in die noorde van KwaZulu-Natal en het saam met sy gesin Kaap toe verhuis toe hy 16 was. Hy het sy BA-graad in Teologie en Sielkunde in 2020 voltooi. 

Hy het nog twee jaar van LLB-studie wat voorlê en hoop om voort te gaan om steeds “'n invloed op 'n hele aantal produksies te hê en om kunstenaars op hul pad te help". Sy tienjaarplan van hier af sluit in om sy loopbaan as 'n kandidaat-prokureur te bevorder, “maar ook om myself die ruimte toe te laat om te skep".

“Ek is innig dankbaar vir daardie mense wat my genomineer het … dit was 'n groot herinnering dat die werk wan 'n mens 'agter die skerms doen', nie ongesiens verbygaan nie."​​

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.