Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Presterende regstudent wil maatskaplike geregtigheid beklemtoon
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 19/10/2021

Finalejaar LLB-student en sekretaris van die Universiteit Stellenbosch (US) se studentetak van die Black Lawyers Association (BLASC SU) Thembalethu Seyisi het een groot langtermyndoelwit en dit is om die klem op maatskaplike geregtigheid te plaas.​

Hy wil dit veral in tradisioneel konserwatiewe omgewings soos korporatiewe Suid-Afrika doen. “Hulle kan baie rigied wees met hul winsteikens, en dit omarm nie noodwendig projekte vir maatskaplike geregtigheid nie," het Seyisi, 'n ontvanger van die 2021 Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie in die afdeling vir Sosiale Impak, in 'n onderhoud gesê.

Seyisi, 'n medestigter van die US se BLASC – wat saam met ander takke op ander universiteitkampusse regoor Suid-Afrika na 'n “gedeelde visie vir getransformeerde regsonderrig, 'n beter studente-ervaring en die bevordering van menseregte" strewe – was ook deel van die #Action4Inclusion-veldtog, 'n skarefinansieringsveldtog wat daarop gemik was om die sogenaamde “verlore middel"-studente se studieskuld te verlig. Hy was onder meer vir die koördinering van fondsinsamelingsaktiwiteite en die bemarking van die veldtog aan die media verantwoordelik.

Die Rektorstoekennings gee erkenning aan en vier die prestasies van studente op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Seyisi, wat van Kariega net buite Gqeberha in die Oos-Kaap afkomstig is en wat aan die Oaklands High School in Landsdowne, Kaapstad gematrikuleer het, het gesê die erkenning om die toekenning te ontvang laat hom “geëerd en nederig" voel.

“Dit is 'n aanduiding dat ek iets reg doen en spoor my aan om meer werk op die gebied van maatskaplike geregtigheid te doen," het Seyisi gesê, wat ook 'n voormalige raadslid van die niewinsgewende organisasie, Salesian Life Choices, is wat gestig is om jong mense uit agtergeblewe gemeenskappe op die Kaapse vlakte aan te moedig om verantwoordelike keuses te maak.

Ter uitbreiding van sy passie vir maatskaplike geregtigheid, sê hy die volgende: “Dit gaan eenvoudig daaroor om almal met gelyke besorgdheid te hanteer. Dit gaan daaroor om te verseker dat een groep dit nie moeiliker as 'n ander vind om in 'n omgewing te bestaan ten opsigte van ras, gender, seksuele oriëntasie en ander merkers van uitsluiting nie."

Op 'n vraag oor wat hom in sy aktivisme bo en behalwe sy veeleisende akademiese studie aanspoor, sê Seyisi: “Tans spoor die sterk ongelykheid en onmenslike armoede my aan om 'n veranderende mag te wees. Ek glo die bevordering van maatskaplike geregtigheid bied die oplossing vir baie van ons probleme en die reg is 'n instrumentele stuk gereedskap om die samelewing soos in die Grondwet in die vooruitsig gestel is, te word.

“Ek het 'n gesin van vier kinders grootgeword. My ma was 'n huiswerker en my pa was werkloos. Daar is aan ons basiese behoeftes voldoen, maar dit was geensins 'n lewe van oorvloed nie. Wanneer jy so grootword, wonder jy 'waarom het party meer as ander?' Jou vraag is die idee van geregtigheid.

Seyisi, 'n beurshouer van die Stella-stigting, het ook 'n boek getiteld 21 Life Lessons @ 21 saamgestel, wat onderhoude met 21 suksesvolle Suid-Afrikaners behels het. Sy mentors “wat 'n onuitwisbare indruk op my gemaak het" sluit in prof Thuli Madonsela, prof Kgethi Phakeng en oudregter Edwin Cameron.​

Op die vraag oor wat sy langtermyndoelwit vir sy loopbaan is, antwoord Seyisi grappenderwys: “Om hoofregter te word!"

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.