Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-akademici ontvang gesogte letterkundepryse
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 17/09/2021

Twee dosente in Kreatiewe Skryfkuns in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs gesogte toekennings ter erkenning van hul uitmuntende letterkundige bydraes ontvang. Dr Alfred Schaffer het die Nederlandse PC Hooft-prys ontvang, en dr Willem Anker die kykNET-Rapport-fiksieprys asook die ATKV-prosaprys.

Alfred Schaffer

Schaffer, wat as een van die mees begaafde Nederlandse digters van sy tyd beskou word, is op 14 Desember 2020 as die wenner van die prestigeryke PC Hooft-prys aangewys vir sy oeuvre, wat reeds uit nege digbundels bestaan. Die PC Hooft-prys is een van die hoogste letterkundige eerbewyse in Nederland. Dit is laas in 1991 aan iemand met Suid-Afrikaanse bande toegeken toe Elisabeth Eybers die prys vir haar Afrikaanse poësie-oeuvre ontvang het.

Schaffer kon uiteindelik op 9 September 2021 die prys persoonlik gedurende 'n hibridiese geleentheid in Den Haag in ontvangs neem. 'n Aantal digters, waaronder die Suid-Afrikaners Antjie Krog en Ronelda S Kamfer, het as deel van die program uittreksels uit sy en hul eie werk voorgelees, en gesels oor wat sy poësie so uitsonderlik maak.

“Dit is 'n groot eer," sê Schaffer. “Ek het al voorheen wonderlike letterkundepryse ontvang, maar ek reken die impak van dié een is op 'n gans ander vlak. Dit is in sekere sin lewensveranderend. Omdat ek bevoorreg genoeg was om daar te wees en die prys self te ontvang, het ek persoonlik ervaar hoe mense in Nederland en België die toekenning beskou.

“My versamelde werk tot dusver is ook gepubliseer – 'n 720 bladsye lange boek wat net meer as 20 jaar van my lewe omvat. Dit voel soos die slot van die een hoofstuk, en die begin van 'n nuwe een."

Oor Krog en Kamfer se teenwoordigheid by die prysuitdeling sê hy: “Dit voel reg dat hulle daar was, en hul teenwoordigheid het werklik soveel vir my beteken. Ek is 'n groot bewonderaar van hulle albei. Ronelda het die mooiste dinge oor my en my werk gesê, en Antjie se Afrikaanse vertalings van twee van my gedigte oor my oorlede ouers het my byna in trane gehad.

“Dit was belangrik vir my dat nie net die Nederlandse taal verteenwoordig moes wees nie, maar ook Suid-Afrika deur Antjie en Ronelda, sowel as Papiamentu, my ander taal, die taal van my ma, wat op die Karibiese eiland Aruba gebore is."

Schaffer sal boonop op 22 en 23 Oktober by die Breytenbach Sentrum in Wellington se jaarlikse Tuin van Digters vereer word.

Hy het in April 2021 ook die prestigeryke Herman de Coninck-prys vir sy digbundel Wie was ik ontvang. Sy lys eerbewyse sluit voorts in die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.

Schaffer het oor die jare etlike dig- en prosabundels die lig laat sien, soos Zijn opkomst in de voorstad (2000), Dwaalgasten (2002), wat vir die VSB-poësieprys benoem is, Geen hand voor ogen (2004), Schuim (2006), en Kooi (2008). Sy werk is al in Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Masedonies, Turks, Indonesies en Sweeds vertaal.

Willem Anker

Anker het op sy beurt in 'n aanlyn plegtigheid op 11 September 2021 die kykNET-Rapport-prys vir 'n tweede keer ontvang – hierdie keer vir sy derde roman, Skepsel. Hy het dieselfde eerbewys in 2015 met sy roman Buys gewen, wat danksy die vertaler Michiel Heyns ook in Engels as Red Dog verskyn het. Die nasionale kykNET-Rapport-toekennings erken en beloon uitnemendheid in Afrikaanse skryfkuns. 

“Ek is besonder geëerd om hierdie gesogte prys te wen," sê Anker. “Dit beteken vir my baie. Dit is 'n erkenning van my werk, en 'n aansporing om aan te hou."

Die kykNET-Rapport-prys is egter nie die eerste toekenning wat hy met Skepsel verower het nie. Die roman het op 31 Maart ook die UJ-prys vir 2021 ontvang.

En op 17 September is aangekondig Anker het met Skepsel ook die ATKV-prosaprys losgeslaan. Dit gaan aan die skrywer van die beste gewilde Afrikaanse prosawerk wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.

“Ek is baie bly oor die reaksie op die boek, en voel geëerd dat mense daarvan hou en dink dit is van 'n sekere gehalte," sê Anker.

Anker is gewis geen vreemdeling op prysuitdelingsverhoë nie. Hy het in 2016 ook die gesogte Hertzogprys, die hoogste eerbewys in die Afrikaanse letterkundewêreld, vir Buys gewen. Die prys erken oorspronklike literêre werk in Afrikaans en word jaarliks vir onderskeidelik poësie, drama en prosa toegeken.

Daarbenewens het Buys hom die UJ-prys vir 2015 besorg. Anker het in 2016 'n Fleur du Cap-toekenning vir sy toneelstuk Samsa-masjien in die kategorie “Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks" ontvang, en in 2008 die UJ-debuutprys vir die roman Siegfried gewen.

Die US se Departement Afrikaans en Nederlands is trots op hierdie twee skrywer-dosente se prestasies, en verheug dat hul werk soveel lof ontvang. “Ons voor- en nagraadse studente is bevoorreg om by sulke begaafde skrywers te kan leer. Dít gee hulle beslis 'n voorsprong wat Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en kreatiewe skryfkuns betref," het die Departement gesê.