Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#Inenting: Baan 'n weg deur wantroue en valse berigte
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 16/09/2021

​'n Nuwe variant van die COVID-19-virus wat onlangs op verskillende plekke in Suid-Afrika opgespoor is – die sogenaamde C.1.2 – word fyn dopgehou, maar is nog nie 'n ernstige bedreiging nie.

Dít het aan die lig gekom in 'n aanlyn vraag-en-antwoordsessie van die Universiteit Stellenbosch (US) oor onderwerpe wat met die COVID-19-entstof verband hou, soos die belang van inenting, wolhaarstories oor die entstof, en toegang tot inenting. Prof Wolfgang Preiser, hoof van die Afdeling Geneeskundige Virologie, en dr Jantjie Taljaard, hoof van die Afdeling Infeksiesiektes, albei van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het die gehoor toegespreek.

In reaksie op kommer oor die C.1.2-variant het Preiser gesê: “Die C.1.2 is in hierdie stadium 'n variant van die COVID-19-virus wat ons by 'n klein persentasie van geïnfekteerde mense op verskillende plekke in die land opgemerk het. Die voorkoms daarvan het oënskynlik nie die afgelope agt weke toegeneem nie. Die meeste infeksies word steeds deur die Deltavariant veroorsaak. Daar is tot dusver geen bewyse dat C.1.2 erger sal wees as die Deltavariant nie, so op grond van wat ons weet, word dit nie tans as 'n belangrike óf kommerwekkende variant beskou nie.

“Ons hou sake fyn dop om te kyk of die C.1.2-variant dalk toeneem. Indien dit in hierdie tydperk van verhoogde waarneming na 'n moontlike probleem begin lyk – soos as dit dalk al hoe meer voorkom of 'n klomp mense infekteer wat ingeënt is – kan dit as 'n kommerwekkende variant verklaar word. Maar in hierdie stadium bied dit nie rede tot kommer nie. Wees gerus dat dit dopgehou word."

Ook die volgende belangrike vrae is beantwoord:

As ek reeds COVID-19 gehad het, kan ek moontlik 'n hewiger reaksie op die entstof hê, en miskien meer newe-effekte, omdat ek klaar teenliggaampies het?

Preiser: Ja, op albei punte. Dit wil voorkom of entstofverwante newe-effekte (algemene ongesteldheid, koors, hoofpyn vir 'n dag of twee) meer waarskynlik is by mense wat reeds 'n mate van vorige immuniteit het nadat hulle vroeër COVID-19 opgedoen het. Dít is die nadelige kant. Soos wat die Suid-Afrikaanse owerhede aanbeveel, behoort 'n mens 'n maand te wag nadat jy van COVID-19 herstel het voordat jy die entstof ontvang. Aan die positiewe kant sal jy 'n baie goeie immuunreaksie hê as jy ingeënt word nadat jy ook die infeksie gehad het.

Hoe beïnvloed die COVID-19-entstof 'n mens se vrugbaarheid? Hoe sal ons weet watter langtermynuitwerking dit het as ons nog nie die bevindinge van langtermynstudies het nie?

Taljaard: Die debat oor vrugbaarheid het ontstaan uit 'n teoretiese kwessie wat vroeg in 2020 by die aanvang van COVID-19-navorsing geopper is. Die moontlike aanwesigheid van 'n antigeen op die oppervlak van die plasenta wat dalk die stekelagtige proteïen op die oppervlak van die SARS-CoV-2-virus naboots, is deeglik bestudeer, maar daar kon geen biologiese gronde daarvoor gevind word nie. Deurlopende waarneming by mense wat ingeënt is, bring geen afname in vrugbaarheid aan die lig nie. Dít onderstreep die data uit die inentingsproewe, wat op soortgelyke swangerskapsyfers onder ingeënte en nie-ingeënte mense dui. Ons weet swanger vroue loop groter gevaar om ernstige COVID-19 op te doen, in die hospitaal te beland en te sterf vergeleke met vroue wat nié swanger is nie, en kan ook hulle pasgebore babas aansteek. Dít is waarom daar nou universeel aanbeveel word dat swanger vroue die entstof ontvang om sowel hulleself as hulle kinders te beskerm.

Party bronne beweer dat die COVID-19-entstof sekere soorte kanker kan veroorsaak. Is dit waar?

Preiser: Ek het dit nog nie voorheen gehoor nie, en weet nie waar dit vandaan kom nie. Dit kan nie bewys word nie, want niemand het voor April 2020 rond enige COVID-19-entstof ontvang nie, en kanker ontwikkel oor jare. Ek is nie bewus van enigiets geloofwaardig wat daarop sou kon dui dat die entstowwe enige kanker-implikasies het nie. Onthou, die konsepte waarop die entstowwe berus, word al dekades lank op verskeie proefdiere sowel as mense getoets en, in sommige gevalle, gebruik, en bevat geen bekende of vermoedelike kankerwekkende elemente nie. Ons mening? Onsin.

Dit lyk of dit meestal ouer mense is wat met COVID-19 in die hospitaal beland, so waarom moet jong volwassenes ingeënt word?

Taljaard: Dis nie onwaar dat COVID-19 'n ernstiger uitwerking op ouer mense het nie. Om onnodige sterftes te voorkom, is inentings dus in fases toegedien, eers vir bejaardes, en daarna vir die jonger ouderdomsgroepe. Nou het ons egter 'n punt bereik waar ons gemeenskapsimmuniteit probeer bereik, wat beteken ons moet meer as 80% van die algehele bevolking inent. Ek dink persoonlik dis uiters belangrik vir ons onderwysstelsel dat jonger mense ingeënt word – sodat leerders en studente kan terugkeer na die klas en sportveld. Indien nie, en uitbrekings duur voort, sal die regering nie anders kan as om instellings te sluit nie. En ons het gesien hoe nadelig dít onder andere vir jongmense se opvoeding en sosiale ontwikkeling is. Boonop was daar gedurende die derde vlaag 'n duidelike toename in jongmense wat in Tygerberghospitaal opgeneem is. Kinders kan ook geïnfekteer word en die siekte oordra. Trouens, in baie van ons huishoudings is die kinders nou die draers van die infeksie. Die doel is om ons met inenting uit hierdie pandemie te kry, en elkeen tel!

Potgooi: Klik hier om na 'n potgooi deur prof Wolfgang Preiser te luister oor COVID-19 en inentings.