Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SACI-medalje vir top US chemiestudent
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 23/08/2021

Kayla Heinrich van die Universiteit Stellenboch het die Suid-Afrikaanse Chemie-instituut (SACI) se gesogte James Moir-medalje ontvang as 2020 se beste honneursstudent in chemie aan die US.

Die Jame Moir-medalje word jaarliks toegeken aan die beste HonsBSc-student in chemie aan elke universiteit in Suid-Afrika. Om in aanmerking vir hierdie toekenning te kom, moet studente minstens 'n gemiddelde prestasiepunt van 75% behaal.

Kayla, 'n oudleerder van Fairmont Hoërskool in Durbanville, sê dat sy aanvanklik 'n genetikus wou word. Nadat sy egter as eerstejaar die fisika so geniet het, het sy besluit om van graadprogram te verander na biologiese laserfisika. En in haar derdejaar het sy uiteindelik die besluit geneem om oor te slaan na chemiesie biologie ten einde haar passie te volg.  

“Ongelukkig het dit beteken dat dit my 'n jaar langer geneem het om my graad te verwerf. Na my derdejaar was ek seker dat chemie die vak vir my is en dat ek my studies vir 'n HonsBSc-graad wou voortsit. Ten spyte van die feit dat dit 'n groot uitdaging was, veral gedurende die COVID-19-pandemie, het ek die uitdaging baie geniet, asook die feit dat ek so baie in een jaar kon byleer."

Sy is tans besig met haar MSc in chemie onder studieleiding van prof Selwyn Mapolie en prof André de Villiers.

Haar raad aan ander studente?

“Moenie moed opgee nie. Jy is nie alleen nie. Almal voel soms asof hulle nie meer kan voortgaan nie. Maar moenie moed opgee nie. Wat as jy wél kan bereik wat mense sê jy nie kan nie? Ek het tot hier gekom deur voortdurend my grense te skuif en uit my gemaksone te beweeg."

Sy oorweeg dit om 'n PhD in chemie aan te pak, maar wil ook haar passie vir opvoeding ontgin: “Ek was vir ag jaar lank 'n tutor vir hoërskoolleerders en universiteitstudente. Ek geniet dit om studente te help om daardie aha-oomblik te bereik deurdat hulle hulself uitdaag om hul grense te skuif en uiteindelik ontdek dat die vak waarmee hulle aanvanklik gesukkel het, nou een van hul gunstelinge is."

Kayla het ook onlangs die SMM-toekenning gekry vir die beste HonsBSc-student in die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap.