Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumna Erin Christie lei SA Olimpiese hokkiespan
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 02/08/2021

Die Suid-Afrikaanse hokkiespeler en alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), Erin Christie (gebore Hunter), het al 59 keer vir Suid-Afrika uitgedraf. Meer onlangs het sy  Suid-Afrika verteenwoordig by die Somer Olimpiese Spele in Tokio, Japan, boonop as kaptein van die nasionale span.

'n Jaar gelede is die Suid-Afrikaanse span se pogings byna gefnuik toe die Somerspele uitgestel is weens die Covid-19 epidemie.

Die uitstel was teleurstellend. Almal het hierdie doelwit in gedagte gehad, maar toe is die doelpale met 'n jaar verskuif. Ons het probeer om dit in 'n positiewe lig te sien en as 'n bykomende jaar se voorbereiding," sê Christie. 

Die pandemie het ook beteken dat daar minder internasionale speeltyd was.

​Wanneer die grendeltyd dit toegelaat het, het die span elke tweede naweek saam deurgebring om te oefen. Christie het ook op haar eie geoefen danksy die span se sportwetenskaplike wat 'n tuis-gebaseerde program saamgestel het om te verseker dat almal fiks bly. 

Die pandemie het egter nie die atleet se volharding geraak nie. Dit is dieselfde vasberadenheid wat sy getoon het toe sy 'n indrukwekkende baanrekord opgebou het as professionele hokkiespeler sedert hoërskool. In graad 10 het sy gespeel vir die Suid-Gauteng o.16 C-span en in graad 12 vir hul o.18 A-span. Sy het aangesluit by die Maties eerste span in 2012 en in 2013 het sy Suid-Afrika verteenwoordig as deel van die o.21-span by die Junior Wêreldbeker in Duitsland. In 2014 het sy haar senior nasionale debuut gemaak as deel van die Suid-Afrikaanse vrouespan teen Holland.

Vier jaar later het Christie Suid-Afrika verteenwoordig by die Statebond Spele in Australië en die Wêreldbeker in Engeland en in 2019 het sy die Suid-Afrikaanse span gelei vir die FIH Hokkie-reeks se eindstryd in Valencia.

Christie het begin hokkie speel toe sy agt was, en gevolg in die voetstappe van haar ouers broers, neefs en niggies. Teen graad 10 het sy geweet dat hokkie haar “ware liefde was wanneer dit kom by sport". In graad 11, terwyl sy 'n Maties hokkiekamp by die US bygewoon het, het sy verlief geraak op die universiteit.

Sy het ingeskryf vir 'n BSc graad in 2011, toe oorgeskakel na 'n BSc in Chemie en Polimeerwetenskap. Sy het tuisgegaan in Sonop-koshuis voordat sy ingetrek het by vriende, maar selfs met haar besige oefen-skedule het sy die sosiale kant van studentelewe ook geniet, sê Christie.

Terwyl sy by die US was is sy twee keer aangewys as die Maties Vroue-hokkiespeler van die Jaar. In 2015 het sy aan die US gegradueer met 'n Nagraadse Sertifikaat in Opvoeding en gee nou Fisiese Wetenskap aan Randpark Hoërskool in Johannesburg waar sy vroeër self 'n leerling was.

Christie glo dat dit belangrik is om 100% teenwoordig te wees in wat jy ook al doen as jy die beste wil wees – of dit op die veld is, terwyl jy ontspan, of tyd deurbring met familie en vriende. Dit is raad wat sy sou gee aan enigeen wat 'n professionele atleet wil wees.

Dit is hierdie filosofie wat haar oor die jare sukses laat behaal het. Sy is egter bewus daarvan dat hierdie sukses nie net aan haar eie pogings toegeskryf kan word nie.

​“Ek is regtig bevoorreg om ondersteuningstelsels om my te hê by Randpark Hoër. Die hoof is baie ondersteunend en trots op wat ek bereik het, terwyl die Wetenskap-departement baie druk van my wegneem wanneer ek weg is. My man Andrew was ook nog altyd baie ondersteunend van my sport-loopbaan en tel al die balle op wat ek langs die pad laat val. Ek is baie geseënd om mense te hê wat my ondersteun in albei my liefdes – my sport- en my onderwysloopbaan."

  • ​Ons SA vrouehokkiespan in Tokio het ongelukkig die naweek hul wedstryd teen Indië verloor.