Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Program vir toekomstige professore: Dr Rehana Malgas-Enus
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 30/07/2021
Dr Rehana Malgas-Enus, 'n dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, is deel van 'n uitgesoekte groep personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat deelneem aan die program vir toekomstige professore (FPP), 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die FPP beoog om 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore oor alle vakrigtings heen te ontwikkel. Ons vertel jou meer oor haar loopbaan.

 

Die anorganiese chemikus dr Rehana Malgas-Enus se navorsing handel oor katalisators, en hoe kostedoeltreffende nanogrootte stowwe chemiese prosesse bespoedig. Hierdie groothartige dosent was ook die katalisator vir SUNCOI, die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikinisiatief, wat hoërskoolleerders 'n geleentheid bied om self laboratorium-eksperimente te doen.

Haar RME-Nanonavorsingsgroep in die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap ontwerp metaalnanodeeltjies met spesiale eienskappe vir toegespitste toepassings – stabiele, groen nanomateriale wat omgewings- en mediese probleme oplos sonder om nuwe omgewingsuitdagings te skep.

Malgas-Enus is deel van vanjaar se inname van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se program vir toekomstige professore (FPP) (fase 01). Die FPP help ontwikkel senior dosente in gerekende vakkundiges wat deur hulle voorbeeld en uitnemendheid kan lei en sinvol tot hulle onderskeie vakgebiede aan universiteite in Suid-Afrika én die buiteland kan bydra. Programondersteuning sluit in hulp met die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se gradering- en finansieringsprosesse, hoe om 'n afgeronde akademikus te wees, gereelde kleingroepvoorligtingsessies, sowel as lesings en werksessies deur vooraanstaande vakkundiges.

“Ons mentors motiveer en inspireer ons nie net akademies nie, maar gee ons ook raad oor hoe om ons loopbane te bestuur en na ons geesteswelstand om te sien. Dit is ongelooflik waardevol, veral in hierdie moeilike tyd," sê sy. “Dit gaan nie net daaroor om ons in die toekomstige professorale kohort te ontwikkel, en om akademies die beste te wees en te vaar nie. Hulle evalueer ook huidige omstandighede en pas die program dienooreenkomstig aan sodat dit deelnemers soveel moontlik kan baat.

“Deur die voorligtingsessies leer ons baie uit mekaar se ervarings. Ons het besef dat ons onderskeie universiteite nie juis so verskillend is nie. Ons worstel met dieselfde kwessies, en ons help mekaar daardeur, wat 'n uiters waardevolle oefening is. Die program is soveel meer as waarvoor ek ooit kon vra. Dit wil ons werklik vir professorskap voorberei," sê dr Malgas-Enus.

Rolmodel

Wanneer sy oor haar loopbaan nadink, staan haar ma, Jasmiena, beslis uit as haar rolmodel. “Wanneer sy my wou aanmoedig, het sy altyd gesê: 'Gaan slaan hulle voete onder hulle uit.'" Hierdie kosbare woorde het dr Malgas-Enus bo die beperkinge van haar kindertyd in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte help uitstyg.

“Met my pa se dood was my ma maar in die dertig, so oud soos ek nou is. Sy het nie 'n lekker werk gehad soos ek nie, maar het in 'n gereedskapfabriek gewerk. Ek het ook universiteitsvakansies daar gewerk. Jy verloor letterlik alle gevoel in jou vingers. Sedert ek 10 jaar oud was, het sy ons op haar eie onderhou. Haar voorbeeld het my verantwoordelik laat voel om ook my deel te doen. Ek het seker gemaak dat ek die heel beste punte behaal, en het altyd beplan om te gaan studeer."

Dr Malgas-Enus was nie van plan om Chemie te gaan studeer nie, maar wou 'n dokter word wat geneesmiddels ontwikkel. Maar toe loop sy in 2001 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) by die praktiese klasse vir eerstejaars in en besef hoe Chemie haar kan help oplossings skep.

“Ek was dadelik verlief. Ek het nie eens geweet jy kan Chemie studeer en wat jy daarmee kan doen nie. Ek het nooit voorheen enige blootstelling aan praktiese werk of aan die vak op die internet gehad nie."

Sedertdien het sy haar loopbaan haarfyn beplan. Teen haar tweede studiejaar het sy haar professore meegedeel dat sy 'n PhD wou behaal (wat sy wel in 2010 aan die US verwerf het). En gedurende haar MSc-jare, toe nog by die UWK, het sy reeds 'n professoraat in die oog gehad. “Ek was nog nooit in die versoeking om die akademie vir die bedryf te verruil nie. As 'n akademikus, kan ek my eie navorsing doen en my eie belangstellings najaag," sê dr Malgas-Enus.

“My pa het altyd gesê ek kan enigiets wees wat ek graag wil wees. Ek het sedertdien nog nooit, selfs nie vir 'n sekonde, gedink dat ek nié kan wees wat ek wil wees nie. Dit gaan oor hoe jy grootgemaak word," verduidelik sy.

Sy glo ook onwrikbaar in die krag van woorde. “Moet nooit vir studente sê hulle sal nie die paal haal nie. Vertel hulle hulle het potensiaal. Ek moet nog 'n student teëkom wat hard werk en dan nié die paal haal nie. Hulle het net die regte ondersteuning nodig," sê die voormalige ontvanger van 'n merietetoekenning vir dosente van die Claude Leon-stigting, en wenner van 'n NNS-wetenskapuitreikprys in 2018. Trouens, sy erken sy sal selfs so ver gaan as om met haar studente se ma's bevriend te raak om te sorg dat die studente van alle kante ondersteun word. “'n Mens kan nie anders as om betrokke te wees nie, veral gedurende die COVID-19-pandemie. Ons studente voel angstig en oorweldig.

“As ek mense kan help, waarom sal ek dit nie doen nie? Al jaag 'n mens dalk die Nobelprys in Chemie na, kan jy steeds môre of oor twee jaar sterf. Ek wil intussen voel dat ek op hierdie oomblik iets sinvol met my lewe doen!"