Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Musiekonderrig kan leerders vir werkplek in 21ste eeu toerus
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/07/2021

'n Onlangse navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat musiekonderrig in skole leerders met vaardighede kan toerus wat in die werkplek van die 21ste eeu nodig gaan wees.

“Die werkplek van die toekoms gaan onvoorspelbaar en veranderlik wees en gaan 'n vlak van aanpasbaarheid, kreatiwiteit en innovasie vereis wat die hedendaagse werksmark nou maar net begin vereis. Deur krities om te gaan met musiek wat leerders geniet en deur hulle toe te laat om musiek te skep, kan ons hierdie en ander vaardighede ontwikkel," sê die Johannesburgse musiekonderwyser, dr Angie Mullins, wat onlangs haar doktorsgraad in Musiek aan die US behaal het.

Sy voeg by dat dit vir hedendaagse leerders belangrik is om die regte vaardighede vir die toekoms te hê, aangesien navorsing getoon het dat sowat 2 miljoen beroepe teen 2030 nie meer sal bestaan nie weens outomatisasie in die werkplek.

Mullins het pedagogiese tegnieke soos projekgebaseerde leer, ondersoekgebaseerde leer, spelifikasie (die gebruik van rekenaarspeletjie-ontwerpelemente en -beginsels) en gemengde leer gebruik as deel van haar navorsingstudie. Sy sê hierdie instrumente is onderbenut in die musiekklaskamer en hou reusevoordele in.

Leerders in haar graad 7-klas het aan die navorsing deelgeneem deur selfassesserings ná elke les te voltooi en deur aan fokusgroepbesprekings deel te neem oor die doeltreffendste onderrigmetodes, die bekwaamhede wat hulle voel hulle die meeste deur musiek ontwikkel het en of die terugvoer in die klas en leiding nuttig was al dan nie.

Mullins sê die leerders het 'n elektrofoon ('n musiekinstrument wat klank deur elektriese stroming genereer) gebou toe hulle musiekinstrumente bestudeer het. Hulle moes 'n heeltemal unieke instrument ontwerp en dit uit verskeie materiale bou, die bedrading doen met behulp van 'n Arduino-bord, die klanke wat hul instrumente sou maak, programmeer en die kode skryf wat die sneller vir die klanke was.

Hulle het ook aan skynverhore oor ware hofsake oor die skending van kopiereg deelgeneem waar 'n kant in die saak aan hulle toegeken is en hulle dan musiekbewyse ter ondersteuning van of teen 'n kopiereg-eis moes vind.

Elke leerder het ook gedurende die verloop van die jaar geleer om 'n musiekinstrument te bespeel deur middel van 'n omgekeerde* klaskamer en het saam in 'n ensemble gespeel wat aanvanklik onder leiding van Mullins was, maar later deur die leerders self gedirigeer is. 

“Ek het gevind musiekonderrig kan help om sleutelvaardighede by leerders te ontwikkel. Dit kan help om hul ontledingvermoëns (bv kritiese denke, probleemoplossing, besluitneming) te ontwikkel en te verbeter; asook hul interpersoonlike vaardighede (bv kommunikasie, samewerking, onderhandeling); die vermoë om take uit te voer (selfleiding, produktiwiteit, deursettingsvermoë); verwerking van inligting (bv inligtings- en mediageletterdheid, veilige en verantwoordelike gebruik van tegnologie); en die kapasiteit vir verandering (bv kreatiwiteit, innovasie, buigsaamheid en aanpasbaarheid). Die grootste ontwikkeling het in die vaardigheidsareas vir die kapasiteit vir verandering en interpersoonlike vaardighede plaasgevind.

“Deur te leer om 'n musiekinstrument in 'n selfafgerigte omgewing te bespeel, was veral doeltreffend om veelvoudige bekwaamhede te ontwikkel. Deur aan leerders geleenthede te gee om deel te neem aan langtermyn-groepsprojekte en werk wat kreatiwiteit en innovasie vereis, was ook uiters belangrik vir doeltreffende vaardigheidsontwikkeling.

“Die selfassesserings wat hulle ná elke les voltooi het, was nie net 'n doeltreffende instrument om die persepsies van hul vordering te volg nie, maar het ook hul megakognitiewe (denke oor strategieë om 'n taak uit te voer) vaardighede ontwikkel."

Mullins sê die terugvoer van leerders toon dat musiek tot hul algehele opvoeding kan help en dat die bekwaamhede wat hulle in die musiekklaskamer opgedoen het, na ander vakke soos tale en wiskunde oorgedra kan word.

“Tieners maak op musiek staat as 'n sterk vormingsfaktor in die uitbouing van hul identiteit en dit is 'n hoogs subjektiewe, genuanseerde medium wat kreatiwiteit, samewerking en debat bevorder. Hulle gaan daagliks met musiek om, hetsy deur 'n koor- of instrumentale les, of deur passief na die radio, televisie of videospeletjies te luister."

Sy sê die eerste stap om 'n toekomsgefokusde musiekkurrikulum regoor basiese onderwys te implementeer, sal wees om skooladministrateurs en beleidsmakers op te voed oor die belangrikheid van musiek in onderwys.

“Ons het nie baie hulpbronne nodig om musiek te onderrig nie. Selfs sonder toegang tot musiekinstrumente kan leerders baat vind by die bestudering van musiek. Deur kreatiewe strategieë en toekomsdenkende pedagogiese metodes kan elke leerder – selfs dié in die skole met baie min hulpbronne – toegang hê en baat by die reusevoordele wat die bestudering van musiek inhou."

*'n Omgekeerde klaskamer ruil die onderrig wat gewoonlik gedurende die les in die klaskamer sou plaasvind en die werk wat tuis gedoen sou word, om – die “pratende onderwyser" vind deur middel van 'n video plaas wat tuis gekyk word, terwyl die leerder-gesentreerde proefnemings in die klas plaasvind. Dit stel die onderwyser in staat om die leerders te lei en te ondersteun gedurende hul selfgedrewe leer (wat gewoonlik tuis sou plaasvind).

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Angie Mullins

Redhill-skool

Johannesburg

E-pos: amullins@redhill.co.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 8084921

E-pos: viljoenm@sun.acza