Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US neem deel aan 8ste Internasionale Simposium oor Diensleer (ISSL 2021-22)
Outeur: Chevaan Peters
Gepubliseer: 21/06/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op 11 Junie 2021 met die Universiteite van Nicosia, Indianapolis en Indiana Campus Compact saamgewerk om die 8ste Internasionale Simposium oor Diensleer (ISSL 2021-22) virtueel aan te bied.

Die tema van die simposium was Kritiese diensleer wêreldwyd: Die transformasie van onderrig om sosiale aksie teweeg te bring, en die fokus was op veranderinge in hoër onderwys en die rol wat kritiese diensleer in sosiale transformasie speel.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het beskryf hoe diensleer al 16 jaar lank deel van die leer- en onderrigstrategie van die Universiteit is.

“Saam met ander ervaring- en aktiwiteitsgegronde onderwysleer, speel dit 'n belangrike rol om studente voor te berei vir uitdagings in hul toekoms. Die impak van diensleer op gemeenskappe en individue wat aan diensleerkursusse deelneem, ontwikkel studente as kritiese burgers wat agente van verandering en toekomstige leiers word," het hy gesê.

Die US het sosiale impak en transformasie volledig geïntegreer in die hooffunksies van leer en onderrig, navorsing en innovasie, en beskou hierdie verantwoordelikheid as 'n belangrike element van sy korporatiewe burgerskap.

Die simposium het 'n wye verskeidenheid bydraes aangebied om individuele belangstellings aan te spreek.

Die Direkteur van die US se Afdeling vir Sosiale Impak, Me. Ernestine Meyer-Adams (ISDL 2021-22, 1ste Medevoorsitter vir US en Voorsitter vir Diensleer by US), het saam met 11 ander akademici vanuit verskeie fakulteite by die US aan die simposium deelgeneem. Spesiale videoproduksies is ingesluit om akademiese werksaamhede ten toon te stel in sowel ʼn landelike as 'n stedelike konteks: Die Institusionalisering van Diensleer aan die US: Van Gemeenskapsinteraksie tot Sosiale Impak – Deel A en later in die program Die Institusionalisering van Diensleer aan die US: Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid – Deel B.

Me. Meyer-Adams het 'n oorsig gegee van die huidige konteks van sosiale impak deur middel van akademiese betrokkenheid en hoe akademiese betrokkenheid beleidskonteks skep vir die bevordering van sosiale impak deur betrokke leer en onderrig, navorsing en innovasie, en burgerskap aan die US.

Sy het beklemtoon hoe 'n fokus op sosiale impak, tesame met 'n stel institusionele waardes deur middel van 'n transformasie-agenda, institusionele verandering en transformasie vorm om meer inklusief en oop te wees, en beter op die behoeftes van die samelewing te reageer. Dít word bereik deur die bevordering van samewerking tussen die staat, private sektor, burgerlike samelewing en universiteit. Binne hierdie konteks, waar verhoudings gesmee en gekweek word en die aanvaarding van kritiese onderrigleer wederkerig is, word kennis oplewer om noodsaaklike maatskaplike uitdagings die hoof te bied.

Mnr. Jacob du Plessis (ISDL 2021-22, 2de Medevoorsitter vir US), dosent aan die Departement Sosiologie en Antropologie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het 'n institusionele en nasionale konteks gegee van hoe die US diensleer as 'n meganisme en katalisator geposisioneer het om die institusionalisering van akademiese betrokkenheid teweeg te bring. Hy het 'n historiese  oorsig en redes vir die klemverskuiwing verskaf,  insluitend die impak van wetswysigings in hoër onderwys.

Die US se deelname het die volgende akademici ingesluit: Prof. Henry Mbaya – Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, Fakulteit Teologie; Dr. Lesley Welman – Departement Geowetenskap, Fakulteit Krygskunde; Dr. Zelda Barends en Me. Agatha Lebethe – Departement Kurrikulumstudies, Fakulteit Opvoedkunde; Me. Pamela Kierman en Me. Felicia Lesch – Departement Musiek, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe; Dr. Rehana Malgas-Enus – Departement Chemie en Polimeerwetenskap, Fakulteit Natuurwetekenskappe; Dr. Annelin Molotsi – Departement Veekundige Wetenskappe, Fakulteit AgriWetenskappe; Me. Lindsay-Michelle Meyer en Me. Jana Müller – Departement Globale Gesondheid, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Hulpbronne van die simposium sal binnekort beskikbaar gestel word en toeganklik wees via die Sosiale Impak-kennisplatform.