Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Implikasies van COVID risikovlak 3 vir US
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 17/06/2021

17 Junie 2021

Beste personeel en studente

President Cyril Ramaphosa het vroeër vandeesweek die land na aangepaste risikovlak 3 toe verskuif. Dit is in reaksie op 'n landwye toename in koronavirus-infeksies met die gemiddelde aantal daaglikse nuwe gevalle wat verdubbel het.

Aangepaste risikovlak 3 hou verskeie implikasies vir personeel en studente in. Die aandklokreël is aangepas en sal nou van 22:00 tot 04:00 geld, en bykomende beperkings is op byeenkomste geplaas. Klik asb hier om die president se toespraak te lees vir verdere inligting.

Let asb daarop dat hoewel die aangepaste risikovlak 3-regulasies ook die hoeveelheid mense wat in binnenshuise lokale toegelaat word, reguleer, word die gebruik van hoëronderwyslokale onder COVID-19-omstandighede deur die voorskrifte van die departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) gereguleer. Dit maak voorsiening vir die Universiteit om wettiglik meer as 50 studente in 'n eksamenlokaal toe te laat indien al die gesondheidsprotokols nagekom word en 50% van die lokaal se kapasiteit nie oorskry word nie.

Volgens ons Mediese Advieskomitee is ons COVID-19-eksamenprotokols voldoende om 'n veilige omgewing vir die voortsetting van die komende A2- en A3-assesserings (van 21 Junie tot 24 Julie) in persoon onder toesig soos beplan, te verseker. 'n Aantal professionele liggame vereis ook geskrewe eksamens in persoon om die integriteit van die assessering te verseker. Aanlyn eksamens is vir baie studente ook 'n reuse-uitdaging weens internettoegang. Die Universiteit is in beginsel ook verbind tot die hoogste integriteit van ons assesserings en eksamens met toesig dra by tot hierdie doelwit.

Let asb op die volgende:

  • Alle lokale is toegerus met die geskikte ventilasie (oop deure/vensters en/of vryvloeiende lugfilters in lugreëlaarstelsels) en het kragopwekkers wat gereed staan.
  • Lessenaars in alle lokale is gemerk om die fisieke afstand van 1,5 m tussen studente te skep, soos deur die riglyne vereis. Verder is daar ook afbakenings op die vloer, asook plakkate en tekens.
  • Alle assesseringslokale sal ingevolge die protokol tussen die oggend- en middagsessies skoongemaak word.
  • Kampussekuriteit sal help met skarebeheer buite lokale.
  • Spesifieke protokols word gevolg om die COVID-19-risiko's wat gepaard gaan met personeel wat voltooide vraestelle by die Eksamenkantoor moet inhandig, te verminder.
  • Studente moet ook toon dat hulle 'n “skoon" resultaat op hul selfone van Higher Health se daaglikse risikobepalingsinstrument, HealthCheck (https://healthcheck.higherhealth.ac.za), ontvang het ten einde by 'n eksamenlokaal toegelaat te word. Oneerlikheid hieroor is 'n misdaad en kan tot dissiplinêre klagtes lei.
  • Jou temperatuur sal geneem word wanneer jy die eksamenlokaal binnegaan.
  • Dit is verpligtend vir alle personeel en studente om 'n masker te dra ten einde by 'n lokaal toegelaat te word. Jy sal versoek word om die lokaal te verlaat indien jy jou masker gedurende die eksamen verwyder of indien dit nie korrek gedra word nie.
  • Jy sal nie vir 'n skriftelike assessering in persoon toegelaat word nie indien jy duidelike COVID-19-verwante simptome toon.

Ons het die Eksamenkantoor versoek om die COVID-19-eksamenprotokols baie streng toe te pas. Indien dit op enige manier oortree word, moet die hooftoesighouer onmiddellik in kennis gestel word.

Ons neem die styging in die aantal infeksies op ons kampus en in die res van die land baie ernstig op. Ons besluite rakende COVID-19 en die invloed daarvan op ons kampusbedrywighede word deur wetenskaplike bewyse bepaal. Ons mediese kundiges hou die COVID-19-sitausie fyn dop soos dit ontvou en ons sal enige verandering in die toestand wat hulle aandui, in aanmerking neem. Die IKBV ontvang voortdurend die jongste nuus oor gebeure soos dit plaasvind en sal daarvolgens optree. Dit mag veranderinge op kort kennisgewing beteken en ons sal dit so doeltreffend moontlik kommunikeer.

Let asb daarop dat ons breedvoerige terugvoer op die vorige skrywe ontvang het, wat 'n versoek vir 'n vergadering van die SR ingesluit het. Ons het hul versoeke in ag geneem om die Rekenaargebruikersareas oop te stel en het data aan alle studente verskaf.

Kollegas en studente, kom ons verdubbel ons pogings om die eerste semester suksesvol te voltooi. Dra asb julle maskers, vermy plekke waar daar 'n samedromming van mense en swak ventilasie is, handhaaf 'n veilig​​e fisieke afstand van ander en was julle hande gereeld. Ek wil julle ook herinner aan die US se COVID-19-gedrag​skode​ wat die gedrag van US-studente, hetsy op of weg van die kampus af, reguleer.

Kollegas en studente, soos ons reeds voorheen versoek het, moet ons ons pogings verdubbel om die suksesvolle voltooiing van die eerste semester te verseker. Dra asb julle maskers, vermy plekke waar daar 'n samedromming van mense en swak ventilasie is, handhaaf 'n veilige fisieke afstand van ander en was julle hande gereeld. Vir die jongste nuus en inligting, raadpleeg asb die US se COVID-19-webblad gereeld.

Ek wens julle alles van die beste toe vir die finale voorbereidings en vir die eksamens.

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: IKBV​