Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USjeugdag: 'Geniet die klein dingetjies; droom die onmoontlike drome'
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 10/06/2021

Stehan Malherbe, 'n derdejaar BSc-student, glo dat die jeug hul plek in ons land moet volstaan, en dat hul gedagtes, aksies en drome die grondslag is waarop die toekoms van ons land gebou gaan word.  

​Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteit Stellenbosch se koor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

​Stehan het 'n tydjie afgeknyp om 'n paar vrae te beantwoord:

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

Ek het in Stellenbosch grootgeword. My gesin woon tans in Kleinmond, 'n klein kusdorpie naby Hermanus. Ek is besig met my derde jaar in BSc Chemie en Polimeer Wetenskappe. Ek het 'n groot passie musiek en om hegte bande met my vriende te smee.  

Ek sing al koor vandat ek vyf jaar oud is, en ek was nog nooit 'n oomblik spyt daaroor nie. Dit vul my met soveel vreugde! Om in die US Koor te sing, was nog altyd een van my drome. Ek onthou hoe senuweeagtig ek was vir die oudisie. Op die laaste dag waarop 'n mens kon inskryf, was ek op 'n plaas sonder enige selfoonsein. Ek het 'n opname van myself gemaak en moes teen 'n heuwel uitklim om sein te kry om my oudisie-video in te stuur. Dit was een van die beste besluite wat ek nóg geneem het.  

Wat geniet jy die meeste van die koor?

My gunstelingding van die koor is die lewenslange vriendskappe wat ek gemaak het, en die herinneringe wat my altyd sal bybly. Maar die belangrikste is die manier waarop hierdie gemeenskap, hierdie familie, 'n veilige ruimte skep waarin ek net myself kan wees. Die koor het my 'n stem gegee en 'n geleentheid gebied om hoop in ons land en regoor die wêreld te versprei. Die koor bied aan my die geleentheid 'n verskil te maak. 

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?

My boodskap aan die jeug van Suid-Afrika is dat julle plek moet opneem in ons land. Julle verdien dit om gehoor te word en julle moet daarop aandring om gesien te word. Jul gedagtes, aksies en drome vorm die grondslag waarop die toekoms van ons land gebou gaan word. Wees trots op julleself en dit wat julle al bereik het. Geniet die klein dingetjies in die lewe, maar droom die onmoontlike drome.

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?

My gunstelinglied is "When I was Your Man" deur Bruno Mars. Ek kan my daarmee vereenselwig en dit het 'n pragtige omvang. Ek kan nie ophou om dit te sing nie.