Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voormalige VN-hoë kommissaris lewer lesing oor menseregte by US
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 18/05/2021

Die voormalige hoë kommissaris vir menseregte by die Verenigde Nasies (VN), regter Navi Pillay, is vandeesweek die spreker by die 15de jaarlikse menseregtelesing van die Fakulteit Regsgeleerdheid by die Universiteit Stellenbosch (US).

Die lesing, met die tema South Africa's Engagement with International Human Rights Law, word eerskomende Donderdag, 20 Mei 2021 om 18:30 op MS Teams gehou.

Vanjaar se lesing, wat virtueel aangebied word, maak deel uit van die Regsfakulteit se Eeufeesvieringe en word deur die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg by die US, prof Sandy Liebenberg, saam met die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof Nicola Smit, aangebied.

Regter Pillay is in Suid-Afrika sowel as die wêreldarena vermaard as 'n menseregteprokureur en regter. Sy was as regspraktisyn by die verdediging van anti-apartheidsaktiviste en by die uitdaging van die menseregteskendings van die apartheidsregering betrokke. Sy was die eerste swart vrou om as 'n regter in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof aangestel te word. Daarna het sy verskeie uitgelese internasionale regsposisies beklee, insluitende as regter in die internasionale kriminele tribunaal vir Rwanda, as regter in die internasionale kriminele hof in Den Haag, en van 2008–2014 as die VN se hoëkommissaris vir menseregte.

Gedurende haar termyn as die VN se hoë kommissaris vir mense regte, het regter Pillay haar onderskei as 'n dapper en onafhanklike kampvegter vir die menseregte van benadeelde en gemarginaliseerde groepe. Sy het ook 'n aansienlike bydrae tot die bevordering van ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte gelewer, asook tot die reg tot ontwikkeling as 'n integrale deel van internasionale menseregtereg. Sy is onlangs op 'n ad hoc-grondslag as regter in die internasionale geregtigheidshof aangestel in die saak wat deur Gambië teen Mianmar aanhangig gemaak is in verband met die beweerde menseslagting van die Rohingya-bevolking.

“Gegewe regter Pillay se hoogs invloedryke nasionale en internasionale bydrae tot menseregte, is die Fakulteit Regsgeleerdheid verheug dat sy die uitnodiging aanvaar het om die 15de jaarlikse menseregtelesing, wat met die fakulteit se eeufeesviering saamval, aan te bied," sê Liebenberg.

Volgens haar is die tema van regter Pillay se lesing veral toepaslik gegewe die veelvoudige menseregte-uitdagings wat Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap in die gesig staar.

“Sy sal na verwagting beklemtoon hoe internasionale reg kan help om doeltreffende reaksies op menseregteskendings binne Suid-Afrika te ontwikkel, asook die rol wat die Suid-Afrikaanse regering en ander belanghebbers moet speel om tot doeltreffende internasionale reaksies op hierdie uitdagings by te dra," voeg Liebenberg by.

Foto met vergunning van die International Service for Human Rights.

  • Die jaarlikse menseregtelesing sal van 18:30 tot 20:30 op MS Teams gehou word. Registreer asseblief by https://forms.office.com/r/XPPm8Ydhtn. 'n Skakel na die geleentheid sal per e-pos aan alle deelnemers gestuur word.
  • Vir medianavrae, skakel prof Sandy Liebenberg by 082 202 3452 of stuur 'n e-pos na  sliebenb@sun.ac.za.