Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese aktivisme kan bydra tot volhoubaarheid van ons demokrasie
Outeur: Nuraan Davids
Gepubliseer: 17/05/2021

Ons hoër-onderwysinstellings kan ʼn belangrike bydrae lewer om die nalatenskap van ongelykheid en ongeregtigheid te help oorkom, skryf prof Nuraan Davids van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (14 Mei).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Nuraan Davids*

Debatte en konflik rondom die rol van hoër onderwys met betrekking tot demokrasie is geen nuutjie nie. Vir baie demokrasieë was dit egter nie nodig om die blywende uitwerking van kolonialisme én apartheid te oorkom nie. En vir geen ander was dit nodig om dieselfde tipe transformerende pad van politieke, maatskaplike, ekonomiese en opvoedkundige hervorming as Suid-Afrika te stap nie.

Die einde van Suid-Afrika se politieke stryd het beslis nie die einde van die demokratiese stryd beteken nie. In teendeel, die land se oorgang na 'n demokrasie het die behoefte aan verreikende hervorming en herstel vergroot. Hoër onderwys is nie net uiters gelaag ten opsigte van die demografie van studente en akademici nie, maar daar is ook aansienlike ongelykhede rakende akademiese aanbiedings, hulpbronne en geriewe. Dit word verder gekniehalter deur studente-afnames en onvoltooide grade – wat deur finansiële beperkings en onvoldoende akademiese ondersteuning veroorsaak word. Saam met hierdie wanverhoudings en uitdagings is daar ook toenemende probleme wat met sistemiese institusionele kulture van rassisme en marginalisering verband hou. Dit lei tot die voorkoms van toenemende vervreemding en verskuiwing van studente én akademici.

Skynbaar het die beloftes wat 'n demokrasie voorgehou het, soos uitgedruk in 'n treurmare van beleidshervorming, bitter min gedoen om historiese ongelykhede aan te spreek – tot so 'n mate dat dit 27 jaar ná 'n demokrasie aan die orde van die dag is om steeds na historiese ('wit') bevoorregte en histories minderbevoorregte instellings te verwys. Daar is dus spesifieke ontwikkelings en ervarings wat aan die Suid-Afrikaanse verhaal 'n afdoenende strekking verleen wat nie net iets van sy gebroke en skadelike geskiedenis sê nie, maar wat ook kommer laat onstaan oor die land se voortslepende broosheid. Dit is veral sigbaar in die toenemende voorkoms van gewelddadige studente-protesaksies, wat nie net iets sê van studente se intense frustrasie en woede nie, maar ook van 'n hopeloosheid wat nie sommer net afgemaak kan word nie.     

Tensy die narratief na 'n groter fokus op die rol van hoër onderwys met betrekking tot sy verantwoordelikheid in 'n demokrasie verskuif, teenoor 'n minimalistiese klem op transformasie in terme van syfers en verteenwoordiging, sal die bestaande broosheid tot verval lei. Een van die sleuteloorwegings waarop daar in hierdie verband gesteun kan word, is hernude begrippe en voorskrifte van akademiese aktivisme – dit is 'n gewillige aanvaarding van verantwoordelikhede wat verder as onderrig, leer, navorsing en skryfwerk strek, en wat uiters belangrik is vir die ontwikkeling en onderhouding van 'n demokrasie.

*Klik hier om Nuraan Davids, professor in opvoedkunde in die departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch, se volledige artikel te lees. Die artikel is gegrond op die boek, Academic Activism in Higher Education: A Living Philosophy for Social Justice (Springer, 2021) wat sy saam met Yusef Waghid van dieselfde departement geskryf het.

  • Foto deur Stefan Els