Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US reik uit na skole
Outeur: Student Recruitment and Career Advice | Studentewerwing en Loopbaanadvies
Gepubliseer: 17/05/2021

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies (SSW), het gedurende Mei skoolhoofde uit Bloemfontein, Kimberley, Oudtshoorn en George asook twee lede van hul studenterade onthaal.​

Die skole wat genooi is, verteenwoordig beide strategies geïdentifiseerde voederskole, asook skole in nuwe markte. Hierdie aangeleentheid was 'n gulde geleentheid om die Universiteit te posisioneer, persepsies in die skoolmark aan te spreek en die belangrike rol te erken wat hierdie skole in die uitnemende akademiese talent speel wat tot voorgraadse programme aan die Universiteit toegelaat word.

Die Rektor het erkenning gegee aan hierdie skole se waardevolle bydrae tot op hede en ook in die toekoms om die Universiteit te help om sy doelwitte te bereik. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om vennootskappe te versterk ten einde te verseker dat die US steeds toppresteerders se eerste keuse bly. Prof De Villiers het ook die feit benadruk dat die US 'n instelling is waar studente “meer keuses en groter toegang tot 'n beter toekoms" het.

'n Adviseur van die SSW het ook 'n voorlegging gedoen oor die nuwe aansoekproses op SUNStudent om die skoolleiers in staat te stel om terug te gaan na hulle skole/gemeenskappe en hulle eweknieë te help om by die Universiteit aansoek te doen.

“Geleenthede soos hierdie verskaf 'n platform waar ons onderling voordelige verhoudings kan handhaaf en bevorder," het Leon van den Heever, direkteur: SSW gesê. Die SSW wil graag visionêre skoolhoofde en passievolle studenteleiers erken en hulle vier. “Ons besef ons het mekaar nodig as ons die stelsel op 'n betekenisvolle wyse wil beïnvloed."